IMF sien pyn vir SA as rommelvlak kom
IMF sien pyn vir SA as rommelvlak kom

IMF sien pyn vir SA as rommelvlak kom

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) voorsien kopsere vir Suid-Afrika as sy plaaslike uitgereikte staatskuld tot rommel afgradeer word.
Twee van die internasionale graderingsagentskappe maak na verwagting Vrydag hul volgende besluit oor Suid-Afrika se staatskuldgradering bekend.

Die regering reik soos ander lande in die plaaslike en oorsese skuldmarkte staatseffekte uit om sy uitgawes en projekte te finansier.

Montfort Mlachila, die senior verteenwoordiger van die Internasionale Monitêre Fonds (IMF) in Suid-Afrika, het in ’n onderhoud gesê Suid-Afrika se fiskale probleme gaan toeneem indien die land se plaaslike skuld tot rommel afgegradeer word.

Kredietgraderingsagentskappe gradeer staatskuld om aan beleggers ’n idee te gee hoe groot die risiko van ’n wanbetaling is.

Die volgende besluit deur Moody’s en S&P kan beteken Suid-Afrika se staatskuld wat in die binneland uitgereik word, nie meer as beleggingsgraad beskou word nie. Dan gaan baie pensioenfondse en ander groot beleggingsfondse nie meer daarin mag belê nie omdat die risiko vir hulle te groot is.

Ander beleggers vereis ook dan hoër rente vir die risiko wat hulle neem, wat beteken die staat se finansieringskoste gaan styg.

As staatsondernemings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens se skuldlas toeneem en hulle meer staatsondersteuning soek, sal die regering moet help. Dit gaan beteken die bietjie ruimte in die begroting vir meer maatskaplike ondersteuning gaan verdwyn, sê Mlachila.

“As die huidige fiskale probleme nie gou genoeg gehanteer word nie, gaan dit beslis die marksentiment vererger en dit kan daartoe lei dat finansieringskoste verhoog,” maan hy.

“As daar niks tussen nou en die begroting in Februarie gedoen word nie, sal dinge op die fiskale front baie moeiliker word.”

Die nasionale tesourie het verlede maand met die mediumtermynbegroting sy vooruitskatting van die land se ekonomiese groei amper gehalveer na 0,7% se groei in 2017 en gesê staatskuld gaan styg.

’n Inkomstetekort van R50,8 miljard word in die boekjaar tot einde Maart 2018 verwag en skuld gaan teen 2021 tot 60% van die BBP gestyg het.

Die agteruitgang in die belangrike maatstawwe het die gevaar verhoog dat S&P en Moody’s Suid-Afrika se binnelandse uitgereikte staatskuld kan afgradeer. Fitch het reeds die binnelandse skuld op rommelgraad geplaas.

Mlachila sê Suid-Afrika het nog nie die IMF vir hulp genader nie.

“Indien Suid-Afrika die IMF om hulp nader, sal ons reg wees om te help.” – Netwerk24/Bloomberg en bygewerk

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!