'Kritieke punt' vir gemsbokbevolking
'Kritieke punt' vir gemsbokbevolking

'Kritieke punt' vir gemsbokbevolking

Die getalle van verskeie wildspesies in die noordweste is kwynend en is waarskynlik deels aan stropery te wyte, wys die jongste wildtelling.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Gemsbokgetalle in die noordweste van die land het ’n kritieke punt bereik, terwyl die kwynende getalle van verskeie ander wildspesies in die gebied onsekerheid oor hul voortbestaan skep.

Volgens statistiek wat onlangs vrygestel is deur Nacso, Namibië se sambreelorganisasie vir die Gemeenskapsgebaseerde Natuurlike Hulpbronnebestuurprogram (CBNRM), is daar rede tot kommer oor die gebied se wildbevolkings.

Dit volg nadat ’n wildsensus vanjaar in Mei en Junie van stapel gestuur is. Alle wild in die suide se ses bewaringsgebiede, by die Hardap- en Nautedam, die vyf bewaringsgebiede in die sentrale noorde asook in die noordweste is getel.

Laasgenoemde gebied se sensus wys egter die voortbestaan van talle wildspesies is “onseker” en ’n kritieke punt vir gemsbokke is bereik. Hierbenewens is ’n ernstige afname in die getalle van koedoes ook waargeneem.

Nanso reken die noordweste se totale gemsbokbevolking staan tans op sowat 1 296, vergeleke met ’n gemiddeld van 22 010 tussen 2001 en 2020. Daarbenewens is na raming ook net sowat 868 koedoes oor, teenoor ’n 20-jaargemiddeld van 3 360.

“Die verbysterende inkrimping van gemsbokgetalle kan nie alleenlik verklaar word deur trofeejag, droogte (dis ’n woestynaangepaste dier) of kompetisie met vee (veegetalle het tydens die droogte drasties gedaal) nie,” lui die verslag.

“Covid-19 se beperking op die beweging van mense, beteken die wild-oes vir alle spesies was laag. Terselfdertyd beteken dit ook minder mense was teenwoordig om stropery te bekamp.

“Van al die vrektes wat in bewaringsgebiede aangeteken is, was net 9% gemsbokke en 14% koedoes.

“Sowat 60% van al die gemsbokke is binne die konsessie-gebiede gesien. Ondersoek moet van stapel gestuur word en opde is nodig teen die ernstige impak van moontlike onwettige stropery,” lui die verslag.

Hartmann-sebras se getalle staan vanjaar ook op 5 567 – veel laer as die 20-jaargemiddeld van 15 100. Volstruise se bevolking is tans ook 3 424 sterk teenoor ’n gemiddeld van 7 010, springbokke staan op 62 870 teenoor die gemiddeld van 92 090 en steenbokke op 3 545, teenoor die gemiddeld van 10 220.

Die noordweste het vier verskillende subgebiede – bewaringsgebiede suid van die veterinêre kordonheining, bewaringsgebiede noord daarvan asook die konsessiegebiede Palmwag, Etendeka en Hobatere, waar wild nie geskiet word nie.

“Daar is ’n duidelike verskil tussen die digtheid waarin wild voorkom tussen die gebiede en die konsessiegebiede. Wild kom meer geredelik in laasgenoemde voor, terwyl die suidelike gebiede minder wild het.

“Palmwag en Etendeka, wat net sowat 9% van die gebied verteenwoordig, bied belangrike beskerming vir talle wildspesies. Tydens wildtellings word jaarliks dikwels radikale verskille in getalle bespeur, wat ’n aanduiding is dat wild tussen die konsessies, die Skedelkus, bewaringsgebiede en private grond beweeg.”

Nanso gee egter gelyk dat wild misgetel kan word omdat tot 43% van gebied nie tydens die tellings ingesluit word nie.

Die fundamentele doel van wildtellings in kommunale gebiede is sodat bewaringsgebiede asook die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme bewus kan wees van wildgetalle en die bestuur daarvan kan aanpas.

Volgens Nanso is die wildbevolking in die noordweste in die 1980’s beduidend deur ’n kombinasie van ’n ernstige droogte asook stropery getref. Gemeenskapsbewaring, wat sedert 1996 formeel deur bewaringsgebiede toegepas is, het gehelp dat wildgetalle herstel deur wildoeste te beheer en stropery doeltreffend te beveg.

Tussen 1996 en 2012 het die meeste spesies stabiele of groeiende bevolkingsgetalle ervaar. ’n Uitgerekte droogte het egter intussen bygedra tot ’n deurlopende vermindering in die getalle van verskeie wildspesies.

Volgens Nanso is dit onduidelik tot hoe ’n mate stropery tot die vermindering bygedra het.

Die getalle van roofdiere soos leeus, luiperds, jagluiperds, hiënas en jakkalse het aanvanklik drasties verhoog, maar is nou meer gelykmatig terwyl sommige se getalle selfs effens gekrimp het.

In reaksie op die krimpende wildgetalle, is amptelike wild-oeste deur beheerde jag sedert 2014 verminder om wildgetalle te help herstel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!