Kampioen Indongo eregas by amateurstryd
Jong vegters kry die kans om te wys dat hulle in die voetspore van die grotes kan volg.
Tielman van Lill - Die MTC Nestor Sunshine Tobias Boksakademie bied sy jaarlikse MTC Sunshine streektoernooi vanaf 11 tot 13 Mei op Otjiwarongo by die Swanevelder-saal aan.
Nestor Tobias, voorsitter van die akademie, het gister gesê die toernooi word ook ter ere van Julius Indongo, Namibië se nuut gekroonde boksheld, gehou. Indongo sal die naweek teenwoordig wees om boksondersteuners uit die omgewing te ontmoet. Hy sal hooggeplaastes van die dorp ontmoet en ondersteuners kan Saterdagoggend die wêreldkampioen tydens 'n straatoptog te siene kry.
Die superliggewigbokser het verlede jaar die IBF en IBO wêreldtitels teen Eduard Troyanovsky in Rusland beklink. Blue Machine, soos hy ook bekend is, het verlede maand sy titels teen Ricky Burns in Glasgow, Skotland, suksesvol verdedig en ook met Burns se WBA wêreldgordel na Namibië teruggekeer.
Tobias sê die geleentheid is daar vir jong onbekende boksers om ontwikkel en raakgesien te word.
“Ander kampioene was tevore deel van 'n soortgelyke ontwikkelingsprogram. Indongo, Harry Simon en dié manne is almal daar deur, want ons wil ná tien jaar steeds graag van ons boksers as kampioene praat. Ons verwag meer as 150 boksers van al 14 streke om die naweek hul vernuf te kom ten toon stel,” het hy gesê.
Tobias, bekroon as die voorste WBO-promotor in Afrika en van die bestes op internasionale vlak, sê hy voel verplig om ook 'n leidende rol in ontwikkeling te speel.
OORHAASTIGHEID HELP NIE
“Ons doen dit vir boks in Namibië om hulle vir verskillende kampioenskappe voor te berei. Die rede hoekom boks tans goed in die land vaar, is omdat ons ernstig is om die sport vanaf grondvlak te ontwikkel. Ek sê altyd vir jong outjies om nie haastig te wees nie. Jy kan nie net instorm en 'n professionele bokser word nie. Jy móét eers as amateur ontwikkel voordat jy gereed is om die beroepsgeledere te betree,” het Tobias verduidelik.
Indongo self sal by die eindronde van die naweek se kampioenskap die medaljes aan die onderskeie wenners oorhandig.
Die wêreldkampioen se raad aan die amateurs was: “Ek glo julle is goed voorbereid en gereed vir die naweek se gevegte. Hoe meer julle in die kryt verskyn, hoe meer selfvertroue sal julle as boksers opdoen. Al wat ek kan voorstel, is dat jy nederig bly en in jouself glo. Jou dissipline moet die riglyn van jou lewe as bokser wees. Niks kom oornag nie. Dit vat jare om te ontwikkel. Besef dat niks verniet kom nie en dat net jyself vir jou sukses verantwoordelik is.”
Khomas, wat vir twee jaar agtereenvolgens die kampioenskap gewen het, sal hierdie keer nie die tuisvoordeel geniet nie. Khomas sal wel met 'n groot kontingent na Otjiwarongo reis om sy kroon te verdedig. Die vegters weeg Donderdag om 07:00 in en om 19:30 sal die eerste gevegte begin.
Vrydag weeg die volgende groep manne weer om 07:00 in en die aand agtuur is die eerstes in die kryt.
Saterdagoggend tienuur is Namibië se driedubbele wêreldkampioen, Julius Indongo, in die straatoptog deur Otjiwarongo te sien. Die kampioenskap se finale rondes behoort vanaf 15:00 te geskied.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie