Konflikleeus wéér verskuif
Ná klagtes oor die vuilbaarde in die Omaruru-distrik, moet hulle weer 'n ander heenkome vind.
Francoise Steynberg - Die konflikleeus wat meer as 200 kleinvee in die Torra-bewaringsgebied in die Kunenestreek in November 2017 afgemaai het en later by die Erongo Mountain Rhino Santuary (EMRS) naby Omaruru vrygelaat is, word weer verskuif.
Volgens die woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, het die operasie begin om die leeus te vang en na een van die nasionale parke te verskuif. Dit volg ná klagtes oor die leeus in die EMRS.
“Om enige verdere openbare bekommernis te voorkom, is nogtans besluit dat die ministerie hierdie leeus sal vang en na een van die nasionale parke sal verskuif,” het Muyunda gister in 'n nuusverklaring gesê.
Ná 'n trop van 10 tot 15 leeus in twee skokvoorvalle kleinvee gevang het, het die ministerie besluit om 'n spesifieke leeutrop van agt te verskuif na waar hulle nie in konflik met mense is nie. Die ander opsie was om die leeus van kant te maak, wat 'n laaste uitweg sou wees.
Muyunda sê tydens die vangs en verskuiwing was daar drie private wildplase of groepe wildboere wat belang gestel het om die leeus te vat. Volgens hom was twee boere nie heeltemal voorbereid daarop nie, maar die EMRS in die Omaruru-distrik, wat bestaan uit 22 plase en 12 plaaseenhede rondom die Erongoberge, was wel.
“Die ministerie was verheug oor hul belangstelling. Dit is 'n goeie habitat met genoeg prooi vir die leeus in 'n gebied van sowat 180 000 hektaar. Vergaderings is met verteenwoordigers van die EMRS en senior amptenare van die ministerie oor die vrylating van die leeus gehou,” het Muyunda gesê.
“Vyf van die agt leeus is deur die ministerie gevang en na die EMRS verskuif. Ongelukkig het een aan spiersiekte (miopatie) gevrek. Daar was pogings om die drie ander leeus te vang, maar hulle het na 'n ontoeganklike gebied beweeg en die operasie is afgelas,” het Muyunda gesê.
GROEI IN TOERISME
Voorts sê die woordvoerder die leeubevolking in die Noordweste het tot 'n toename in toerisme gelei en leeus moet as 'n nasionale bate geag word wat tot voordeel van Namibiërs goed bestuur moet word.
“Verskeie lodges, gaste- en jagplase en kampterreine is in die EMRS geskep en die leeus kon as toeriste-aantreklikheid in die gebied dien. Altesaam 186 direkte toerismeverwante werkgeleenthede is in die EMRS geskep,” het Muyunda gesê.
“Hoewel sommige mense, hoofsaaklik van individuele kommersiële plase aangrensend aan die EMRS, oor hierdie leeus gekla het, is daar ook ander roofdiere soos bruinhiënas, luiperds en jagluiperds, wat selfs gevaarliker as leeus vir mense is.”
Hy sê leeus het hulself in die nabye Ugabrivier gevestig en hul gebied suidwaarts na die westekant van die Omarururivier uitgebrei waar hulle selfs die afgelope twee jaar naby Omaruru opgemerk is.
“Die bekommerde boere bedryf meestal ook toerismebesighede bykomend tot hul veeboerderye. Waarom die leeus verwyder moet word, is net aan hulle bekend.”
Tot dusver was daar geen berigte dat die leeus die EMRS verlaat het of betrokke was by konflik met vee buite die gebied nie, sê Muyunda.
“Die ministerie waardeer en bedank die eienaars van die EMRS wat bereid was om hierdie leeus vir die bewaring van leeus in Namibië te huisves tot voordeel van die land se toerisme en wildbestuur.”
Muyunda het ook gesê die ministerie beskou die kwessie van mens-dier-konflik in 'n ernstige lig.
“Dit is 'n ingewikkelde en ernstige probleem en as dit nie effektief bestuur word nie, kan dit die bewaringspogings en toerismevoordele van die land skade aandoen en selfs vernietig,” het hy gesê.
Hy het bevestig amptenare bly teenwoordig in die geraakte gebiede.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie