Kernkrag: Waarnemers sê hul sê
Francois Williams - Kernkrag is saam met hernubare energie die antwoord op die klimaatkrisis en kan ontwikkelende lande van ’n onuitputlike bron van stabiele, goedkoop elektrisiteit voorsien.
Dit was die kernboodskap by die onlangse AtomExpo, ’n internasionale konferensie wat die Russiese kernkragmaatskappy Rosatom jaarliks in Moskou aanbied.
VRAE AAN WAARNEMERS
Watter rol kan kernkrag en hernubare energie speel om teikens met klimaatverandering te haal, en kan kernkrag steenkoolkrag in Suid-Afrika vervang as zero-koolstofbron vir basiskrag?
Liz McDaid, energie- en klimaatveranderingskonsultant vir die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe Omgewingsinstituut (Safcei), wat saam met die omgewingsgroep Earthlife Africa tans regstappe neem teen die regering se plan vir die bou van 9,6 GW se nuwe kernkragsentrales: Verskeie akademiese verslae wys hernubare energie en doeltreffendheid kan ’n groter bydrae lewer om aardverwarming te bekamp as kernkrag. Kernkrag is ’n baie duur idee om klimaatverandering te bestry, en gegewe die baanrekord van kernkragbouwerk sal dit nie vinnig genoeg gebou kan word om in die behoefte te voorsien nie. Hernubare energie is ’n baie meer bekostigbare en vinniger manier om dieselfde doel te bereik.
Dr. Anthonie Cilliers, programbestuurder van kerningenieurswese by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom: Rosatom is 100% korrek. Die debat of hernubare energie in al Suid-Afrika se behoeftes kan voldoen, is nie relevant nie en word deur enkele groepe aangevoer wat ’n belang daarby het. Suid-Afrika het sowat 80%-basiskrag nodig. Hier kan hernubare bronne geen bydrae lewer nie, want die beskikbaarheid is gemiddeld tussen 20% en 30% per jaar en dus ontsaglik duur om vier keer die vermoë en die nodige energiebergingsfasiliteite te installeer. Kernkragsentrales word ontwerp om aanvanklik vir 60 jaar te loop, wat later tot 80 en selfs 100 jaar verleng kan word. Die koste word dus baie klein as ’n mens in ag neem dat van die ander energiebronne binne 20 jaar afbetaal moet word voordat dit die einde van hul leeftyd bereik. Dit is waarom Koeberg tans die goedkoopste krag lewer. Kernbrandstof (uraan) se prys maak net 10% van die koste per kWh uit, en die prys is dus nie sensitief vir veranderings in brandstofpryse nie.
Die doel van kernkrag is juis om die steenkoolkragsentrales te vervang soos wat hulle oud word en gesluit moet word, asook om ekstra krag vir ’n groeiende ekonomie te lewer. Son- en windkrag is nuttig op klein skaal om huishoudelike behoeftes aan te vul.
Saliem Fakir, hoof van die Wêreldnatuurfonds in Suid-Afrika se Living Planet Unit: Op ’n teoretiese vlak kan kernkrag en hernubare energie ’n komplementêre rol speel gegewe hul profiel as skoon energiebronne. Ek ontken dit nie, en daar is sommige omgewingsaktiviste wat goeie redes het hoekom dit die geval kan wees. Die probleem is dat ons nie in hierdie stadium kernkrag nodig het nie, want ons het genoeg basiskragvoorraad en die regering koop reeds ’n reeks niekernkragbronne aan wat voldoende in ons behoeftes sal voorsien. Selfs as ons wel kernkrag nodig het, sien ek nie ’n regverdiging vir soveel soos 9,6 GW nie. In ag genome die grootte van ons ekonomie is dit veel meer as wat nodig is vir die vooruitgeskatte toekomstige vraag na krag.
Jy moet ekonomiese groei en energievraag met die aanbod sinchroniseer. Hierdie dinamiese verhouding – want die toekoms is so onseker – kan beter bestuur word met modulêre tegnologie soos aardgas en hernubare energie.
Wat ons nou doen, is om dieselfde fout te begaan as wat ons in die verlede begaan het – om net soveel aanbod as wat ons kan, te bou, maak nie saak wat die groei en vraag in die toekoms kan wees nie. Dit kan ’n duur fout wees, soos bewys deur die ooraanbod van steenkoolvermoë in die verlede.
Dit is boonop hoogs onwaarskynlik gegewe politieke en maatskaplike druk dat kernkrag ooit ’n groot aandeel in die internasionale energiemengsel sal hê, selfs as mense dit as ’n elegante oplossing vir laer koolsuurgasvrystellings beskou. Kernkrag is kompleks, duur, geneig tot korrupsie en die baanrekord om by die begroting te hou, is nie so goed nie.
ROSATOM
Rosatom wil ’n eenstopdiens vir ontwikkelende lande van Kenia tot Nigerië en Egipte tot Bangladesj wees wat die hele waardeketting van kernkrag kan lewer – van kernbrandstof en bouwerk tot die hantering van radioaktiewe afval en aftakeling. Hoe sien jy die tegniese vermoëns van Rosatom ingeval die tender in Suid-Afrika aan hulle toegeken word?
McDaid: Rosatom het finansiële probleme as jy kyk na die berigte oor hul verkoop van ’n belang in ’n Turkse kernkragaanleg. Hoe gaan hulle so ’n bouprogram finansier, en sal hulle nog bestaan teen die tyd dat die afval opgeruim en die kragsentrales afgetakel moet word? Ons verklaring in die hofsaak verwys na die ooreenkoms tussen Rusland en Suid-Afrika waarin die Suid-Afrikaanse regering instem om aanspreeklikheid te aanvaar in die geval van kernkragongelukke, en dit vrywaar Rusland.
Met kernkragsentrales moet jy baie seker wees dat wat jy koop op lang termyn tegnies gesond is. Die baanrekord van Russiese kernreaktors vul ’n mens nie met vertroue nie.
Cilliers: Suid-Afrika kyk waarskynlik na vyf opsies: die AP1000 van Westinghouse (Amerika), EPR van Areva (Frankryk), VVER van Rosatom (Rusland), CAP1000 van China en die APR1400 van Kepco (Suid-Korea). Al hierdie aanlegte beskik oor die beste veiligheidstelsels en is tegnies almal uiters gevorderd. Ons kan gemaklik wees met enige van die aanlegte.
Fakir: Ek verstaan Rosatom wil sterk buite Rusland en die voormalige Sowjetblokstate uitbrei. Maar sy baanrekord met grootskaalse uitbreiding is ongetoets. Selfs al het hulle ’n totaal vertikaal geïntegreerde maatskappy, het elke land sy eie kompleksiteite. Ek sal bekommerd wees as Rosatom ’n groot bestelboek het en hulle moet voldoen aan nie net baie gespesialiseerde vaardighede nie, maar ook al die regulatoriese en ander vereistes om te verseker die kernaanlegte beskik oor hoë vlakke van veiligheid.
Gegewe Rusland se finansiële toestand verstaan ek Rosatom is ook onder ’n bietjie finansiële druk. Ek kan nie realisties sien hoe hulle al die uitdagings met die bestelboek sal oorkom nie. Ek dink hulle doen op die oomblik baie openbare skakelwerk.- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie