Invalshoek - Optiese illusie
Rudi Koekemoer - Somtyds kom klop nostalgie aan die deur, veral wanneer mens tyd het om op die stoep te sit en dink met ‘n koppie koffie in die hand.
Ek het destyds die voorreg gehad om vir ‘n paar jaar in Rosh Pinah te werk. Dit was juis hier waar ek ‘n diep liefde vir die Suide van ons land ontwikkel het, veral omdat die Kunstenaarshand ‘n unieke landskap geskep het met ‘n hemelse palet van kleure.
Ons het besluit om tydens een van ons vakansies geduldig die Weskus te verken met ons Landrover Defender, via Oranjemund en Namakwaland, tot in Kaapstad. Ons het besluit om met die terugrit by al die Weskusdorpies aan te gaan om die unieke karakter te kon beleef.
Nadat ons by Lambertsbaai gaan aanklop het, het ons ‘n grondpad binneland toe aangepak. Natuurlik het ons baie koffie op die tog geniet en moes toe ‘n gepaste aftrekplekkie soek om water af te slaan. Die pad het na so 'n paar kronkels ‘n reguit stuk pad blootgelê.
Ek het toe besluit om net so voor ‘n bultjie in die pad af te trek. Dit was egter my gewoonte, gegewe die kar wat ons gery het, om nie die handrem op te trek nie. Ons het sommer die deure van die Landy oopgelos, uitgespring en al staande en sittende aan die nodige aandag gegee.
Ek het met my rug na die Landy gestaan terwyl my vrou nader stelling ingeneem het. Ek was so in die helfte van die proses toe ek my vrou hoor skree.
Met die omkyk, sien ek dat die Landy sommer vanself die pad aangepak het. Gelukkig was die enjin afgeskakel.
Ek het my persoonlike dinge kortgeknip en die Landy begin inhardloop terwyl my vrou ook agterna begin hop het tot sy haar broek weer kon opkry. Sy is so bietjie meer atleties (en jonger) as ek en kon gelukkig eerste by die passasierskant inspring en die handrem optrek.
Ons het eers lekker geskater oor die petalje en opgemerk dat dit goed was dat daar nie enige ander mense op daardie stadium daar verby gery het nie, want dit sou baie vreemd gelyk en gevoel het.
Ons besef toe dat die bultjie eintlik ‘n optiese illusie was en dat die pad eintlik ‘n afwaartse helling gehad het. Geen wonder die Landy wou self verder die roete aanpak nie!
Dit gebeur so baie in mens se persoonlike lewe dat alles so met die oog af goed lyk, maar eintlik is daar gevaarlike risiko’s wat skuil.
Ons land se ekonomie het vir die meeste landsburgers heel aanvaarbaar voorgekom die afgelope vyf jaar en dus het ons maar voortgegaan om met die normale pas die pad aan te durf, sonder om te besef dat dit eintlik ‘n optiese illusie was.
Die skokgolwe van die nasionale inkorting op besteding, asook verskeie ander fiskale strategieë, word steeds in alle sektore gevoel. Ek moet egter die huidige leiers in die finansiële sektor ‘n pluimpie gee dat hulle 'n verdere beleggingsafgradering kon verhoed midde die huidige ekonomiese krisis.
Ons kan nie veel aan die makro-ekonomiese landskap doen nie, maar ek wil tog ‘n beroep op elke individu doen om meer konserwatiewe spanderingspatrone te handhaaf en om onnodige skuld ten alle koste te vermy. Hou maar bietjie vas aan die kontant en probeer om nie te veel kapitaal-intensiewe projekte aan te pak nie. Betaal die skuldjies stelselmatig af en geniet die sorgelose gevoel van ‘n kleiner skuldlas. Ons moet maar eers tevrede wees met wat ons tans het en prioriteite bepaal vir waarop ons geld spandeer.
Werk is skaars en daar word voorspel, gegewe die huidige afleggings in die konstruksiebedryf asook verskeie ander bedrywe, dat dit nog skaarser gaan word. Hou maar eers vas aan jou huidige werk, al is dit nie jou droomwerk nie, want daar moet kos op die tafel gesit word.
Byt vas!
Ek weet dis nie altyd lekker om die handrem op te trek nie, maar soms is dit die regte ding om te doen om seker te maak dat ons nie met ons broeke op ons knieë gevang word nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie