Kragplan ’n ‘politieke kompromis’
Francois Williams En William Horne – Suid-Afrika se jongste krag-bloudruk is ’n politieke kompromis om kernkrag- en steenkoolbelange tevrede te probeer hou, meen prof. Anton Eberhard, ’n afgetrede professor van die Universiteit van Kaapstad se nagraadse sakeskool.
Eberhard, ’n vorige kommissaris van die nasionale beplanningskommissie en een van pres. Cyril Ramaphosa se adviseurs oor energie, het Donderdag in ’n artikel op die nuusdiens Daily Maverick gewaarsku dat ’n behoorlik opgedateerde geïntegreerde hulpbronplan (IRP) krisisse soos Eskom se huidige beurtkrag sou kon help vermy.
Dit blyk dat Eberhard reeds insae gehad het in die nuwe IRP wat die kabinet Woensdag goedgekeur het.
Volgens hom sluit dit die bou van nuwe kernkrag- en steenkoolkragstasies in. Die plan word eers Vrydag amptelik in die Staatskoerant gepubliseer.
Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het vroeër gesê die plan maak ook voorsiening vir groter jaarlikse kwotas van wind- en sonkrag, asook gaskragstasies. Mantashe hou Vrydag ’n spesiale mediakonferensie om die regering se jongste bloudruk vir kraglewering tot 2030 te verduidelik.
’n Konsepweergawe van die IRP wat verlede jaar uitgereik is, het voorsien dat nuwe kernkragstasies eers ná 2037 nodig sal wees.
Die langverwagte nuwe IRP is ’n plan wat in 2011 vir die eerste keer gepubliseer is, maar veronderstel was om deurlopend bygewerk te word.
Die randdollarwisselkoers het Donderdag in reaksie op die nuus oor die kabinet se goedkeuring van die IRP tot onder R14,80 versterk. Ontleders beskou dit as welkome nuus vir internasionale beleggers, want dit skep ’n mate van beleidsekerheid.
’n Groter jaarlikse kwota van nuwe hernubare energie in die IRP kan internasionale voorsieners van dié tegnologie oortuig om hul planne vir die bou van fabrieke vir groenkragtoerusting soos windturbines en sonpanele te hervat.
In die jare van Jacob Zuma se bewind is die IRP in omstredenheid gehul toe die oudpresident se trawante nuwe kernkrag by die plan wou indwing, ondanks die feit dat die swak ekonomiese groei en die staat se beursie nie ’n reusagtige en duur kernkragbouprogram regverdig nie.
Die jongste IRP stel nege ingrypings voor om seker te maak Suid-Afrika het genoeg krag vir die volgende dekade, het ’n verklaring van die kabinet Donderdag gelui.
Mantashe het vroeër in Oktober gesê die IRP maak ruimte vir die snelle uitbreiding van hernubare energie as deel van die land se energiemengsel. Kernkrag is wel ook in die IRP se vooruitsig, maar dit sal, volgens Mantashe, slegs teen ’n tempo en omvang gebou word wat bekostigbaar is.
Die IRP sal deurlopend uitgebrei en aangepas word, het hy belowe.
Die nuwe plan is gegrond op die beginsel om die goedkoopste kraginfrastruktuur te bou wat aan die kragvraag sal voldoen, terwyl dit steeds Suid-Afrika sal help om sy omgewingsteikens vir laer kweekhuisgasvrystellings te haal, het die departement van minerale hulpbronne en energie in ’n verklaring gesê.
Eberhard verwag egter regsoptrede teen die IRP van juis die kernkrag- en steenkooldrukgroepe omdat hulle sal meen hulle trek aan die kortste end, terwyl omgewingsgroepe ook teen die plan te velde sal trek omdat dit steeds vir die bou van nuwe steenkoolkragsentrale voorsiening maak.
Die gevolge van die onafwendbare internasionale skuif weg van steenkool af word geïgnoreer, skryf Eberhard in sy kommentaar op die plan.
Ntombifuthi Ntuli, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging (Sawea), sê sodra die IRP gepubliseer is, moet daar vinnig weggespring word met die bou van die nuwe windplase.
“Windkrag moet ’n groot deel wees van die energiemengsel want dit kan vinnig gebou word en sal die koste van elektrisiteit in Suid-Afrika verlaag.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie