Invalshoek u2013 Dissipline is die wagwoord
Invalshoek u2013 Dissipline is die wagwoord

Invalshoek – Dissipline is die wagwoord

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer – Ek het verlede week by ‘n winkel ingestap met my masker tot onder my oë opgetrek en die rekke wat my ore behoorlik bak trek.

Ek het al gewonder of ek blomkoolore gaan ontwikkel soos Bakkies Botha.

Nadat ek die register voltooi en my hande “gewas” het, het ek na die toonbank gestap om ‘n bestelling te plaas. Terwyl ek wag, hoor ek hoe iemand ‘n opmerking teenoor ‘n vriend maak: “Het jy gesien hoe sweet daardie man? Dink jy hy kan dalk siek wees?”

Daar was vir ‘n oomblik ‘n spanningsvolle stilte, waarna die antwoord vol huiwering aangebied is. “Jinne, sê nou net dit is Covid-19 ...”

Beide die persone het ‘n paar treë agteruit gegee om afstand met die man te vergroot.

Die arme verdagte het sportklere en tekkies aangehad. Hy het heel moontlik pas klaar geoefen.

Ek het al verskeie navorsingsartikels oor die mag van suggestie gelees. Suggestie het ‘n direkte impak op mense se persepsies en uiteindelik op hul optrede.

Suggestie word soms gebruik om mense se denke, verwagtinge en gedrag te manipuleer. Suggestie kan onbewuste aannames oor mense of omstandighede veroorsaak. Groepe mense kan selfs hierdeur gestereotipeer word.

Dink net aan sogenaamde onskuldige opmerkings soos: “Ek het gister Jan se kar by San se huis gesien staan.” Of: “Wees versigtig vir daardie tandarts.” “Daardie man is slinks.” “Trokdrywers versprei die virus.” “Walvisbaai is die oorsprong van alle Covid-19-gevalle.” Ensovoorts.

Die afgelope weke is daagliks verslag oor die toename van die infeksiesyfer gelewer. Telkens was Walvisbaai, as dorp, uitgesonder wanneer statistiek deurgegee is, maar wat ander gevalle is na streke soos Oshana, Khomas en Hardap verwys en nie na spesifieke dorpe nie.

In ander streke is ook verskeie dorpe, maar die feit dat hulle nie by die naam genoem word nie, maak die boodskap minder persoonlik en mense kan dalk afsydig teenoor sulke inligting staan.

Die feit dat Walvisbaai uitgesonder word, maak dit baie persoonlik. Dit skep persepsies van “melaatsheid” en dat hierdie inwoners agter slot en grendel gehou moet word.

Windhoek is al by die naam genoem, asook Mariental, Oshakati en Katima Mulilo – maar plekke word nie altyd konstant verstrek nie. Is die manier van verslaglewering beïnvloed deur suggesties wat gelei het tot persepsies wat nou bepaal hoe inligting oorgedra word?

Persepsies kan groot gevare inhou.

Gevalle kom nie net in Walvisbaai voor nie. Die fokus is tans op Walvisbaai, maar soortgelyke, aggressiewe toetsing geskied nie in ander streke en dorpe nie.

Die res van Namibië is in Fase 4 en mense gaan doodluiters aan met hul dagtake. Mense kan oorgerus raak en gevolglik nie meer besef hoe maklik oordrag kan plaasvind nie. Die virus het moontlik reeds baie verder versprei as wat ons dink.

Meer wydverspreide toetsing kan die prentjie verander en dit meer realisties inkleur.

Ongeag waar ons woon, moet ons steeds streng dissipline aan die dag lê. Was daai hande, behou die nodige afstand en dra jou masker – selfs al kry jy blomkoolore.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!