Jemen-dorp bloei met hulp van SA mortiere
Jemen-dorp bloei met hulp van SA mortiere

Jemen-dorp bloei met hulp van SA mortiere

Dokters Sonder Grense se cholerakliniek is ook gebombardeer.
Erika Gibson



Suid-Afrikaans vervaardigde mortiere is in 'n aanval in Jemen gebruik waarin meer as 150 mense dood en beseer is – onder hulle etlike kinders.

Wapenspesialiste wat beeldmateriaal van die aanval gesien het, sê die dele van die mortierbomme sigbaar op die toneel is ongetwyfeld dié van 120 mm-mortierbomme wat deur Rheinmetall Denel Munition (RDM) in Suid-Afrika vervaardig word. Minstens 52 mense is dood en 102 beseer in die aanval onder leiding van 'n Saoedi-koalisie op die dorpie Hodeidah in Jemen. Die meeste skade is aangerig voor die hospitaal, naby die hawe.

Bebloede beseerdes en liggaamsdele is oor 'n groot gebied gestrooi toe van die mortiere digby die hospitaal se ingang die grond getref het.

Die aanval op 'n sagte teiken soos 'n hospitaal – selfs al is die dorpie een van die Houthi-rebelle se skuilplekke – het wêreldwyd opslae gemaak. Amnestie Internasionaal het die aanvalle as “blindelings, disproporsioneel en gemik teen burgerlike teikens” veroordeel.



MSF-CHOLERAKLINIEK

Dokters Sonder Grense (MSF) se cholerakliniek is ook gebombardeer, al het dié organisasie die ligging minstens 12 keer aan die koalisiemagte verskaf. Daar is ook 'n Rooi Kruis-kenteken op hul dak.

Aanvanklik is gemeen dit was 'n lug­aanval, omdat die koalisie tot op hede grootliks vliegtuie gebruik het vir sy verwoestingswerk. Beeld­materiaal wys egter nou dit was 'n mortieraanval.

Nick Waters, 'n voormalige Britse weermagoffisier en spesialis in ­wapenstelsels wat in Jemen gebruik word, sê op die militêre ontledingsblad Bellingcat die kenmerkende patroon van die ventilasiegaatjies boaan die mortier se vin is maklik herkenbaar as dié van RDM.

Plaaslike wapenkenners sê sowel Saoedi-Arabië as die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het baie mortiere en lanseerders uit Suid-Afrika bekom. Die VAE se Agrab-voertuig is 'n variant van die RG-31 Nyala, 'n mynbestande gevegsvoertuig wat deur Denel Land Sys­tems (DLS) vervaardig word en deur talle weermagte wêreldwyd, insluitende dié van Amerika, gebruik word. Die VAE se International Golden Group het dit met die hulp van Suid-Afrikaanse ingenieurs ontwikkel. Altesaam 90 van die voertuie word reeds geruime tyd deur die VAE gebruik en RDM verskaf die ammunisie daarvoor.

Rheinmetall in Duitsland hou 51% van die aandele in RDM, en Denel die res. Oliver Hoffmann, Rheinmetall-woordvoerder, het by navraag gesê kliëntevertroulikheid bepaal dat hy oor geen wapenstelsels wat aan enige land verskaf word, mag kommentaar lewer nie. Denel het nie bevestig of ontken dit is van sy wapentuig nie.

 – Netwerk24/Rapport

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!