Krimpende ekonomie en die boer se beursie
Krimpende ekonomie en die boer se beursie

Krimpende ekonomie en die boer se beursie

Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher - Volgens Statistiek Suid-Afrika het die Suid-Afrikaanse ekonomie in die eerste kwartaal van 2018 met 2,2% gekrimp.

Hierdie afleiding is gemaak op grond van die feit dat die bruto binnelandse produk (BBP) in die eerste kwartaal vanjaar 2,2% kleiner was as 'n jaar gelede.

Die verandering in die BBP word deur verskillende faktore veroorsaak, waarvan die bydrae wissel volgens die relatiewe belangrikheid van die sektor.

Die landbousektor het in die eerste kwartaal van vanjaar met meer as 24% gekrimp - wat die totale ekonomie ook negatief beïnvloed het. Landbou se inkrimping het die BBP met 0,7% laat daal.

Waarnemers skryf die ver­swakkende posisie van landbou hoofsaaklik toe aan die droogte in die Wes-Kaap se impak op tuinbouproduksie.

Indien 'n land se ekonomie twee agtereenvolgende kwartale negatief groei of krimp, kom 'n resessie voor.

Die ekonomie moet groei by wyse van belegging en gevolglike groter aanbod, wat weer 'n groter vraag moet bevredig. Groter vraag is gewoonlik die gevolg van kopers wat meer wil en kán bestee.



VERBRUIKERS IS VOOS

Dié tendens is tans grootliks afwesig in die ekonomie, hoewel daar tog geringe tekens is dat verbruiksbesteding weer sy kop begin oplig. Dit is nog nie wesenlik nie, maar ekonome wys daarop dat kleinhandelverkope styg en dat sekere kettinggroepe se syfers dit boekstaaf.

Die onlangse rentekoersverlaging het verbruikers 'n kans gegun om skuld te konsolideer, en hoewel daar tekens is van verhoogde verbruiksbesteding, is die algemene verwagting dat sulke stygings met groot omsigtigheid sal gebeur.

Verbruikers sal na verwagting versigtiger koop en nie net indons nie.

Verhoogde verbruiksbesteding alleen is egter nie volhoubaar op die lange duur nie - dit kan vergelyk word met 'n energiedrankie of opkikker waarvan die invloed gou uitgewerk is.

Werkskepping, wat op 'n vergrote aanbod volg, wat op die beurt weer op belegging in kapasiteit volg, moet die ekonomie aan die gang kry.

As die ekonomie bly inkrimp of te stadig groei, is werkverliese die gevolg en minder mense verdien besteebare geld. Wat van nog groter belang is, is die geld in die sak van die verbruiker.

Dit word bepaal deur vergoedingsvlakke, asook deur wat belasting en administratiewe uitgawes soos elektrisiteit, water en energie aan die ­verbruiker doen.

INVLOED VAN DUURDER ­BRANDSTOF

Die onlangse skerp styging in die prys van brandstof en ­verhoogde belasting verlaag besteebare geld en verbruikers begin meer let op wat verder kan gebeur.

Hoewel daar bewyse is van onvoldoende besparing vir mense se oudag, is daar bewyse dat verbruikers duur lesse geleer het uit té hoë skuldvlakke, en met skuld onder groter beheer is die verwagting dat verbruikers groter diskresie aan die dag gaan lê voor hulle koop.

Landbou is afhanklik van wat op verbuikersvlak gebeur. Meer geld vir kos is ­uitstekende nuus vir boere, mits die meer geld hoër pryse by die plaashek beteken.

Die verhoogde brandstofpryse is vir die ­rekening van die boer, want hy kan dit nie aangee na die afnemers van sy produkte nie. Die afnemers kan dit wel doen, want as pryse op die winkelrak styg, word stygende koste vanaf die plaashek as rede aangegee.

Boere sal ook wil sien dat ­verbruikers se veranderde eetpatrone deurvloei na die plaashek, maar is bedag daarop dat ­verbruikers meer en meer toe­gevoegde waarde koop. Koring verlaat die plaashek, maar die verbruiker eet brood. Namate die ­trans­formasie van die koring duurder word, dwing dit die prys by die plaashek af en verhoog die prys vir die verbruiker, maar dit gebeur nie ewe­redig nie.

'n Welvarende ekonomie met lae werkloosheid het die kapasiteit om geld te bestee, en landbou se visie is om binne daardie spasie te presteer.

Die omgekeerde is egter ook waar, want as dit sleg gaan met die verbruiker, sny hulle maklik en eerste aan die kosrekening.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!