Korrupsie bly doring in vlees
Ontleders is van mening meer politieke rolspelers sal bydra tot beter verantwoordbaarheid.
Jemima Beukes – Met die oog op meer politieke rolspelers wat aanstaande maand aan die verkiesings deelneem, glo ontleders dít sal groter verantwoordbaarheid teweeg bring.
Dit kom te midde van stygende korrupsie wat die druk op die regerende party laat toeneem en kiesers wat daarop aandring dat dié euwel uitgeroei word.
Die plaaslike ekonoom dr. Omu Kakujaha-Matundu skryf korrupsie en die plundering van openbare hulpbronne toe aan ’n sterk politieke kabaal.
Syns insiens regverdig dié toedrag van sake ’n volslae hersiening van plaaslike owerhede en streekrade.
Selfs al sou die kabaal nie ontsetel word nie, sal ’n sterk opposisie dit aanspreeklik kan hou, meen Kakujaha-Matundu.
“My grootste bron van kommer is die beweerde korrupsie by die Windhoek-munisipaliteit (CoW). Dit beroof belastingbetalers van broodnodige dienste, terwyl belastingbetalers terselfdertyd gemelk word om die sakke van die korrupte raad- en bestuurslede te vul. Ek is hoopvol dat die komende verkiesing die regerende kliek by CoW sal vervang.”
Kakujaha-Matundu het voorts gereageer op die hoë aantal gekwalifiseerde ouditmenings wat sommige plaaslike owerhede se voorland bly omdat hulle sukkel om verantwoording te doen vir die geld wat hulle by die sentrale regering ontvang.
“Verantwoordbaarheid het te doen met deursigtigheid. Daar moet niks deur jou portuurgroep of hoofde toegesmeer word nie. Indien daar ’n goed beplande bedoeling of sameswering is om openbare fondse te misbruik, vlieg verantwoordbaarheid by die venster uit. Niemand sal aan die pen ry nie en die kringloop duur voort ondanks gekwalifiseerde ouditmenings. Dit word ’n ewigdurende probleem.”
PLIGSVERSUIM
Luidens die verslag van die ouditeur-generaal (OG) vir die finansiële jaar geëindig 30 Januarie 2018 het die Gobabis-munisipaliteit versuim om ouditeurs van inligting te voorsien om die saldo vir behuisingsdebiteure ten bedrae van N$ 5 496 349 te staaf.
Wat die OG-verslag vir dieselfde jaar van die Okahandja-munisipaliteit betref, kon die tuindorp ook geen stawende dokumentasie verskaf om onder meer belasting op toegevoegde waarde-eise ten bedrae van N$49 096 435 te verduidelik nie.
Hiernaas het die OG ook gewys op ’n onverklaarde verskil van N$10 622 680 tussen die kasboeksaldo en die bankrekonsiliasie en die saldo soos uiteengesit in die jaarstate.
Luidens die Namibia Economic Outlook wat in Augustus deur Cirrus Securities gepubliseer is, sal meer nie-Swapo-lede as vantevore waarskynlik vanjaar tot die Nasionale Raad (NR) verkies word.
Ofskoon Swapo moontlik nie die meerderheidhouvas op die NR sal kwyt wees nie, sal daar vir seker meer ontwrigting en weerstand wees wat die hersiening van wetgewing betref wat na die NR verwys word, lui die verslag.
“Sou die meerderheid van die raadsposisies in die opposisie se hande beland, kan die wetmakende proses erg beperk word – onderworpe aan beduidend meer ondersoeke en verpolitisering, en in die algemeen meer betwis word as wat die geval in die verlede was. “
Aangesien die regerende party nie meer oor ’n tweederdemeerderheid in die Nasionale Vergadering (NV) beskik nie, sal Swapo nie meer wetgewing sonder die opposisie se instemming kan stoomroller nie – veral nie sonder die steun van ministens een opposisiepartylid in die NV nie, lui die verslag.
FRUSTRASIE LOOP DIK
Die politieke ontleder dr. Henning Melber meen plaaslike misbruik van fondse het aanleiding gegee tot baie frustrasie en het ’n direkte impak, hoewel dalk in kleiner dimensies.
Melber het voorts gesê onlangse korrupsieskandale, vererger deur die sogenaamde Fishrot-skandaal, het ook bygedra tot opposisie teen die sentrale regering en het die vertroue in Swapo nadelig geraak.
“Die onvermoë om basiese openbare dienste en kommoditeite te lewer, het ’n impak op daaglikse lewe en uitdagings. Dit maak plaaslike owerhede ’n direkte teiken vir ontevredenheid.
Geskoei op die voetsoolvlaksentiment en die sosiale agenda van sommige kiesers en kandidate, is daar hoop vir hokaairoepers en die openbare teenkanting van verkwisting en magsmisbruik, het hy gesê. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie