• Tuisblad
  • Plaaslik
  • Kookboekskrywer gesels oor die lewe, Life on a Table en onthoukos

Kookboekskrywer gesels oor die lewe, Life on a Table en onthoukos

Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Met eenvoudige resepte en pragtige fotografie sal Antoinette de Chavonnes Vrugt se tweede kookboek tuiskokke inspireer en direk na die Namibiese landskap meevoer.
As jy haar uitvra oor wat vir haar belangrik is, antwoord sy dadelik: “Ek is eerstens ? vrou en ? ma”. Sy is op haar gelukkigste omring deur haar man, Chris, twee kinders, Christoph en Marietjie, en hul vriende.
Tydens ons gesprek is haar liefde vir die lewe, familie, vriende en natuurlik kos ooglopend. Oor haar kos-motto is sy uitgesproke: “Moenie slegte aartappelslaai maak nie!” Selfs al maak jy iets doodeenvoudig, doen moeite daarmee en maak dit smaakvol, andersins is dit beter om dit nie te doen nie. Vir haar is die basis van goeie kos om só kos te maak dat jy dit self kan geniet.


Besondere van
Die buitengewone van, De Chavonnes Vrugt, kom van Antoinette se gade wie se familie in die vyftigs vanaf Holland geïmmigreer het.
Dit het waarskynlik ’n oorsprong in die naam van die dorpie Les Chavonnes in Frankryk. Sy vertel die interessante geskiedenis van die De Chavonnes Vrugts se Hollandse voorsate wat in die Kaap geland het. Mauritz de Chavonnes was ? Kaapse goewerneur en sy broer Willem was in beheer van die garnisoen. Terug in Holland het ? afstammeling van die De Chavonnes, ’n hofsanger genaamd Vrugt, vir die koningin gesing en sy gee toe vir hom sy ouma se van terug. Die twee vanne is toe gekombineer en De Chavonnes Vrugt is gebore.


Inspirasie
Die nuwe boek gaan eintlik oor Antoinette se herinneringe, aan die tannies wat kos gemaak het en kos wat vir haar lekker is.
Francois Ferreira, sjef vir die destydse administrateur-generaal in Namibië en voor dit vir die staatspresident van Suid-Afrika, het sy besonder inspirerend gevind. Later het sy sjefs na die demonstrasiekombuis by Easy Life Kitchens genooi om sowat elke drie maande demonstrasies te hou omdat sy graag meer wou leer. Die bekende Suid-Afrikaanse koskenner en skrywer Cass Abrahams is ook na aan haar hart en hulle het al baie saamgewerk. In Life on a Table is daar stukkies uit haar en Cass se “Spice Route”. Verder is daar Jenny Morris, bekend as “The Giggling Gourmet”, ’n sjef en radiopersoonlikheid van Suid-Afrika, wat ook vir haar uitstaan.


Die wese van ? goeie kok
Vir Antoinette is dit passie wat jou ? goeie kok maak.
’n Mens moet eers die reëls ken voordat jy dit kan breek.
Daar is groot verskil tussen ? fyngebaksjef en ? gewone sjef. Sy beskou fyngebaksjefs as linkerbreinmense omdat hulle alles so presies doen. Sy doen dinge op ? kreatiewe manier en sê “ek kan die goed in my kop vir myself bymekaarsit”. Sy het ? intuïtiewe aanvoeling van watter bestanddele sal saamwerk, maar dring aan dat basiese kennis en tegniek belangrik bly.


Die begin
Antoinette het in Windhoek grootgeword in ? huis waar baie mense kom kuier het, van die president tot vriende en familie.
Haar ma, Marietjie Potas, was welombekend en haar ouers was baie betrokke by die sosiale en politieke lewe in Windhoek. Dit was opwindende tye en haar moeder het die selfvertroue gehad om “die wêreld” uit te nooi. Sy was egter " nie goed in die kombuis nie" en Antoinette het agtergekom dat haar vriendinne se ma’s baie lekkerder kos maak. So het sy begin om haar ma se kos “op te 'juice'” sodat dit ? bietjie beter smaak. Later was sy die een wat gekook het as mense kom kuier.


Die eerste kookboek – en toe die tweede
Die besluit om die eerste kookboek te skryf, was ‘n proses wat begin het toe Antoinette op haar reise begin kosboeke versamel het.
Sy wou altyd graag die verskillende lande se kos by haar eie huis maak, maar het dit moeilik gevind om in ’n land soos Frankryk goeie “huisresepte” in Engels te kry. Sy het vreeslik gesoek om iets anders as die “toeriste-kookboeke" in die hande te kry.
Antoinette glo " ? land se kos en kultuur en hoe die mense is" gaan alles saam. " As jy kyk na die petite Franse met hul hoëhakskoene en sykouse - hulle kos is ook so. En ons is vleismense. Ek wil die land se mense leer ken deur kos, deur wat hulle dit wat hul ma’s maak en nie wat jy in ? restaurant kry nie.”
Sy het toe besef dat hier nie so ’n boek in Namibië is nie, maar sy het nooit gedink sy sou die boek saamstel nie.
Ná ’n ontmoeting met Lanice Snyman van Suid-Afrika wat Rainbow Cuisine geskryf het, het sy vir Lanice uitgenooi om ’n soortgelyke boek in Namibië te kom skep. Daar het egter niks van gekom nie en toe sê iemand eendag vir haar sy moet net begin met die boek. Sy het toe vir Hentie Burger, ‘n natuurfotograaf, genader omdat sy nie " kosfotografie" vir die boek hê nie, maar Namibië wou " wys" . Vir haar was die kos amper ’n bysaak. So het die proses aan die gang gekom, met Christine Hugo wat die storie sou skryf.
Antoinette sê: “Dit was vir my so ? passie-ding. Ek het gevoel 'al het ek net ? paar boeke vir my kinders en familie'. Maar toe het daardie boek net so totaal en al sy eie lewe begin aanneem.”
Ná die eerste kookboek het Antoinette gesê sy gaan dit nie weer doen nie. Sy het gevoel “ek het nou alles gesê, dit is ? sukses, ek gaan dit nie weer herhaal nie, dit kan mos net nooit weer dieselfde wees nie”.
Suid-Afrikaanse uitgewers het egter begin navraag doen oor ? Namibiese boek, in Afrikaans, oor wildsvleis en so het die proses weer begin. Sy het vir Hentie en Christine genader en die drie het begin koppe bymekaarsit.
Die wildsvleistema het egter nie by Antoinette aanklank gevind nie. Sy het nog baie resepte gehad en gevoel daar is nog so baie dele van die land wat hulle kon afneem. Sodoende het die tweede kookboek begin gestalte aanneem. Sy beskou dit as ’n opvolg van die eerste boek.
Goeie nuus is dat Life on a Table vanaf Oktober in alle boekwinkels beskikbaar sal wees - betyds as Kersgeskenk vir kookentoesiaste.


Life on a Table – verskillend van My Hungry Heart?
Life on a Table is ? uitvloeisel van My Hungry Heart, maar Antoinette sê dit is in ’n ander liga aangesien almal wat betrokke was by die boek soveel geleer het met die eerste boek.
Vir Antoinette staan die twee boeke egter langs mekaar. “Hierdie een (Life on a Table) is amper die volwasse een. Die eerste een was baie kinderlik, in die sin van 'ons was almal net so onskuldig, ons het net so daarin geploeter, dit was ‘beginner’s luck’."
Life on a Table gaan meer oor Namibiese kos terwyl My Hungry Heart meer kosmopolitaans is. Antoinette beskryf die nuutste boek: “Hierdie een is onthoukos. Ek het gaan krap in my argiewe – die goed wat ek nie wil hê die kinders moet vergeet nie. Baie Namibies, baie plaas, wat die boere doen, en die Duitse invloed in ons kos. Ek het na ? tannie op ? plaas gegaan, dan het ons weer in die Caprivi by ? lodge foto’s geneem en kos gemaak. En op Solitaire op ? plaas goed gedoen.”


Sukses
Volgens Antoinette het iemand vir haar gesê dat as jy ’n duisend Namibiese boeke in jou leeftyd verkoop, is dit baie goed.
Met My Hungry Heart is 3 000 eksemplare binne ses weke verkoop. Akkolades het ingestroom en dit het die " Gourmand Cooking Awards" se prys gewen vir een van die twee beste kookboeke wêreldwyd van Afrika-cuisine. Wat vir Antoinette besonder verblydend was, is dat dit onder “Easy Cuisine” geklassifiseer is. “Ek voel kosmaak is maklik. Hierdie mense wat sulke baie ‘intricate’ goed bysit wil net af-'show’. Jy kan dit regtig baie maklik doen.”


Treffende titels
Die titel vir My Hungry Heart was die uiteinde van ’n proses van baie opsies oorweeg.
Uiteindelik het ? kopieskrywer met die titel vorendag gekom. Dit het ‘n rukkie geneem om op Antoinette “te groei”, maar het later vir haar reg gevoel.
Met Life on the Table het die skrywer, Christine, hard aan ’n naam vir die boek gewerk. Die naam het so saam met die boek gegroei en “op die ou end sê dit presies wat dit is”, sê Antoinette.


Gunsteling gereg
Antoinette het nie een gunstelinggereg nie - dit wissel gedurig.
Sy hou wel baie van “comfort food”. ‘n Voorbeeld hiervan is die Griekse gereg “Youvetsi” - lam in ’n geurige sous gekook en dan saam met pastarys in die oond gebak. Sy sou dit nie as boerekos beskryf nie, maar as huiskos.


