Jan Taks gryp Julius se geld
Jan Taks gryp Julius se geld

Jan Taks gryp Julius se geld

Die belastingowerhede het op byna N$12 miljoen se uitstaande belasting van mnr. Laurentius Julius beslag gelê en beskuldig hom van "uitgebreide bedrog" teen die fiskus.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Die Walvisbaaise sakeman mnr. Laurentius Julius en die minister van finansies en sewe ander partye het gister ’n skikkingsooreenkoms bereik nadat Julius die Namibiese belastingowerhede gedagvaar het toe N$11,7 miljoen uit sy bankrekeninge onttrek is vir belastinggeld wat hy skuld.

Adjunk-regterpresident Hosea Angula het die skikkingsooreenkoms wat tussen Julius, eienaar van die vervoer- en doeane-uitklaringsmaatskappy, Extreme Customs Clearings Services (XCCS), en die minister van finansies en sewe ander partye aangegaan is, ’n bevel van die hoërhof in Windhoek gemaak.

Dié skikking volg op ’n aansoek wat Extreme Customs Clearing Services, Julius, Junieta Jennevir Julius en Julius as voog namens drie van sy kinders teen die minister van finansies, die kommissaris van binnelandse inkomste, die waarnemende kommissaris van doeane en aksyns, Nedbank, First National Bank, Bank Windhoek, die Bank of Namibia (BoN) en die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) ingedien het.

Die dringende hofaansoek is gebring nadat XCCS se doeaneregte-lisensie opgeskort is en die ontvanger van inkomste N$11,7 miljoen uit Julius se bankrekeninge onttrek het om van sy belastingskuld te delg.

Mnr. Justus Mwafongwe, kommissaris van binnelandse inkomste, sê in 'n beantwoordende eedsverklaring Julius "was die argitek van 'n uitgebreide skema wat ontwerp is om die fiskus te bedrieg".

Hy sê verder 'n oudit deur sy kantoor toon Julius het sy inkomste onder-verklaar en dat hy vir die belastingjare 2011 tot 2015 geld aan die ontvanger verskuldig is.

Vir dié rede is beslag gelê op 'n bedrag van N$10 919 764,02 wat deur Julius aan die ontvanger verskuldig was, en 'n verdere N$787 455,24 wat sy vrou, Junieta, die belastinggaarder skuld.

Julius is tans uit op borgtog van N$1,5 miljoen in ’n saak waarin hy en twee Chinese burgers, Tao Huizhong en Huang Jinrong, beskuldigdes in ’n multimiljoen bedrog- en geldwasserysaak is. In dié saak staan Julius en sy medebeskuldigdes tereg op klagte wat verband hou met N$3,5 miljard se werklike of potensiële verliese wat die ministerie van finansies gely het as gevolg van die beweerde onderverklaring van die waarde van goedere wat na Namibië ingevoer is en waarop doeaneheffings betaal moes word.

Skikkingsooreenkoms

Die tussentydse hofbevel ingevolge die skikkingsooreenkoms maak voorsiening daarvoor dat die aanstelling van Nedbank, First National Bank, Bank Windhoek en Capricorn Assets Management as agente van XCCS in terme van belastingwetgewing vir 90 dae opgehef word. Gedurende hierdie tydperk sal die Namibiese belastingowerhede en die waarnemende kommissaris van doeane en aksyns nie verdere stappe teen die maatskappy doen ten opsigte van sy belastingverpligtinge nie.

XCCS sal verder N$400 000 per maand vir enige belastingverpligtinge gedurende die 90 dae betaal en die aansoeker sal aansoek doen vir belastingverligting volgens die aansporingsprogram vir die betaling van uitstaande belasting. Die aansoekers sal met die ontvanger en die kommissaris van doeane en aksyns in gesprek tree om die belastinggeskil op te los.

Intussen sal die belastingowerhede die N$11,7 miljoen wat ingevorder is, hou. Verder sal die opskorting van XCCS se doeaneregtelisensie vir 90 dae opgehef word op voorwaarde dat Julius en Junieta Julius nie enige geld na die buiteland oorbetaal nie.

Die applikante het in gister se aansoek die hof vir ’n tussentydse bevel gevra tot tyd en wyl die hof sekere finale bevele in die saak maak.

Die aansoekers het onder meer versoek dat die aanstelling van die minister van finansies as agent van XCCS in terme van die Inkomstebelastingwet, ter syde gestel word, dat XCCS sonder beperkings sake mag doen en dat 'n opdrag van die minister, alternatiewelik die waarnemende kommissaris van doeane en aksyns aan Nedbank dat N$14 528 289,38 uit XCCS se bankrekeninge na die ontvanger se bankrekening by Bank of Namibia oorgedra word, ter syde gestel word.

In ’n beëdigde verklaring sê Julius sy familie is afhanklik van die oorlewing van die welvaart van XCCS se saketransaksies en omdat die onderneming nou in ernstige gevaar is, staar sy familie dieselfde lot in die gesig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!