Invalshoek - Leiers moet hulself blootstel
Rudi Koekemoer - Ons is bevoorreg om tans in Brittanje te reis, maar ek bly nuuskierig oor wat alles in ons pragtige land van kontraste aangaan.
Soggens kan ek nie wag om die hoofopskrifte van die “Blou Bollie” op my slimfoon te lees nie, terwyl ek my eerste koppie boeretroos geniet. Vanoggend lees ek die opskrif raak: “Betaal jou 2% of belasting styg”. Natuurlik het die nuuskierigheid my onmiddellik beetgepak en ek kon ek nie wag om agter die kap van die byl te kom nie.
My eerste reaksie, nadat ek die artikel gelees het en besef het dat dit om onder meer droogtehulp gaan, was dat ek natuurlik ‘n vrywillige bydrae sal maak, want baie van my vriende is boere.
Nadat ek my tweede koppie koffie gedrink het en oor die saak nagedink het, het ek besef dat die aanvanklike klem op “vrywillige bydrae” verlore raak in die ultimatum dat belasting sal styg indien almal nie ‘n bydrae maak nie. Dit laat eintlik nie vir landsburgers ‘n keuse nie, óf altans, dit is soos dit voorkom.
Ek is nie ‘n kenner wanneer dit by politieke aangeleenthede kom nie, en wil liefs nie daarby betrokke raak nie, maar was nog altyd trots op die idee dat Namibië ‘n demokratiese land is waar elke landsburger vrye keuses kan uitoefen binne bepaalde kontekste.
Ek was vasgenael voor die televisie gisteraand terwyl die aanbieder, Pierce Morgan, die skadu minister van buitelandse sake van Brittanje, Emily Thornberry, teen die toue gehad het oor verskeie onderwerpe, wat Brexit ingesluit het. Dit was vir my fassinerend hoe die aanbieder van die program eenvoudig nie bes gegee het alvorens Thornberry sy vrae direk beantwoord het nie.
Sy moes haar party se standpunte verduidelik tot so ‘n mate dat sy in ‘n stadium haar humeur verloor het omdat sy nie rasionele antwoorde, wat deur feite ondersteun is, kon gee nie. Wat hierdie onderhoud vir my meer besonders gemaak het, was dat Thornberry nie die onderhoud hoef te gedoen het nie, maar dat sy vrywillig ingestem het om haarself bloot te stel. Dit was ook opvallend dat die onderhoud ‘n interaktiewe gesprek was en nie ‘n eensydige persverklaring, sonder enige interaksie nie, soos wat gereeld in Namibië gebeur.
Dit is vir my verfrissend hoe leiers, selfs op die hoogste vlakke, deur gewone landsburgers tot verantwoording geroep kan word. Dit beklemtoon die demokratiese beginsel dat elke leier deur gewone burgers verkies is om hulle belange te verteenwoordig en dat leiers in diens van die mense staan wat hulle verkies het en nie andersom nie.
Leiers, soos die meeste mense, kan verlei word deur hulle ego’s omdat hulle magsposisies beklee en daarom is dit juis belangrik om gereeld gekonfronteer te word deur gewone landsburgers oor hulle standpunte, beleidsbesluite en optredes. Kyk net wat tans in die VSA gebeur waar die president, Donald Trump, moet antwoorde gee oor sy optredes in die politieke arena en oor moontlike konflik van belange.
Die Britse premier, Theresa May, kon ook nie eensydig haar Brexit-plan implementeer nie, want dit was nie verteenwoordigend van die burgers se wense nie.
Ek dink dit het tyd geword dat die leiers in ons land ook die tafel dek waar beleidsbesluite bespreek word met landsburgers oor aspekte wat hulle raak en waar daar nie besluite gemaak word wat 'n mens laat dink aan diktatoriale bestuurstyle waar dreigemente gemaak word indien burgers nie doen wat beveel word nie.
Sal dit nie wonderlik wees indien daar gereelde interaksie met leiers kan wees wat bereid is om hulself bloot te stel aan vrae om besluite te verduidelik of om konsepte, idees en selfs alternatiewe oplossings te bespreek nie?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie