Invalshoek - Mense lééf wat hulle sien
Rudi Koekemoer - Die meeste Namibiërs wat gereeld besoek aan Swakopmund aflê, sal sekerlik al by die Village Café gaan ontbyt geniet het.
Ons het Vrydagoggend halfnege die sakekern aangedurf terwyl die son helder geskyn het. Voor die Ooswind om tienuur die belofte van binnelandse reën aangekondig het.
Die personeel het ons welkom geheet met 'n opregte, vriendelike groet: “Môre, môre, waar kan ons vir julle 'n tafeltjie inrig?"
Ons het ons oudergewoonte by 'n binnehoftafeltjie tuisgemaak en vir elkeen 'n groot koppie cappuccino met room bestel. Ons het sommer geklets oor die afgelope week se wêreldgebeure in lande soos Hongkong, die VSA, Noord-Korea en die Britte se uitdagings met Brexit. Daarna het ons 'n draai by plaaslike gebeure gemaak en die afwesigheid van aanspreeklikheid vir honderde miljoene se geld wat verduister is en die uitlatings op leierskapvlak dat ons land se korrupsieprobleem nie eintlik só groot is as wat berig word nie. Die algemene sosioëkonomiese uitdagings wat kommerwekkende afmetings aanneem, is sugtend betreur.
Ons het ook 'n ligter oomblik beleef toe ons gesels het oor 'n onlangse gesprek met 'n Amerikaanse toeris wat deurlopend na African flowers verwys het. Ek het beleefd geluister na sy stories, maar kon dit later nie meer uithou om hom te vra wat hierdie African flowers dan nou is nie. Tot my ontnugtering het hy die term gebruik vir al die plastieksakke en rommel wat oor ons land besaai lê. Hy wou weet of ons nie kinders, en selfs grootmense, leer hoe om die omgewing te bewaar en 'n trots te koester vir netheid en die algemene skoonheid van ons mooi land nie.
Ná ons spek en eiers gekom het, het ons stilweg die ontbyt geniet en ek het bewus geword van die meubels se vrolike kleure wat deur die buitengewone sonskyndag opgehelder is. Die Afrikatema was mooi vasgelê in die detail van die dekor asook die personeel se drag. Eenkant het 'n rooi VW-kombi gestaan wat ingerig was vir mense om in te kuier.
Daar was nie 'n tafel oop in die res van die plek nie, maar tog was daar 'n rustige atmosfeer en het mense van verskeie nasionaliteite en etnisiteit in harmonie saam die vriendelike, skoon omgewing geniet. Almal het rustig met hul eie sake aangegaan binne 'n vriendelike en vreedsame omgewing.
Telkens het mense wat klaar gekuier het hul rekeninge betaal en plek gemaak vir die volgende gaste. Dan is die tafels eers mooi skoongemaak voordat die volgende mense uitgenooi was om aan te sit. Daar was 'n bepaalde orde en almal het spontaan, en sonder om eers daaroor na te dink, gedissiplineerd opgetree. Daar was geen reëls wat op borde geskryf was nie en daar was niemand wat aangekondig het hoe mense moes optree nie.
Ek dink hierin lê 'n belangrike les opgesluit.
Die mens tree in die algemeen op 'n bepaalde manier binne 'n bepaalde omgewing en konteks op. Mense se gedrag word onbewustelik deur die gedrag van ander beïnvloed.
Indien iemand daagliks in 'n omgewing werk en leef waarin daar orde, dissipline en bepaalde eties-morele beginsels uitgeleef word, sal die meerderheid mense dieselfde gedrag openbaar. Die teenoorgestelde is ook waar: Indien iemand daagliks blootgestel word aan onetiese en immorele optrede waar geen dissipline is nie sal dit tog onbewustelik 'n boodskap na ander stuur dat die optrede aanvaarbaar is.
Indien leiers in 'n woonomgewing die standpunt inneem dat dit onaanvaarbaar is om rommel te strooi en streng optree teen mense wat hierdie reël oortree, sal die land skoon wees, want almal sal op 'n bepaalde manier optree.
Wat sal die gevolge wees as ons toelaat dat miljoene dollars verduister word en niemand aanspreeklik gehou word nie en ons 'n blinde oog gooi oor die maatskaplike verval van ons samelewing? Sal dit nie wonderlik wees as ons die dissipline en orde wat só natuurlik en spontaan plaasvind by 'n eetplek soos die Village Café op nasionale skaal kan toepas nie?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie