Invalshoek - Nasionale introspeksie
Rudi Koekemoer - Ons het verlede Sondagaand met gevoelens van ongeloof en afgryse na die TV-insetsel oor die Namibiese viskwotaskandaal gekyk.
Die media gons reeds die afgelope weke oor hierdie skandaal, wat die nasie tot in sy fondament geskud het juis omdat na bewering kabinetministers betrokke was by gekompliseerde geldwasserystrukture en korrupsie wat die land se waardevolle hulpbronne geplunder het. Natuurlik weet ons nie vir hoe lank en tot watter mate dié korrupsie reeds aan die gang was voor alles op die lappe gekom het nie. Die dramatiese ironie is dat die minister van justisie na bewering betrokke was.
Ek het na die tyd nagedink oor hierdie petalje en gewonder hoekom daar nou eers so vinnig opgetree word teen hierdie onaanvaarbare gedrag terwyl so baie mense in ons land reeds vir soveel jare gebuk gaan onder armoede en onder haglike omstandighede ‘n sukkelbestaan moet voer.
Daar was reeds die afgelope twee dekades gereeld voorvalle van hierdie aard waaroor die media verslag gedoen het, byvoorbeeld skandale by die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC), nasionale pensioenfonds, SME-bank, nasionale spoorweë met die aankoop van lokomotiewe, die nasionale lughawe-owerheid met beweerde senior amptenare se inmenging by tenders, suggesties van korrupsie met die toekenning van eksplorasie-lisensies en menigte ander voorbeelde van korrupsie, selfs op kleiner skaal, soos wanneer kwalifikasie vervals is of geskenke gegee word in ruil vir kontrakte. Ek dink lesers kan aan nog vele ander voorbeelde dink wat oor die jare oopgevlek is.
Histories is die meeste mense wat by hierdie korrupsie geïmpliseer was en waar bewyse voorgelê was, nie suksesvol vervolg nie weens tegniese redes. Ek kan nie aan baie suksesvolle vervolgings dink waar korrupsie op 'n groot skaal gepleeg was nie. Dit is asof skuiwergate in die regstelsel telkens gebruik word om beskuldigdes te beskerm, veral wanneer mense van hoë aansien betrokke was.
Ek vermoed die grootste rede vir die huidige optrede teen die beweerde oortreders is omdat die skandaal deur die internasionale media verkondig is en Namibië onder internasionale druk is om op te tree. Ek is seker hierdie soort optrede is nie nuut nie en dat baie rolspelers reeds vir geruime tyd bewus was hiervan, maar dat dit net iets was waaroor niemand gepraat het nie. Ek kan nie help om te wonder of daar opgetree sou word indien die saak nie in die internasionale kalklig beland het nie.
Die probleem wat baie lande in die gesig staar, is dat korrupsie onbewustelik deel van die nasionale kultuur word. Dit begin by klein dingetjies soos ‘n kliënt wat ‘n ekstra fooitjie moet betaal aan ‘n staatsamptenaar om vinniger diens te ontvang of ‘n verkeersbeampte wat omkoopgeld aanvaar.
Korrupsie behels nie net groot bedrae geld nie, maar het te make met daaglikse gewoontes wat later aanvaarbare praktyk in sommige se oë word - sonder dat daaroor gepraat word. Dit gaan oor die progressiewe erosie van etiese en morele waardes en beginsels sonder dat daar enige gevolge is.
Indien iemand gereeld wegkom met sulke optrede en selfs deur die regsbank “beskerm” word, hoekom sal hy sy optrede verander?
Ek dink my groot teleurstelling is dat my onbewustelik jarelange vermoedens bevestig is dat leiers van ons land, wat veronderstel is om die voorbeeld van die regte gedrag te stel, betrokke is by beweerde grootskaalse korrupsie. Daar is reeds talle grappe in omloop oor die visskandaal en sommige mense brandmerk Namibië as 'n uiters korrupte land.
Dit is die plig van elke landsburger om nie meer apaties te staan teenoor verkeerde gedrag nie. Dit beteken dat elkeen van ons introspeksie moet doen, moet besluit om nie deel van kleiner vorme van onetiese optrede te wees nie en om onverdraagsaam daarteenoor te staan.
Ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons nageslagte om ‘n land te skep wat bo verdenking staan.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie