Kommer laai op oor Russiese boot
Kommer laai op oor Russiese boot

Kommer laai op oor Russiese boot

Vrese heers oor dolfyne in baaigebied
Des Erasmus
Des Erasmus - ‘n Russiese boot, die Ryazanovka, wek ernstige kommer onder Namibiese bewaringsinstansies waar dit sedert Saterdag teenoor Langstrand voor anker lê.

Die boot met ‘n Russiese bemanning, maar met blykbare skakeling met Chinese instansies, is toegerus vir vangste van bedreigde spesies soos die bottelneusdolfyne waarvan nog net ‘n geskatte twintig tot dertig in die seegebied naby Walvisbaai voorkom.

Bottelneusdolfyne is bekend as ‘n nuuskierige spesie van die see en dat dit bra vriendelik tot naby mense beweeg. In die proses is dit ‘n groot bate op die gebied van toerisme.

Die Ryazanovka met sy gesofistikeerde vangtoerusting het die eerste keer aandag geniet toe dit teenoor Pelikaanpunt naby Walvisbaai gelê het, ondanks ‘n verbod op enige vangste in die Namibiese seegebied. ‘n Lisensie vir die gebruik van die nette is nie aan die boot toegeken nie. Saterdag het die boot sy ligging verander en teenoor Langstrand anker gegooi. Dit is steeds binne die gebied tussen Swakopmund en Walvisbaai waar die paar bottelneusdolfyne nog aangetref word.

Vangste is nie tot gister by bewaringsinstansies aangemeld nie, maar Republikein beskik oor inligting oor die vangtoerusting op die boot. Op die dek lê ‘n hoop saknette wat gebruik word in ‘n tegniek wat onder vissers bekend staan as “purseiners”. Dit is ringvormige nette wat oor ‘n wye gebied uitgegooi word en dan met die rek van ‘n kabel onder toegetrek word vir die vang van enige spesie in die beursvormige net. Die nette is oorspronklik in die jare veertig en vyftig vir vangste langs die kus van Kalifornië ontwikkel.

Volgens inligting tot die beskikking van Republikein word inligting oor die Ryazanovka reeds deur Namibiese instansies met ‘n Suid-Afrikaanse wagdiens bekend as Sea Shepherd gedeel.

Spesies wat met die nette geteiken kan word, is dolfyne, swaardvisse, tunas en tornyne.

Vir die handel in die betrokke spesies beskik bote met sodanige toerusting ook oor toerusting om seldsame spesies aan die lewe te hou, maar as gevolg van kneusings en versteurings is die mortaliteitspersentasie van sodanige vangste besonder hoog. Die maasgrootte van die nette is besonder groot wat daarop dui dat die nette vir die vangste van groter spesies gebruik word. Die vangwydte van die nette word tot op ‘n kilometer op see geskat.

Dit is wel bekend dat ‘n beroep op ander seevaartuie gedoen is om ‘n Walvisbaaise instansie in te lig, sou daar op bewegings van die Ryazanovka afgekom word.

Die Ryazanovka is in 1991 gebou en is 45 meter lank. Die tonnemaat is 448.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!