Jaar van frustrasie vir Desert Storm
Die afrigter Imms Moses het hom uitgespreek oor die stand van die plaaslike sport.
Andrew Poolman - Die rolle van bokspromotors en gimnasium-eienaars behoort geskei te word, want botsende belange word geskep wat Namibië se kosbare talent laat wegkwyn.
Dit is hoe boksers se loopbane benadeel word – soos Sakaria Lukas (Desert Storm), vir wie die ganse 2018 verbygegaan het sonder dat hy in aksie was en wat gevolglik van sy WBO Afrika veergewigtitel gestroop is.
Nadat Lukas hom tot die nommer twee van die WBO opgewerk het en 'n moontlike aanspraakmaker op 'n wêreldtitelgeveg was, het hy ondanks sy onoorwonne rekord (21-0, 14 uitklophoue) van die ranglys van dié wêreldbeheerliggaam verdwyn.
Sake het buite die kryt vir Lukas begin skeef loop toe hy sy bande met sy promotor Nestor Tobias verbreek het, nadat laasgenoemde se paaie van die afrigter en vegknoper Imms Moses geskei het.
Moses, eienaar van die AC Boxing gimnasium, sê boks is een van Namibië se toonaangewende sportkodes, maar is die afgelope tyd op 'n afdraande pad.
Hy meen rolspelers moet eerlike gesprekke sonder vrees kan voer – nie net wanneer dinge voor die wind gaan nie, maar ook wanneer iets krap.
“Dis 'n onding dat promotors aan sekere boksakademies of -gimnasiums gekoppel is en gevolglik nie gretig is om vir boksers van ander gimnasiums die geskikte gevegte vas te knoop nie.
“Boksers word in die proses benadeel, want daar word druk op hulle geplaas om die afrigter met wie hulle 'n pad gestap het te los en by 'n spesifieke gimnasium aan te sluit as hulle gereelde goeie gevegte wil hê.
“Promotors behoort 'n ingesteldheid vir besigheid en 'n oog vir boksers met goeie talent te hê. Promotors is nie daar net om 'n sekere boksakademie voor te stoot nie.
“Noem maar die groot promosiemaatskappy op – Matchroom, Top Rank of Golden Gloves in Suid-Afrika – hulle kontrakteer boksers van enige land en ongeag by wie hulle oefen.”
KONTRAK-FYNSKRIF
“Boksers moet ook weet wat hul regte is wanneer hulle oor die kontrakte vir 'n komende geveg onderhandel. Almal het nie die geld om regsgeleerdes se perspektief te kry nie, maar 'n bokser se afrigter of familielede behoort hom ook by te staan.
“Boksers moet weet hoe om te onderhandel en moet die inhoud van hul kontrak verstaan. Hulle moenie bloot hul handtekening aanbring op enige kontrak wat voor hulle geplaas word nie. Moenie toelaat dat tien bladsye van ingewikkelde regstaal later vir jou spyt beteken nie.
“Dit gebeur dat boksers wat uit die platteland afkomstig is, hulle vir drie jaar vas teken en later agterkom hulle boks vir kleingeld en hulle het net geteken omdat hulle honger was. Dan moet hulle later hof toe om om hulle uit die kontrak te probeer kry.”
Moses sê daar is genoeg bekwame boksafrigters in die land en dis nie nodig dat 'n bestuurder, afrigter en promotor dieselfde persoon hoef te wees nie.
“Beroepsboks is 'n besigheid; dit is nie 'n straatgeveg nie. Dis nie 'n goeie teken as uitgetrede boksers 'n haat vir die sport het omdat hulle ervaar het dat promotors hulle net vir hul eie doelwitte gebruik het nie. Nuusberigte oor promotors se onbetaalde fooie vir gevegte, of oor boksers wat nie hul betaling ontvang nie, skrik ook potensiële borge af.”
BEHEERRAAD ONDER SKOOT
Volgens Moses slaag die Namibiese Boksbeheerraad nie in sy verpligting om die situasie te bestuur en te voorkom dat boksers geboelie of benadeel word nie.
“Ons is nie meer in 2001 nie – daar is nie meer net twee boksakademies in die land nie, maar reeds tien of meer.
“Namibië lewer wêreldkampioene en Afrika-titelhouers op, en tog word die sport vanuit een beknopte klein kantoortjie met twee tafels bestuur – hoewel hulle deur die regering gefinansier word.
“Hulle het nie eens 'n raadsaal om vergaderings te hou nie. Dalk is dit hoekom hulle vier maande later nog nie op ons brief kon antwoord nie.”
Laasgenoemde stelling verwys volgens Moses na 'n klagbrief wat Sakaria Lukas se verteenwoordigers in Oktober verlede jaar aan die Boksbeheerraad gestuur het en wat ook na minister Erastus Utoni van sport, jeug en nasionale diens aangestuur is.
Sakaria se loopbaan het oënskynlik in 'n systraat beland terwyl sake tussen sy vorige promotor (Nestor Sunshine Promosies) en sy nuwe promotor Al Siesta in Brittanje gestol het. Verskeie moontlike gevegte gedurende 2018 het deur die mat geval.
Regsbriewe is oor en weer gestuur met 'n bedrag onbetaalde toelatingsgeld vir een van Sakaria se gevegte terwyl hy onder die Sunshine-vaandel was, een van die twispunte.
“Ons het in ons brief aan die Beheerraad uitgewys dat ons die prosedure gevolg het hulle vereis. Die feit dat die Beheerraad ons nou nog nie geantwoord het, wys mos dat hulle nie omgee nie. Of is dit 'n geval dat Nestor hulle in sy sak het en dat hulle na sy pype dans?” wonder Moses hardop.
Moses het ten slotte die twee boksakademies (Sunshine en Salute) gelukgewens met die borgskap van MTC wat hulle verlede maand vasgeknoop het.
“Die borgskap kan vir MTC asook vir beide die bokskampe tot voordeel wees, solank hulle tot voordeel van alle boksers optree en die riglyne volg.
“Ek is vir niemand kwaad nie en AC Boxing is oop vir besigheid met enigiemand. Ons het nie energie om op binnegevegte te mors nie.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie