IMF skiet rooi fakkel af oor SA groei
IMF skiet rooi fakkel af oor SA groei

IMF skiet rooi fakkel af oor SA groei

Die fonds waarsku die buurland sal sy staatskuld geleidelik moet verminder, en die staat se salarisrekening moet besnoei word.
Hanlie Stadler – Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het pas sy verwagting vir Suid-Afrika se ekonomiese groei vir 2019 tot net 1,2% afgeskaal.

Dit is die mees pessimistiese verwagting nóg van enige groot instansie. Dis 0,2 van ’n persentasiepunt laer as die IMF se eie voorspelling in Januarie. In 2018 het Suid-AFrika teen 0,8% gegroei.

Standard & Poor’s Global Ratings het ook Dinsdag sy nuutste verwagting bekend gemaak en dié gradeerder verwag 1,6%.

Die Wêreldbank het sy verwagting gister onveranderd op 1,3% gelaat.

Die IMF en Wêreldbank hou dié week hul lente-vergaderings in Washington.

Die tesourie (1,5%), Reserwebank (1,3%), Moody’s Investors Service (1,3%) en die 38 ekonome wat aan Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem (1,27%) is almal meer optimisties as die IMF.

Die IMF sê beleidsonsekerheid sal in Suid-Afrika ná die verkiesing op 8 Mei voortduur.

“Strukturele bottelnekke” plaas steeds ’n demper op beleggings en produktiwiteit, en die IMF reken dat hulpbronne se pryse – ’n belangrike bron van inkomste vir die land – laag sal bly.

Die IMF waarsku dat Suid-Afrika geleidelik staatskuld sal moet verminder, en dat die land voorkeur aan die besnoeiing van die staat se salarisrekening moet gee.

Dis al hoe die land maatskaplike steun aan kwesbare Suid-Afrikaners sowel as “produktiewe investering om groei ’n hupstoot te gee”.

“Oordragte aan staatsondernemings moet onderhewig wees aan afleggings en die uitwissing van vermorsing. Die fiskale konsolidasie moet ondersteun word deur die uitbreiding van die belastingbasis en deur belastingadministrasie te versterk en doeltreffende maatreëls in te stel teen belastingvermyding sodat winsverskuiwing verminder word.”

Dis nie net Suid-Afrika waarvan die groeiverwagting afgeskaal is nie. Die IMF het sy verwagting vir wêreldgroei met 0,2 van ’n persentasiepunt tot 3,3% afgeskaal en die VSA s’n met net soveel tot 1,8%. Die eurogebied se groei is onveranderd gelaat op 1,3% en China se groei is met 0,1 van ’n persentasiepunt tot 6,3% afgeskaal.

Die IMF waarsku dat die risiko’s wat teenwinde vir groei kan skep, baie hoog is. Handelspanning tussen die VSA en China, ’n laer wêreldvraag na hulpbronne en verskeie ander faktore het tot die laer verwagting gelei. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!