Invalshoek - Bekamping van
Invalshoek - Bekamping van

Invalshoek - Bekamping van

Rudi Koekemoer
Die afgelope twee jaar se nasionale ekonomiese uitdagings en inkortings op besteding, tesame met die wêreldwye ekonomiese resessie, het 'n kommerwekkende uitwerking op sosio-ëkonomiese werklikhede in ons land.

Die media gons reeds die afgelope jaar oor die impak op verskeie sektore soos die konstruksiebedryf, wat tans bloed uit 'n klip probeer tap met talle wat op die afgrond van sluiting staan en gevolglik die aflegging van menigte werkers tot gevolg gaan hê. Mineraalpryse het 'n laagtepunt bereik, wat gelei het tot afleggings by verskeie myne met verdere afleggings wat in die gesig gestaar word.

Die stygende brandstofprys help nie die situasie nie, want dit het 'n impak op die kosmandjie, wat onbekostigbaar word vir mense wat deur afleggings of verlies aan inkomste geraak word. Internasionale ekonomiese beleid en politieke onstabiliteit in ons buurland het 'n impak op beleggingsvertroue en markte in die algemeen.

Die Namibiese Statistieke Agent­skap (NSA) se arbeidsmagondersoek het reeds die werkloosheidsyfer in 2016 op 34% beraam en ek vermoed dit is tans heelwat hoër. Die werklikheid is dat baie min mense wat tans afgelê is weer opgeneem word in die arbeidsmag omdat werkgewers hul arbeidskostes haarfyn bestuur en sommige het selfs aanstellings op ys geplaas tot die ekonomie weer herstel.

Hierdie feit, tesame met die werklikheid dat min nuwe private besighede gevestig word, wat die werkloses kan huisves, vererger die maatskaplike uitdagings. Die antwoord is nie om die staatsdiens te vergroot nie, want die staatsdiens is afhanklik van belastingbetalers.

Dus moet entrepreneurskap aangemoedig word.

Ons weet elke mens moet 'n dak oor die kop en kos op die tafel hê. Hoe gemaak indien iemand nie meer regkom by kommersiële banke of mikroleners nie?

Maslow se teorie sê iemand sal nie juis besorg oor sy eie veiligheid wees as hy nie 'n dak oor die kop of iets te ete het nie. Dit beteken misdaad sal toeneem omdat baie werklose mense die koue skouer by samaritane kry.

Iemand het onlangs reguit vir my gesê: “Daar is 'n punt wanneer jy jou beginsels oorsien en nie omgee oor jou eie reputasie nie, indien jou kinders en vrou nie kos op die tafel het nie. Dit is maklik om 'n eties-morele gesprek te voer wanneer jy werk het en nie bekommerd hoef te wees oor die dag van môre nie.”

Buurtwagte is besig om op byna elke dorp tot stand te kom, omdat misdaad merkbaar toeneem. Inwoners voeldie polisie en veiligheidsdienste lewer nie flinke diens om die probleem aan te spreek nie. Ons buurtwag is selfs besig om verskeie strate met sekuriteitskameras toe te rus. Betrokke inwoners betaal hiervoor.

Dit gebeur dat die polisiekantoor geskakel word, met die ontnugterende antwoord dat hulle nie 'n voertuig het om mee uit te kom nie. Dit laat mens hulpeloos en weerloos voel. Die enigste oplossing is om privaat te mobiliseer.

Die Mediumtermynbestedingsraamwerk het N$3 540 652 000 be­skikbaar gestel vir die 2018-'19-boekjaar vir die bekamping van misdaad, waarvan N$3 104 099 000 (87,67%) vir personeelonkostes, N$157 480 000 (4,45%) vir goedere en dienste en slegs N$279 073 000 (7,88%) vir die aankoop van bates was.

My aanname is baie geld word bestee aan die salarisse van polisiebeamptes wat in kantore sit en administratiewe werk moet doen.

Veiligheidsdiens­te wêreldwyd kan net hul werk doen indien hulle die nodige voertuie, toerusting en elektroniese toestelle het.

My hart gaan uit na polisiebeamptes wat 'n verskil wíl maak, maar nie die nodige hulpbronne het om dit te doen nie.

Dit los egter nie die probleem op nie en Jan Alleman is nou aangewese op buurtwagte, waarvoor mense hul tyd en energie opoffer sonder vergoeding vir dienste of brandstof sodat ons saans met gemoedsrus kan slaap.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!