Invalshoek - Diesel en Magic
Invalshoek - Diesel en Magic

Invalshoek - Diesel en Magic

Rudi Koekemoer
Ons het so pas in Swakopmund aangekom na 'n besoek aan die binneland waar ons uithouvermoë behoorlik getoets is deur die droë, warm klimaat.

Dit bly maar net eenvoudig 'n sielsverkwikking wanneer mens reeds by die Rössingberg die misbank op die horison sien en kan uitsien na 18 grade se genade op die stoep van die see. My voet word telkens so bietjie swaarder wanneer die vars seelug deur die kar se venster spoel.

Ons word gewoonlik deur ons hondekind, Diesel, 'n bruin Siberiese Husky, ingewag. Hy kondig altyd passievol ons aankoms in die buurt aan met 'n onaardige wolwehuil wat seker tot in die middedorp gehoor kan word. Dan moet ek so vinnig as moontlik die kar in die garage intrek, uitspring en die deur vir hom oopmaak voordat die buurmense deur hulle vensters begin loer.

Diesel, gegewe sy herkoms, is 'n sosiale vlinder en laat nie op hom wag wanneer die deur op 'n skrefie oopgestoot is nie. Hy druk gewoonlik die deur ongeduldig met sy neus oop, gerugsteun deur 45 kilogram gewig, en storm by my vermy. Hy hardloop dan eers 'n draai deur die huis om te kyk of alles veilig is en, veral, of sy kosbakke nog op die regte plek is.

Dan storm hy, stert krullende in die lug, op my af, al sniffende, om eers seker te maak daar is nie een of ander lekkerny wat in 'n broeksak skuil nie. Ek neem gewoonlik sy wollerige gesig in my hande en gee hom 'n groot drukkie waarna ek maar skelmpies vir hom 'n stukkie droëwors voer.

Natuurlik moet hy eers sit en voet gee, maar somtyds is hierdie ritueel en die stukkie droëwors se insluk in 'n oogwink verby. Dan waggel hy tevrede na sy kombersie by die normale lêplekkie naby die televisie van waar hy ons vir die res van die dag stip dophou, wanneer hy nie slaap nie.

Diesel is nou 12 jaar oud en is in die skadu van sy lewe indien die normale lewensverwagting in ag geneem word. Hy het heelwat skete wat begin kop uitsteek wat my nostalgies laat dink aan die afgelope 12 jaar se vreugde wat hy en sy ouboet, Magic, wat verlede jaar die stryd teen kanker verloor het, aan ons verskaf het.

Hulle was maar woelerig in hulle tienerjare en ons het nooit die voorreg gehad om tuin te maak nie, want hulle het snags die tuin herrangskik wanneer ons geslaap het. Selfs kaktusse kon nie oorleef in ons tuin nie en dus het ons maar net gras geplant wat met verloop van tyd begin lyk het of 'n asteroïede storm dit getref het.

Om die waarheid te sê, dit lyk steeds so! Dus vermoed ek ouderdom het nie juis vir Diesel rustiger gemaak nie.

Hulle “kryptonite”, soos met die meeste hondekinders, was vuurwerke. Ons moes jaar na jaar gedurende Nuwejaar vir Diesel en Magic troos en versorg wanneer selfsugtige, ongevoelige mense vuurwerke in munisipale gebiede afskiet. Maar, ten spyte van al hierdie uitdagings, koester ons elke oomblik wat ons saam met hulle gehad het en nog steeds met Diesel beleef.

Somtyds wanneer ek soos 'n donderwolk by die huis inwaai na 'n lang, frustrerende dag by die werk, en Diesel, stert in die lug, storm met opregte blydskap op my af vir 'n drukkie, waarna die wolwehuil volg, voel ek sommer beter en kan ek nie anders as om te glimlag nie. Dan vergeet ek sommer van my “sorge”.

Dit is wetenskaplik bewys (gaan Google dit gerus) dat troeteldiere 'n groot impak op mense se geluk het. Ek moet egter beklemtoon dat die teenoorgestelde ook waar is, want ons het net so 'n groot impak op diere se geluk.

Elkeen van ons moet die erns van die saak besef die dag wanneer jy 'n hond, kat, of enige ander troeteldier in die huis innooi. Daardie troeteldier sal in die meeste gevalle vir ten minste tien jaar deel van die familie wees.

Hulle word deel van die gesin en moet versorg word en daagliks liefde ontvang. Indien ons dit doen, sal hulle ons met vreugde inwag en ons sal onvergeetlike liefdesoomblikke ervaar.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!