Krönlein primêr bou skoolsaal

Droom besig om ’n werklikheid te word
Gerine Hoff
Na jare van swoeg en sweet om geld in te samel vir 'n skoolsaal, is een skool se droom nou besig om waar te word.
Die eerste fase van die Primêre Skool Krönlein op Keetmanshoop se saal wat gebou word, het onlangs begin. Die skool het sy deure in 1972 geopen.
Een van die onderwysers, mnr. Christiaan Uth, het gesê met die afskop van die eerste fase is daar nou geen rede hoekom die droom van 'n skoolsaal nie 'n werklikheid kan word nie. Leerlinge en onderwysers is duidelik opgewonde oor die idee dat hulle oor drie of vier jaar nie meer byeenkomste in die son hoef te hou nie.
Die skool, waar 1 120 leerlinge skoolgaan, maak voorsiening vir 1 200 sitplekke in die saal wat aan die agterkant van die skool gebou word.
Mnr. Reon van Wyk, nog ’n onderwyser by die skool, het gesê een van die groot voordele as hulle hul eie saal gaan hê, is die besparing van geld, want dan hoef hulle nie meer ander skole se sale vir geleenthede te huur nie.
Die direkteur van onderwys vir die //Karasstreek, mnr. /Awabahe //Hoeseb het gesê daar is nie vir die volgende drie jaar geld vir die bou van skoolsale in die streek nie. Hulp is egter in die vorm van tegniese kundigheid en meubels belowe. Met temperature wat soms tot meer as 40 grade Celsius in die Suide styg, het hy gesê daar sal ook na die aankoop van lugverkoelers gekyk word.
Volgens hom kan die belangrikheid van ’n skoolsaal nie genoeg beklemtoon word nie, want skole moet vir leerlinge se fisiese en geestestoestand voorsiening maak.
“Dit is onbetwisbaar dat 'n probleem deur innoverende denke in ’n geleentheid omskep kan word en struikelblokke oorbrug kan word,” het //Hoeseb gesê.
Hy het die skool aangeraai om deursigtigheid toe te pas aangaande die bestuur van die geld vir die saal, “want mense hou op geld skenk as hulle sien dat iemand die geld vir persoonlike verheerliking gebruik".
//Hoeseb het gesê sodra die saal voltooi is, sal die ministerie van werke en vervoer die instandhouding daarvan behartig.
“Toekomstige geslagte sal onthou wat julle gedoen het,” het hy gesê.
Die direkteur het sakelui van die dorp en die streek bedank vir hulle voortdurende ondersteuning en het die hoop uitgespreek dat hulle so sal aanhou.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!