Jarmann teen Ndjolonimus vir Afrika-kroon
Jarmann teen Ndjolonimus vir Afrika-kroon

Jarmann teen Ndjolonimus vir Afrika-kroon

Die meer bekende voormalige titelhouer Jarmann word teen 'n ontluikende onoorwonne bokser opgeweeg.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Twee gerekende Namibiese vegters, Anthony Jarmann en Paulus “John-John” Ndjolonimus, takel mekaar op 10 April by die Windhoek Buiteklub vir die Wêreldboksorganisasie (WBO) se Afrika-supermiddelgewigtitel.

Die promotor Nestor Tobias se MTC Together as One Part III-toernooi sal twaalf voorgevegte aanbied, wat met Jarmann teen Ndjolonimus in die hoofgeveg afgerond word.

Die 36-jarige Jarmann (21 gevegte, 17-3-1) het wel tien van sy gevegte met uitklophoue gewen, maar moes self drie keer van dieselfde medisyne proe.

Ndjolonimus (33), wat uit die MTC Nestor Sunshine Tobias-stal baklei, spog met elf onoorwonne gevegte. Hy is wel minder ervare as Jarmann en is nog selde waarlik getoets, maar hy het nege van sy gevegte met uitklophoue beëindig.



JARMANN

Jarmann het op 29 Mei 2010 sy professionele buiging in Windhoek teen Silas Mandeya van Zimbabwe gemaak en sy eerste geldgeveg met 'n uitklophou in die tweede ronde gevier.

Vier jaar en tien gevegte later klim Jarmann vir die vakante Namibiese weltergewigtitel teen Pohamba Mandume deur die toue. Hy beklink die geveg oor tien rondes met 98-92, 100-90 en 95-95.

Sy volgende groot stap was teen die Angolees, Cristiano Ndombassy, om die Wêreldboksvereniging (WBA) se Pan Afrika-superweltergewigtitel wat hy op 21 Mei 2016 in Windhoek met 'n tegniese uitklophou in die sewende ronde buit.

Ongelukkig verdedig hy dié titel net een keer suksesvol op 4 Maart 2017 teen George Mdluli van Suid-Afrika in Windhoek toe hy die besoeker met 'n eenparige puntebeslissing oor 12 rondes stuit.

Sy volgende geveg op 8 Augustus 2017 in Gaborone, Botswana, teen Hassan Mwakinyo verloop rampspoedig toe die Tanzaniër hom in die tiende ronde met 'n tegniese uitklophou van sy titel ontneem.

Tien maande later (Junie 2018) trek Jarmann opnuut vir dieselfde vakante titel die handskoene aan teen Salehe Mkalekwa van Tanzanië in Swaziland (nou Eswatini) en raap die WBA Pan Afrika-superweltergewigkroon vir die tweede keer met 'n eenparige puntebeslissing oor 12 rondes op.

Vyf maande later verloor hy sy titel toe John Bopape van Suid-Afrika hom in Durban in die sesde ronde met 'n tegniese uitklophou oorskadu.

Jarmann het sedertdien nie weer vir 'n titelgeveg voorberei nie, maar wel vir Chikondi Makawa van Malawi op 7 Desember 2019 in Windhoek in die vyfde ronde uitgeslaan.

Sy laaste geveg was verlede Desember teen sy deurwinterde landgenoot Daniel Kashela (9-12-2) vir wie hy in die derde ronde uitslaan.



JOHN-JOHN

Die bokser – aanvanklik genaamd Paulinus Paulus – maak sy debuut as geldbokser op 1 Augustus 2015 in die hoofstad teen Keith Karimbika van Zimbabwe. Karimbika, wat ook sy debuut gemaak het, is in die eerste ronde uitgeslaan en het volgens Boxrec nog nie weer professioneel geboks nie.

Ndjolonimus het wel nog nie buite Namibië of vir enige titel geboks nie. Al sy teenstanders was van Malawi of Zimbabwe en het hier onder sy slaankrag kom deurloop.

Jarmann het gister gesê: “Ek is dankbaar en voel geëerd om vir die Pan Afrika-gordel te boks. Dit sal die eerste keer wees dat ek teen 'n onoorwonne bokser soos John-John deur die toue klim, maar hy is ook nog nooit aan 'n vegter soos ek blootgestel nie.

“Ek is tevrede met my voorbereiding sover en voel vasbeslote en vol vertroue dat ek goed sal vaar. Ek het Desembermaand geboks en sien uit na hierdie uitdaging.”

Ndjolonimus het gesê: “Dankie aan Nestor en MTC vir die geleentheid. Daar is geen druk op my om teen Anthony Jarmann te veg nie. Ek gee nie om of hy tevore die nasionale kampioen of WBO Pan Afrika-titelhouer was nie.

“Ek het niks teen hom nie, maar as ek in die kryt klim, sal ek die geleentheid aangryp.”



Die program vir 10 April

Al die boksers is van Namibië, tensy anders aangedui.

1 Superkapokgewig (55.30 kg) 6 rondes: Joseph Abel (4 gevegte, 1 gewen 2 verloor 1 gelykop) teen Lazarus Tangeni (debuut).

2 Junior weltergewig (63.50 kg) 4 rondes: Eslon Kalus (2, 1-1) tn Paulus Amavila (7, 6-1).

3 Superkapokgewig (55.30 kg) 4 rondes: Matheus Heitha (4, 4-0) tn Wilhelm Shili (3, 1-2).

4 Junior weltergewig (63.50 kg) 4 rondes: Nestor Ashikoto (2, 1-1) tn Fillemon Erastus (debuut).

5 Junior middelgewig (69.85 kg) 4 rondes: Abed Shikongo (4, 4-0) tn NOG Een.

6 Veergewig (57.15 kg) 4 rondes: Sam Mathews (9, 6-2-1) tn Gerson Vaeta (5, 2-3).

7 Swaargewig (91 kg +) 4 rondes: Johannes Nangolo (3, 1-2) tn Kasela Silongo (3, 3-0).

8 Middelgewig (78.5 kg) 4 rondes: Max Ipinge (4, 2-1-1) tn Gino Chiappini (debuut).

9 Veergewig (57.15 kg) 6 rondes: Nathaniel Sebastian (15, 13-2) tn Jeremiah Mhere (Zimbabwe. 8, 5-3).

10 Junior middelgewig (69.85 kg) 6 rondes: Charles Shinima (12, 12-0) tn Chikondi Makawa (Malawi, 27, 14-12-1).

11 Superkapokgewig (55.30 kg) 8 of 10 rondes: Philipus Nghitumbwa (14, 13-1) tn Matheus Jonas (16, 13-2-1).

12 Sal nog aangekondig word.

13 WBO Afrika-supermiddelgewigtitel (76.20 kg) 10 rondes: Anthony Jarmann tn Paulus Ndjolonimus.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!