Kevin klop homself in Melbourne
Tennis
Marizanne Kok - Van poppemeester tot teddiebeer. Dít was gister die verhaal van Kevin Anderson se tweede ronde in die Australiese Ope in Melbourne, toe hy vir twee en ’n half stelle Taylor Fritz se poppemeester was – en toe skouspelagtig kop verloor het.
Die 33-jarige Suid-Afrikaanse hemelbesem se toernooi is verby nadat Fritz van ’n agterstand van twee stelle teruggeveg het om met 4-6, 6-7 (5/7), 7-6 (7/4), 6-2, 6-2 te wen.
Vir die eerste uur en ’n half van dié kragmeting het ’n seer lies en Anderson se aggressie en bekwaamheid by die net saamgesweer teen Fritz. Die Amerikaner het wel groot druk in die tweede stel op die Anderson-afslaan geplaas, maar keer op keer moes hy sien hoe die deur in sy gesig toeslaan. Sy lip het al langer geraak; Anderson het al hoër gevlieg.
Toe die Suid-Afrikaner in die sesde pot van die derde stel vir die tweede keer in die wedstryd deurbreek, het dit gevoel asof die spreekwoordelike vet dame begin keel skoonmaak. Tot in daardie stadium was Anderson in elke aspek beter as Fritz en het hy ’n skoonstel-sege verdien.
Maar die kaartehuis het reeds in die volgende pot begin inmekaar tuimel, toe eers Anderson se voorarmhoue en toe ook sy afslaan hom in die steek begin laat het.
Hy het sy afslaan verloor ná twee agtereenvolgende dubbelfoute – en in ’n oogwink tandeloos geraak.
Die ongedwonge foute het soos water van sy raket begin vloei en hy kon al minder eerste afslane inkry. Waar hy in die eerste helfte van die wedstryd dodelik akkuraat was by die net (een van die nuwe pyle in sy koker), het hy al meer klei getrap daar en ’n magdom houe te diep geslaan.
In sowel die vierde as vyfde stel het Fritz Anderson se eerste afslaanpot afgeneem vir ’n voorsprong van 3-0 en nie weer teruggekyk nie. Hy kan ’n groot sug van verligting slaak dat sy teenstander met die kanon-afslaan die deur so wawyd vir hom oopgemaak het. Anderson, daarenteen, sal Melbourne verlaat met ’n kop vol vrae en geen verskonings.
Dit is so dat hy nou minder as ’n maand terug in kompetisie-tennis is ná beserings sy 2019 gekniehalter het, maar hy kan nie verroestheid vir dié ineenstorting blameer nie. Dalk was dit oorgerustheid, of tamheid ná ’n marathon-vyfsteller Dinsdag in die eerste ronde, wat sy doppie geklink het.
Wat ook al die rede, is een ding steeds seker: Op sy beste sal Anderson vanjaar weer met die grotes kan saampraat.
Maar dit sal net gebeur as hy sy fokus behou – gister het hy nie!
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie