Jakkalsputz o Jakkalsputz. . .
Tielman van Lill
In ons distrik was ’n dierbare, maar moeilike oom, wie se humeur vurig genoeg was om ’n kameelhoutvuur aan te steek. So besluit hy een jaar terstond om daardie Desember vir die eerste keer langs die kus te gaan vakansie hou.
Uit die aard van die saak moes dié vakansie uiters sorgvuldig beplan word. Vier verskillende soorte beskuit is voorberei.
Een was vir brêkfis, een vir as daar voor middagete onverwags iewers ’n hongerte sou insluip. Een vir so vieruur se kant ná ’n middagslapie en die laaste geur is om net voor slaaptyd vir oulaas iets te vat. Want na wat die tante van ander gesoute kusgangers verneem het, is dat die seelug geneig is om ’n potente aptytwekker te wees.
Daar is geslag, gejag en wors gemaak. Dit is aangevul met etlike ponde gemsbok- en springbokbiltong asook droëwors. Genoeg koffie is gebrand en gemaal om sy regmatige plekkie in die pakkaas te vind en in die groentetuin is daar behoorlik gewoeker.
Hy was ’n Chev-man, so ’n bloue met swarttralies wat ook die plaasbakkie was. Die dag voor die uittog see toe, is die propvol parafienvrieskas eerste op die bakkie gelaai. Toe het die seile en lang droppers gevolg wat as tent moes dien en genoeg petrol om die dorstige agtsilinder-Chev tot by die kus aan te stu.
Die res is aangevul met geel-, groen- en bloutrommels vol kos. Meel, vars groente en al wat ’n eetding is in oormaat ingepak. Ysterdivans, matrasse, stoele en al wat ’n luuksheid is op die goed beplande lysie afgemerk wat dié vakansiegangers se verblyf moes vergemaklik.
Selfs die Easy Spin-wasmasjien wat met ‘n Breek-en-staan-enjin toegerus was, is agter op die Chev staangemaak.
’n Baie senuweeagtige bruin brakkie van verdagte herkoms is ook saam en is by die tante se voete, sy gunstelinglêplek ingerig. Die reis deur die Namib het sonder enige teenspoed afgeloop en daardie namiddag slaan die oom-hulle iewers noord van Swakop hul tuiste vir die volgende twee weke op.
Sake het vir die eerste paar dae glad verloop en die oom het selfs as onbekwame hengelaar goed onder die galjoene, kabeljoue en steenbras met ’n bamboesvisstok en ’n Penn 49-katrol ingeklim.
So gebeur dit toe ook dat die tante se eerste wasdag aanbreek. Die oom trek die Chev daar neffens die staning en span ’n sterk tou tussen die bakkie se tralies en die seilwoning en stut dit in die middel met ’n lang dropper om die gewigtige klomp wasgoed in die lug te hou.
Net voor middagete kom die oom terug van sy daaglikse besoek aan die res van die kamp. Die tante kon aan sy stap sien dat hy klaar beneuk was.
Met die instap slag is sy kos nie reg nie. Die tante het die vleis aangebrand en skarrel benoud tussen die skreeuende kindertjies rond om vir die oom ’n paar vars plaaseiers te bak. Dit was die laaste strooi in die oom se reeds sombere en oorvol gemoed om sy humeur tot op die selfde vlak as sy vlamrooi hare te laat styg.
Dit is onseker wat daarna gebeur het, maar volgens omstanders het die oom in die Chev gespring en brullend weggevlieg. Al wat van dié staning oorgebly het, was ’n verslae tante wat die bakkie verstom agterna staar waar dit met die bontwasgoed aan die drooglyn, seile en pale oor die aarde na die hoofpad se kant toe gevlieg het.
Hoe lank hy gery het alvorens hy van die sleepsel agter die bakkie bewus geword het, kon niemand uitvind nie. Hy het wel later daardie dag sleepvoet by die kamp opgedaag waar die tante en die drie kinders tydelik deur barmhartige kampers gehuisves was.
Die brakkie is later myle strandaf deur ’n klompie seuns gevind waar dit verwilderd rondgedwaal het. Met sy senuwees aan flarde geruk, moes die groepie seuns uithaal om hom vas te trek.
Die tante het vir die eerste keer in haar lewe haar voet neergesit en dieselfde dag is daar gepak en die sombere rit is in doodse stilte terug plaas toe aangepak. Nodeloos om te sê, dit was dié gesin se laaste “vakansie” by die see.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie