Invalshoek - Prestasiebestuur
Invalshoek - Prestasiebestuur

Invalshoek - Prestasiebestuur

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - Nostalgie het my verlede week teruggevoer na die Universiteit Stellenbosch, my alma mater, terwyl ek na ‘n Varsity Cup-rugbywedstryd gekyk het.

Ek was destyds bevoorreg om toelating tot Huis Marais, sekerlik die kleinste manskoshuis op die Bos, te kry. Huis Marais was algemeen bekend as die Namibiese manskoshuis en het gespog met ‘n ryk sportgeskiedenis wat verskeie Springbokke opgelewer het.

Rugby was deel van die DNS van die manne, maar motorsport het vir tyd belangrik geword toe Giniel de Villiers as eerstejaar by die deur ingestap het. Namibiese rugbyspelers saam met wie ons glorie-oomblikke in my era gedeel het, het Janneman Brand, Bachelor Lofty-Eaton, Cronje Lofty-Eaton, Ronald Weber, Wiid de Wet en verskeie ander ingesluit.

Ons was jonk en fiks en het kans gesien om enige span te troef, soms tot ons eie nadeel, weens naïwiteit. Ek onthou dat sommige spelers tot drie agtereenvolgende wedstryde gespeel het; Woensdag vir die derde span, Donderdag vir die tweede span en dan Vrydag vir die eerste span. Vandag kan ek myself nie indink hoe ons dit reggekry het nie, want later jare kon ek beswaarlik een wedstryd ‘n week gespeel het.

Huis Marais, soos sekerlik vele ander koshuise, het ‘n wenkultuur gekoester waarin elke man vir die persoon langs hom gespeel het. Ons het na mekaar se belange omgesien en geweet dat indien iemand nie sy kant gebring het nie, die hele span daaronder sou ly en dan die onderspit sou delf.

Ons het ‘n intieme sin vir verantwoordelikheid gehad om die kultuur te bewaar, want dit het tot hoë vlakke van motivering en prestasie aanleiding gegee. Die vestiging van ‘n wenkultuur het harde oefening, dissipline en deursettingsvermoë geverg. Soms moes ons uit ons foute leer, maar ons het nooit moed opgegee nie.

Dit was ‘n eer om die span se groen trui oor die kop te kon trek en die stewels in die swaar gras, wat met winterreën deurweek was, te kon inskop. Ons beloning na ‘n harde wedstryd in die koue Boland-winter was ‘n bier en die reg om oor die wen te kon spog.

Dit is vir my opvallend hoe teleurgesteld ons is wanneer die rugbyspan wat ons ondersteun, ‘n wedstryd verloor. Indien die span ‘n paar naweke ná mekaar verloor, eis ondersteuners dat nuwe spankombinasies oorweeg moet word en dat spelers wat gedurig swak presteer deur beter spelers vervang moet word. Soms kom die afrigter en bestuur se poste ook in gedrang.

My vraag is: hoekom pas ons hierdie prestasiebeginsels op alle vlakke van die samelewing toe, maar vir die een of ander rede ag ons dit nie as belangrik in die professionele werksomgewing nie? In die werksomgewing word “spelers” juis vergoed vir hulle kennis en vaardighede. Moet ons nie juis strenger wees nie in die beroepslewe en prestasie eis, want dit het ‘n direkte impak op die ekonomie en sosio-ekonomiese omstandighede van ‘n land.

Myns insiens moet prestasiebestuur verpligtend wees vir alle soorte organisasies, in alle sektore, met duidelike spandoelwitte. Daar moet rekenskap gevra word van werknemers oor hul prestasie, ongeag hulle posisie.

Namibië kan net ‘n wenkultuur vestig deur mense verantwoordelik te hou vir span- en individuele doelwitte. Dit behoort ook maklik te wees om hierdie wenkultuur te vestig indien ons passievol ons roeping in die lewe vervul, elke spanlid se unieke talent erken en aanwend tot voordeel van die groter visie. Ons moet mekaar verantwoordelik hou en ondersteun om die drieë onder die pale te gaan druk.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!