‘Humanitêre krisis’ in nedersettings
Die president ondersteun stappe om die oprigting van nóg onwettige sinkhuise te bekamp.
Augetto Graig - Die humanitêre krisis wat inwoners van die hoofstad se informele nedersettings daagliks ervaar, geniet tans die aandag van die land se hoogste besluitnemers.
President Hage Geingob het gister ’n afvaardiging van leiers in die sentrale regering, die Khomasstreek, en die hoofstad se raad en bestuur na Staatshuis ontbied om dié voortdurende ramp, asook oplossings daarvoor te bespreek.
Die munisipale kenner, prof. Faniel Maanda, het die omvang van die krisis verduidelik.
Hy het gesê daar is tans 87 informele nedersettings in en om die hoofstad.
Windhoek benodig N$1 miljard om die 26 mees gevestigde nedersettings in die stad te ontwikkel, het hy gesê.
Groei
Terwyl die hoofstad se bevolking na verwagting oor 23 jaar gaan verdubbel, vermeerder die hoeveelheid mense in nedersettings tans só vinnig dat húl bevolking binne 9,5 jaar sal verdubbel, het hy gesê.
Tans woon sowat 131 000 mense uit Windhoek se totale bevolking van sowat 394 000 mense in hierdie nedersettings.
Maanda het gesê die lewe in Windhoek se nedersettings kan met die wêreld se agterbuurte vergelyk word.
Inwoners is kwesbaar weens misdaad en ’n gebrek aan water, sanitêre en gesondheidsgeriewe, terwyl oormatige hitte, die voortdurende moontlikheid van brande, oormatige koue en kitsvloede hulle ook in gevaar stel.
Siekte
Swak toegang tot basiese dienste, die ophoop van vullis, ontbossing en woestynvorming, asook openbare ontlasting vererger dié omstandighede, en dra ook by tot die verspreiding van die hepatitis-epidemie wat die hoofstad verlede jaar getref het, het Maanda gesê.
Hy skat tot 8 000 nuwe mense vestig hulself jaarliks in Windhoek se informele nedersettings, met ’n gevolglike behuisingsbehoefte van sowat 2 000 huisgesinne.
Die voortdurende toestroming na veral die Havana-nedersetting het Windhoek se munisipaliteit genoodsaak om ’n draad te span om dié invloei te beperk.
Maanda het gewaarsku die mislukking om basiese dienste te verskaf kan tot meer misdaad en uiteindelik meer burgerlike onrus en minagting van die regering lei.
“Die stad kan onregeerbaar raak,” het hy gewaarsku.
Nóú is die tyd
Die burgemeester van Windhoek, mnr. Muesee Kazapua, het gesê die begin van die jaar is ’n goeie tyd om dié probleem aan te spreek.
“Mense is op soek na geleenthede,” het hy gesê.
Hy het ’n beroep gedoen op die streng toepassing van maatreëls om dít te bekamp.
Die munisipaliteit se uitvoerende hoof, die pas heraangestelde mnr. Robert Kahimise, het gesê die hoofstad se bestuur versoek dat ’n noodtoestand afgekondig word om te keer dat die situasie vererger.
“Daar is baie wat ons reeds doen, maar dit is nie genoeg nie,” het hy gesê.
Kahimise het gesê die gryp van grond en die onwettige oprigitng van informele huise verdubbel volgens die geskiedenis tydens ’n verkiesingsjaar.
Geingob het gesê die dringendheid van die situasie het niks te doen met die komende nasionale verkiesing later vanjaar nie.
Hy het gesê sy besluit om in te gryp is ’n regstreekse uitvloeisel van die resolusies van 2018 se tweede nasionale grondkonferensie.
Shack Dwellers bied hoop
Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het gesê omstandighede in Namibië se nedersettings is onmenslik.
Volgens haar word vennootskappe met die private sektor, asook die toepassing van ’n buigsame grondbesitstelsel en meer ondersteuning vir die Shack Dwellers Federation of Namibia (SDFN) as moontlike oplossings oorweeg.
Geingob het gesê die SDFN bou huise vir lede teen sowat N$40 000 per huis, terwyl privaat ontwikkelaars en selfs die regering se eie National Housing Entreprise (NHE) slegs huise teen N$300 000 elk kan verskaf.
Intussen ondersteun die president die benadering dat die Namibiese polisie meer moet doen om die bou van onwettige huise in die eerste plek te voorkom.
Volgens hom word die vryheid van beweging misbruik, wat Namibië se grondwet verseker.
“Daar is geen absolute vryheid nie,” het hy gesê.
“Kom ons moedig hulle aan om te bly waar hulle gebore is en waar hulle vandaan kom,” het hy gesê oor die talle mense wat gedurig Windhoek toe verhuis.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie