Kanadees in China gaan teen doodstraf appelleer
Kanadees in China gaan teen doodstraf appelleer

Kanadees in China gaan teen doodstraf appelleer

Die Kanadees wat Maandag deur ’n Chinese hof in ’n herverhoor weens dwelmsmokkelary ter dood veroordeel is, sal teen dié vonnis appelleer berig The New York Times.

Robert Lloyd Schellenberg (36), wat die aanklag teen hom ontken, is in November skuldig bevind en 15 jaar tronkstraf opgelê.

Met die herverhoor Maandag is hy binne ’n uur nadat die hofverrigtinge begin het die doodstraf opgelê.

“Ingevolge die Chinese wetgewing moet die doodstraf as ’n vonnis baie omsigtig hanteer word,” sê Zhang Dongshuo, een van Schellenberg se twee prokureurs.

“Vir ’n hof om die doodstraf op te lê ’n uur nadat die verhoor begin het, is baie, baie ongewoon.”

Dongshuo het nie gesê op watter regsgronde hulle sal appelleer nie, maar meen die aanklaers het Maandag geen nuwe bewyse voor die hof gebring wat ’n swaarder vonnis regverdig nie.

Die BBC berig dat Kanada vir China daarvan beskuldig dat hy begin het om willekeurig die doodstraf op te lê.

China het die aantygings ontken en vir Justin Trudeau, premier van Kanada, gewaarsku om sy “onverantwoordelike” stellings te staak.

BETREKKINGE VERSWAK

Die vonnis sal waarskynlik betrekkinge tussen Kanada en China verder verswak.

Die betrekkinge tussen die twee lande het ’n knou gekry nadat Meng Wanzhou, finansiële hoof van die Chinese tegnologiemaatskappy Huawei, in 2018 in Vancouver aangekeer is.

Netwerk24 het vroeër berig sy is op versoek van die Amerikaanse owerhede in hegtenis geneem, nadat sy daarvan beskuldig is dat sy saamgespan het om banke te bedrieg om onwetend transaksies goed te keur wat met Iran verbind kan word.

Dit is in stryd met die Amerikaanse sanksies teen Iran.

Volgens CNN het Chinese staatsmediahuise Kanada gewaarsku dat China moontlik sal wraak neem indien Wanzhou aan Amerika uitgelewer word.

Die skielike verandering van Schellenberg se vonnis en die aanhouding van twee Kanadese burgers omdat hulle glo betrokke is by aktiwiteite wat die nasionale veiligheid van China kan bedreig, word voorgehou as voorbeelde van die Chinese se weerwraak.

Dongshuo het Dinsdag aan plaaslike media gesê Schellenberg is relatief kalm, ondanks sy nuwe vonnis en dat sy toekoms moontlik in die weegskaal is weens politiese konflik. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!