Kerk verloor brugbouer
Kerk verloor brugbouer

Kerk verloor brugbouer

Huldeblyke stroom in vir apostel Fritz Gaweseb, wat die afgelope week sy stryd teen Covid-19 verloor het.
Denver Kisting
Denver Kisting – Ds. Thijs van der Merwe, die algemene sekretaris van die NG Kerk in Namibië, het die afgelope week sy ontslape kollega, apostel Fritz Gaweseb, as ’n merkwaardige man onthou.

Van der Merwe het Woensdag, die dag nadat Gaweseb op 61 weens Covid-19-verwante oorsake in die Katutura-staatshospitaal oorlede is, gesê: “Hy was ’n mens wat nie teruggedeins het om oor ongemaklike goed te praat nie. Dít het hom ’n profetiese stem in die kerk gemaak.”

Hy sê Gaweseb was onverskrokke wanneer hy die wit olifant in ’n vertrek gepak het – ongeag die moontlike gevolge. “Fritz was nie afgeskrik deur sulke goed nie.”

Van der Merwe sê Gaweseb was ook ’n groot voorstander van eenheid tussen veral apostoliese en charismatiese bewegings. “Hy was ’n brugbouer.”

Gaweseb, wat gereeld aan paneelbesprekings op nasionale televisie deelgeneem het, was ten tyde van sy heengaan die president van die Association of Charismatic and Pentecostal Churches of Namibia (ACPCN).

Van der Merwe sê dié liggaam het grotendeels sy ontstaan te danke aan Gaweseb se “passie oor eenheid. Hy het ’n groot aandeel daaraan gehad. Ons gaan hom mis.”

‘SKIELIKE DING’

Mnr. Ludwig Beukes, die sekretaris-generaal van die Raad van Kerke in Namibië (CCN), het Woensdag gesê hy was geskok om van Gaweseb se dood te verneem. “Dit was so ’n skielike ding.”

Hy onthou die ontslape predikant as ’n toegewyde herder. “Dis nou die soort mens wat ons as ’n dienende leier beskryf. Hy het nie net sy gemeente gedien nie – hy het die gemeenskap gedien.”

Beukes onthou ook sy kollega as ’n baie nederige man. “Hy was altyd bereid om te help en mense te dien.”

Pastoor Charles Gaweseb, wyle Gaweseb se jonger broer en medepredikant, het Woensdag vertel sy broer het Saterdag positief vir Covid-19 getoets. Dít het gekom nadat hy reeds ’n ruk lank ongesteld was.

Hy het nog die vorige aand met hom oor die telefoon gepraat, sê Charles Gaweseb.

Volgens hom was sy broer tot aan die einde verbind tot sy geloof. “Hy was ’n man van God; ’n diener in opdrag van die Here.

“Daar is baie dinge wat hy nog in plek wou bring, maar as gevolg van sy siekte en die omstandighede is dit nou kortgeknip.”

Apostel Gaweseb word oorleef deur sy vrou, me. Fredrika Gaweses, vier dogters en drie seuns.

Begrafnisreëlins sal in ’n latere stadium bekend gemaak word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!