Kebble se seun in Skotte se groep

Rugby
’n Springbok-haker se broer en ’n oud-Bokstut se seun kan albei later vandeesmaand hul toetsbuiging vir Skotland maak.
Die 25-jarige Duhan van der Merwe, ’n vleuel, en nog ’n Suid-Afrikaner van geboorte sonder toetservaring, Oli Kebble, is deur Gregor Townsend, afrigter van die Skotte, in ’n groep van 40 spelers ingesluit.
Die Skotte warm op 23 Oktober teen Georgië op Murrayfield op, voordat Wallis agt dae later hul teenstander is in hul laaste Sesnasies-groepwedstryd, wat in Maart uitgestel is.
Daarna sal Skotland aan die reeks om die Nasiesbeker meeding.
Van der Merwe, wat aan die Hoërskool Outeniqua in George gematrikuleer het, is die jonger broer van die haker Akker, wat die Springbokke in 2018 in drie toetse verteenwoordig het.
Die jonger Van der Merwe het die Suid-Afrikaanse Skolespan in 2012 en 2013 verteenwoordig en in 2014 vir die Junior Bokke uitgedraf. Van der Merwe het sy senior buiging vir die Blou Bulle gemaak, waarna hy in Frankryk vir Montpellier gaan speel het. Sedert 2017 is hy by die Skotse klubspan Edinburgh.
Die 28-jarige Kebble, ’n stut, het in 2012 vir die Suid-Afrikaanse o.20-span gespeel en het ook vir die Westelike Provinsie en Stormers uitgedraf. Sy pa, Guy, het die Springbokke in 1993 en 1994 in vier toetse verteenwoordig.
Van der Merwe en Kebble kwalifiseer danksy die verblyfreël om hul aangenome land te verteenwoordig.
Kebble volg in die voetspore van WP Nel en Allan Dell – voorrymanne wat in Suid-Afrika gebore is en vir Skotland toetsrugby speel. Nel se naam tel ook onder die groep van 40.
Daar is ’n sterk Suid-Afrikaanse geur aan die groep. Benewens Van der Merwe, Kebble en Nel, het Cornell du Preez (losvoorspeler) ook sy eerste lewenslig in Suid-Afrika aanskou.
Tog verskyn die veelsydige agterspeler Kyle Steyn, wat vroeër vanjaar sy toetsbuiging vir die Skotte gemaak het, se naam nie op die lys nie.
Townsend sê in ’n verklaring hy sien daarna uit dat die spelers en afrigters weer in spanverband kan saamtrek.
“Daar was ’n sterk gevoel dat ons as span gegroei het tydens die Sesnasies vroeër vanjaar. Ons mikpunt is om daardie momentum te behou wanneer ons teen Georgië en Wallis te staan kom voordat ons in November in die reeks om die Nasiesbeker speel.”
Skotland se groep:
Voorspelers: Simon Berghan, Jamie Bhatti, Fraser Brown, Blair Cowan, Scott Cummings, Cornell du Preez, Matt Fagerson, Zander Fagerson, Grant Gilchrist, Jonny Gray, Richie Gray, Rob Harley, Nick Haining, Oli Kebble, Stuart McInally, WP Nel, Jamie Ritchie, Sam Skinner, Rory Sutherland, Blade Thomson, Ben Toolis, George Turner, Hamish Watson.
Agterspelers: Darcy Graham, Nick Grigg, Chris Harris, Adam Hastings, Stuart Hogg, George Horne, Damien Hoyland, Sam Johnson, Huw Jones, Blair Kinghorn, James Lang, Sean Maitland, Ali Price, Finn Russell, Scott Steele, Duhan van der Merwe, Duncan Weir.
– Reuters, Netwerk24


FOTO’S
Oli Kebble in aksie vir die Stormers gedurende ’n Superrugby-kragmeting teen die Haaie in 2017 in Durban. Foto Gallo Images

Duhan van der Merwe in aksie vir Edinburgh. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!