Internetbedryf sê oor 'Swart Donderdag'

Die nagenoeg 300 kliënte wie se telekommunikasielyne afgesny is toe die reguleerder toe­geslaan het op 'n ongelisensieerde diensverskaffer in die land, doen weer normaal sake.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die verliese wat gely is toe sowat 40 maatskappye in sleutelbedrywe soos finansiële dienslewering, kleinhandel en die reisbedryf vroeër vandeesmaand vir ten minste 'n dag of meer sonder internet- en kommunikasiedienste was, beloop na raming etlike miljoene Namibiese dollar.
Maatskappye soos Shoprite, Game, Old Mutual, Sanlam, Namibia Beverages, Ellerines, Beares en Sure Ritz Travel was van 15 Junie tot laat op 16 Junie sonder hierdie noodsaaklike dienste toe die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) die maatskappy Internet Solutions se telekommunikasiedienste afgeskakel het.
Dit is gedoen aangesien die maat­skappy, wat vanuit Suid-Afrika data-, wolk- en internetdiens aan kliënte in Namibië verskaf, nie gelisensieer is soos voorgeskryf in artikel 37(1) van die Wet op Kommunikasie nie.
Volgens mnr. Festus Mbandeka, uitvoerende hoof van Cran, is 'n lasbrief aan die reguleerder se inspekteurs uitgereik om Telecom Namibia en Paratus Telecom se datasentrums te ondersoek, waarna dié twee telekommunikasiereuse opdrag gekry het om die dienste van al Internet Solutions se kliënte af te sny.
Die rede daarvoor was dat Internet Solutions by beide Telecom Namibia en Paratus Telecom netwerkdienste gekoop en weer verkoop het.
“Cran het op 15 Junie met 'n lasbrief by ons en Telecom Namibia ingestap en gevra vir die lys van kliënte aan wie Internet Solutions deur middel van ons infrastruktuur kommunikasiedienste verskaf. Toe kry ons opdrag om al dié kliënte se dienste af te sny,” sê mnr. Barney Harmse, uitvoerende hoof van die Paratus-groep.
Hy sê sowat 300 kliënte se lyne was geraak, waaronder 40 of meer groot korporatiewe instellings.
“In die bedryf praat ons van Swart Donderdag omdat dit kommunikasie by soveel maatskappye lamgelê het. Daar was geen internet nie, geen e-posse kon ontvang of gestuur word nie en in sommige gevalle het telefone ook nie gewerk nie. Geen transaksies kon dus plaasvind nie. Die verliese van daardie dag beloop miljoene Namibiese dollar,” sê Harmse.
“Kritieke rolspelers in die ekonomie was geraak,” sê hy, maar verkies om nie name te noem nie.
Mnr. Theo Klein, besturende direkteur van Telecom Namibia, sê dit is baie moeilik om te skat wat die impak in terme van geldelike verliese was.
Hy het bevestig dat van die land se grootste kleinhandelaarswinkels soos Shoprite en Game geraak was, asook finansiële dienste maatskappye soos Old Mutual en Sanlam.
Klein sê Cran het met dié optrede 'n warm patat in die skoot van die bedryf gegooi. “Die vraag was wie het nou eintlik die telekommunikasiedienste verskaf – ons wat die netwerk beskikbaar gestel het, of Internet Solutions met wie die kliënte die ooreenkoms gesluit het?”
Klein sê Cran het egter bevestig dat Telecom Namibia nie wederregtelik, of buite die magte van sy lisensievoorwaardes opgetree het nie.
Harmse sê ná Cran se ferm optrede “het daar agter die skerms baie goed gebeur om seker te maak die regulerende owerheid word tevrede gestel”.
“Dit is gekompliseerd om na 'n nuwe telekommunikasiediensverskaffer oor te skakel en dit gebeur nie net sommer so nie. Daardie maatskappye was letterlik gestrand en moes uit hulle verknorsing kom.”
Volgens hom is besluit om Internet Solutions se kliënte na wettig gelisensieerde operateurs in die land oor te dra om verliese te beperk en hulle so vinnig as moont­lik weer aanlyn te kry.
Harmse sê hy het groot waardering vir die wyse waarop Cran uitvoering gegee het aan die reguleringswetgewing in die land.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!