Kleynhans vanjaar se megakosprodusent
Die regering wil teen 2030 die huidige 11 500 ha gewasse onder besproeiing tot 27 000 ha vergroot. Dit sluit die beplande 5 000 ha by die Neckartaldam in.
Elvira Hattingh
Mnr. Rustie Kleynhans, bestuurder van die Sikondo-groenskemaprojek, wes van Rundu, sê hoewel dit al moeiliker word om goeie opbrengste te lewer, is dit steeds 'n voorreg om vanjaar as die Namibiese Akkerbouraad (NAB) se Megabesproeiingskosprodusent aangewys te word.
Hy het die toekenning op Stampriet op die onlangse Wêrelddag vir Kos ontvang – dit was ook die eerste keer dat die Akkerbouraad verskillende toekennings vir kleinskaal- en megaprodusente gegee het.
Kleynhans sê mielies en koring word op groot skaal in die winter op Sikondo geplant en jaarliks word gemiddeld 3 000 ton witmielies en 800 tot 1 000 ton koring van hul lande geoes. Hulle plant ook aartappels, grondboontjies, botterskorsies, waatlemoen en tamaties.
“Sowat 40 tot 50 ton aartappels en botterskorsies word per hektaar geoes. As dit by ons kommersiële produksie kom, word in totaal sowat 340 ha beplant. Op medium skaal boer ons op sowat 230 ha. Ons het ook sowat 50 ha se gewasse op droë land.”
Kleynhans is meer as vyf jaar reeds aan die stuur van Sikondo. Hy sê omstandighede is nie altyd gunstig vir produksie nie.
“Van ons uitdagings sluit in dat die grond waarin ons plant, meestal sand is en net 3 tot 5% klei bevat. Dit het ook baie tekorte, wat beteken daar moet van kunsmis gebruik gemaak word.
“Die probleem kom in met die vervoerkoste van die kunsmis. Ons is sowat 1 700 km van die fabrieke af geleë, wat beteken ons betaal N$1 000 meer per ton kunsmis as boere in Suid-Afrika. Dan is daar ook ander insetkoste soos saad, lone en elektrisiteit.
“Ek is steeds dankbaar en ten spyte van verskeie uitdagings is dit 'n voorreg om te kan boer. Dis steeds 'n plesier en ons kry groot steun van die regering,” het hy gesê.
Kleynhans is oorspronklik deur die regering se Agribusdev in Suid-Afrika ontdek, waar hy vir 'n maatskappy gewerk het wat groente en vrugte vir Pick n Pay geproduseer het.
Tydens die toekenningsgeleentheid het mnr. Percy Misika, permanente sekretaris van die ministerie van landbou, water en bosbou, gesê die land se leiers het slegs 14 jaar oor om seker te maak Visie 2030 realiseer.
Volgens hom lyk dit of 'n land met geen honger, armoede en wanvoeding nie vinnig 'n werklikheid gaan word nie.
“Wat moet gedoen word om seker te maak ons geniet voedselsekerheid?” het Misika gevra voor hy minister John Mutorwa se toespraak voorgelees het.
Volgens Mutorwa vind stedelike migrasie, wat die vraag na kos verhoog, op groot skaal plaas en sal 67% van die land se bevolking na verwagting teen 2041 in stede leef. Om voedselsekerheid te geniet, het die regering besproeiingskemas soos Sikondo, Ndonga Linlena, Uvungu-Vungu en Shadikongoro op die been gebring, sowel as projekte langs die Oranjerivier. Dié skemas help om die lewensgehalte van mense in landelike gebiede te verbeter en migrasie na dorpsgebiede te verminder.
Die plan is om teen 2030 die huidige 11 500 ha onder besproeiing tot 27 000 ha te vergroot. Dit sluit die beplande 5 000 ha by die Neckartaldam in, asook steun aan kleinboere deur die Harambee-landbouontwikkelingsprogram (HACCIADEP).
Mutorwa het gesê die regering kan dié doel nie alleen bereik nie en die hulp van die publiek, private sektor en gemeenskappe word benodig.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie