Invalshoek - Terug na die basiese beginsels
Invalshoek - Terug na die basiese beginsels

Invalshoek - Terug na die basiese beginsels

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - Daar is weer ‘n reddingsboei gegooi vir verskeie staatsinstellings in die nuwe nasionale begroting.

Hierdie ondernemings is reeds vir dekades finansieel onvolhoubaar en ‘n las op die staatskas, wat jaarliks geld moet bymekaarskraap om bankrotskap en die aflegging van duisende mense te verhoed. Hierdie ondernemings spandeer jaarliks miljoene om strategieë te formuleer en gebruik dit dan as basis om vir meer hulpbronne te vra.

Gewoonlik gaan hierdie omkeerstrategieë gepaard met die aanname dat indien groot kapitale uitlegte en ontwikkelings gedoen word dit ekonomieë van skaal sal ontsluit wat die onderneming wonderbaarlik uit die diep put van wanbestuur en bankrotskap sal red. Kreatiewe berekeninge word gemaak en onrealistiese aannames gemaak om die omkeerstrategie se motivering vir kapitaalinspuitings te rugsteun.

Om die waarheid te sê: ek kan nie dink aan enige van hierdie omkeerstrategieë wat die gewenste uitkomste opgelewer het nie, ten spyte van die feit dat honderde miljoene se kosbare geld jaarliks hieraan bestee word.

Daar word telkens eksterne faktore voorgehou as rede vir die onvermoë om die regte, moeilike besluite te neem. Hierdie jaar saai die Covid-19-pandemie verwoesting onder private sakeondernemings wat nie die voorreg het om ‘n reddingsboei uit die staatskas te ontvang nie. Ironies genoeg voed die privaatsektor die staatskas.

Inteendeel, dit is juis die privaatsektor wat ‘n reddingsboei verdien, want dit is hulle belastingbydraes wat onoordeelkundig bestee word om jarelange onvolhoubare staatsinstellings van verdrinking te probeer red.

Op dié stadium word alle finansiële probleme voor die deur van die pandemie gelê, wat nie noodwendig regverdig is nie. Veral nie wanneer dieselfde instansies reeds vir dekades parasities die lewensbloed uit die land se kosbare hulpbronne suig nie.

Enige suksesvolle onderneming het gewoonlik ‘n sakemodel wat op skaal groei volgens die vermoëns van die onderneming. Indien die model lewensvatbaarheid verseker en winste oplewer, kan die model net progressief herhaal word, maar op groter skaal.

Myns insiens maak dit nie sin vir kapitaalintensiewe staatsondernemings om verdere kapitale uitlegte aan te gaan indien die bestaande model nie eens lewensvatbaar bestuur kan word nie. Die probleem word nie aangespreek nie, maar word eksponensieel vergroot indien die model nie werk nie.

Ek hou van hierdie definisie van waansin: om dieselfde dinge oor en oor te doen, maar ‘n ander uitslag te verwag.

Ondernemings gaan die werklike uitdagings eers moet oorkom voor daar waardevolle geld gemors word op dieselfde optrede en besluite wat nie lewensvatbaar is nie. Dit sal ook kreatiewe denke verg om bestaande stelsels, prosesse en praktyke te hersien en selfs te herontwerp.

Basiese beginsels en goeie praktyke in die bepaalde bedryf moet nagestreef word. Dit verg mos nie ingenieursvernuf om te weet dat jou inkomste nie jou uitgawes moet oorskry nie. Dan is daar finansiële verhoudings wat nagekom moet word, soos dat jou arbeidskostes beperk moet word tot tussen 20 tot 35 persent van totale inkomste. Hierdie verhouding verskil van bedryf tot bedryf.

Die basiese beginsel bly egter dat die inkomstemodel die bedryfskostes moet dek. Indien arbeidskostes nie meer lewensvatbaar is nie, beteken dit nie noodwendig dat mense afgelê moet word nie. Daar kan onderhandel word oor hergestruktureerde vergoeding.

Staatsinstellings moet basiese beginsels, onder meer oor finansiële en menslikehulpbronnebestuur, eers onder die knie kry en seker maak die bestaande sakemodel werk alvorens verdere kapitale uitgawes aangegaan word, of meer mense aangestel word om die werk van onproduktiewe personeel te doen of om ‘n uitgediende sakemodel waansinnig na te volg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!