My ma se kos
As ’n bobaaskok wat kookkuns baie suksesvol bemeester het, is Antoinette geamuseerd oor haar ma se gebrek aan sukses op die gebied.
Sy vertel die staaltjie toe sy deur die destydse Suid-Wes Afrikaanse Uitsaaikorporasie genader is om oor haar ma se kos te praat. Haar pa het gedink dit is baie snaaks, want daar was “regtig nou nie een ding wat ek kan aanbeveel nie”. Die omroeper het haar hele reeks afgesluit met Antoinette en haar ma wat praat oor haar ma se slegte kos!


Kookstyl
“Kos moet altyd lekker smaak en my huiskos is nie die volgende ou se huiskos nie” beskryf Antoinette haar kookstyl.
Sy het baie ander cuisines geleer voordat sy boerekos begin maak het. Uit elke cuisine is daar dan iets wat vassteek wat later deel van jou huiskos word en dit is die tema van Life on the Table. “Elke een het ons eie lewe op ? tafel. Ons bou elkeen aan ons eie lewe op ? tafel,” is haar gevolgtrekking.


Kosgeheime
Volgens Antoinette maak mense kook altyd moeilik.
“Dit is so ? berg. Ek praat nou nie van bak nie - dit is vir my ook ? berg.” Sy vind die Italianers se manier om min bestanddele bymekaar te sit en dan ‘n lekker dis te maak wonderlik. Die antwoord is vir haar in die vereenvoudiging van geregte. Sy verwys weer na Italiaanse kookkuns en vertel “hulle meng botter en ‘sage’ en sit dit op pasta en dis baie lekker. Maar dan gaan jy nou nie margarien probeer gebruik nie, want dan sal niemand dit wil eet nie. So as ek byvoorbeeld op die plaas is en daar is vars tamaties dan maak ek my eie tamatiesous. Ek hou daarvan om alles self te maak. Ek koop nie ? pakkie sous of ? blikkie nie. Ek meng ook my eie speserye.”


Namibiërs en kos
Antoinnette is nou al baie jare in die spysenieringsbedryf en in die begin het sy gepoog om mense se kossmaak te verander.
Met haar betrokkenheid by die beoordeling van die Nasionale Braaikompetisie het sy baie boere leer ken en hulle word definitief moeilik verlei met gekompliseerde kos.
“Hulle sal so ’n bietjie esperimenteer met ’n paar goedjies, 'n bietjie ander speserye of so.” As daar hoender, vis of vark voorgesit word, sal hulle vinnig sê dat hulle “regte” kos by die huis het. Vir die Namibiese boere is vleis definitief die belangrikste deel van ‘n maaltyd. Sy sê: “Dit moet nog steeds vleis wees, dit kan ek ’n bietjie anders maak”.
Aan die ander kant is Windhoek vir haar baie kosmopolitaans. Sy vertel van etes waar sy en haar vriendinne om die beurt elke maand ’n ander cuisine maak en so die internasionale koswêreld ontdek het. Die weerstand vir nuwe invloede in kookkuns is vir haar nie die gevolg van ‘n generasiegaping nie, maar eerder verskillende benaderings in die stad en op die platteland. Die platteland is meer tradisioneel en veranderinge in kosmaak vir die boere kan net op klein skaal geskied soos om bv. uie in plaas van agurkies in aartappelslaai te sit en nie iets heel nuut met aartappels aan te pak nie.


Kos-motto
Volgens Antoinette leer ’n mens elke dag iets nuuts en dit is vir haar belangrik om eenvoudige kos te maak en moeite daarmee te doen.
Oor sommige restaurante laat sy haar soos volg uit: “In restaurante betaal jy baie, en ek is nie baie puntenerig nie, maar as ek dan daar sit en ? eenvoudige ding is so smaakloos dan is ek sommer kwaad, want hulle mors my alles op, hulle mors my kalorieë en hulle mors my tyd en my geld, jy weet. En as jy op die menu sê dit is ? Bearnaise sous, dan maak ? Bearnaise sous – anders sê jy dit is ? witsous of dit is ? 'whatever'. Maak liewer jou eie ding, maak jou ma se mostertsous en sê dit so, moenie sê dit is ? Dijon-sous nie. “


Lewensuitkyk
Antoinette noem haar boeke en deel van kosgeheime ’n liefdesprojek.
“Dit is vir my ’n voorreg om te kan deel. As iets mooi en lekker is, is dit is vir my só lekker om te deel. As ek kosmaak ook. Dit kan mos nie lekker wees om iets moois te hê en dit nie te deel nie.”
Sy is vrygewig met haar resepte. “Ek deel, want ek voel elke mens maak dit anders, al gebruik jy net ’n ander teelepel. Ek voel juis hierdie goed moet voortgaan.” Die terugvoering wat sy oor My Hungry Heart gekry het, was vir haar ’n riem onder die hart. Sy het byvoorbeeld ’n student in die straat raakgeloop wat toe vir haar sê: “Tannie, ek sit in Ierland en ek kook uit jou boek.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!