Kanker, diabetes kry voorkeur op noodlys
Kanker, diabetes kry voorkeur op noodlys

Kanker, diabetes kry voorkeur op noodlys

Hoë pryse en lae beskikbaarheid is steeds 'n groot struikelblok vir pasiënte se toegang tot bestaande én nuwe medikasie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Nuwe behandelings vir verskeie kankers, medikasie om mense te help om op te hou rook, sowel as nuwe mondelingse medikasie vir diabetes vorm deel van die Wêreldgesondheidsorgani­sasie (WHO) se nuwe uitgawe van sy modellys van noodsaaklike medikasie, sowel as noodsaaklike medikasie vir kinders.

Die lys het ten doel om globale gesondheidsprioriteite te takel, medikasie te identifiseer wat die grootste voordele inhou en wat vir almal bekostigbaar en beskikbaar is.

Hoë pryse vir beide nuwe, gepatenteerde sowel as ouer medikasie soos insulien, plaas volgens die WHO sommige noodmedikasie buite die bereik van baie pasiënte.

In dié verband het die organisasie se direkteur-generaal, dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, verwys na diabetes wat besig is om wêreldwyd te styg en in veral lae- en middel-inkomstelande.

“Te veel mense wat insulien nodig het, sukkel om dit te bekostig of los dit en sterf,” het hy gesê. Om dit deel van die noodlys te maak, ondersteun deur pogings om bekostigbare toegang tot produkte te verseker, is volgens hom 'n noodsaaklike stap om te verseker elkeen wat dié lewensreddende medikasie nodig het, het toegang daartoe.



MARKOORHEERSING EN HOë PRYSE

Volgens 'n verklaring deur die WHO is menslike insulien sedert 1977 op sy noodlys, maar het beperkte voorraad en hoë pryse in verskeie lae- en middelinkomstelande nou 'n beduidende struikelblok in behandeling geword. Insulienproduksie word grootliks deur drie vervaardigers beheer wat die meeste van die globale mark oorheers. Die gevolglike gebrek aan kompetisie lei tot hoë pryse.

Deur nog diabetesprodukte saam met insulien op die lys te plaas, is die hoop dat dit toegang tot behandeling verhoog deur die keuse van behandeling uit te brei.

Met verwysing na kanker sê die WHO dit is die grootste oorsaak van siekte en sterftes wêreldwyd en was verlede jaar verantwoordelik vir byna 10 miljoen sterftes. Sewe uit tien soorte kankers kom in lae- en middel-inkomstelande voor.

Volgens die WHO is nuwe deurbrake in kankerbehandeling die afgelope jare gemaak, wat insluit medikasie wat spesifieke molekulêre karaktereienskappe van die gewas teiken.

Laasgenoemde bied beter uitkomste as tradisionele chemoterapie vir baie tipes kanker.

Vier nuwe kankermedikasies is nou op die noodlys, wat insluit 'n alternatief vir prostaatkanker, medikasie vir 'n tipe breinkanker in kinders, 'n teikenmedikasie vir chroniese limfositiese leukemie, sowel as medikasie vir 'n ernstige komplikasie van sommige kankerbehandelings.



OP DIE LYS, OF NIE

'n Nuwe groep teenliggaampies wat die immuunreaksie tot selle in gewasse verhoog, is nie vir die lys vir die behandeling van 'n aantal longkankers oorweeg nie, hoewel dit doeltreffend is. Die hoofredes is die geweldige hoë pryse en kommer dat dit moeilik is om te bestuur in gesondheidstelsels met min hulpbronne.

Onder die medikasie wat wel ingesluit is, tel 'n reserwe groep-antibiotika wat doeltreffend teen multi-weerstandige bakterieë is.

Ook op die lys is ook nikotienvervangingsterapie vir mense wat wil ophou rook. Die lys van dié twee produkte ondersteun die WHO se Commit to Quit-veldtog wat ten doel het om 100 miljoen mense wêreldwyd in die ­volgende jaar te help om op te hou rook.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!