Kuur vir gewrigspyn open deure
Kuur vir gewrigspyn open deure

Kuur vir gewrigspyn open deure

Nadat hy eers begin oefen het om die effek van artritis teen te werk, het Marius Johannes nou sukses op Statebondvlak gesmaak.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - “Waar is die sterk mense en kragoptellers van Namibië? Ek hoop ons het volgende jaar 'n behoorlike verteenwoordigende span om saam met my in die wêreldkampioenskap in Kanada te gaan deelneem.”

Só sê Marius Johannes, die 43-jarige inwoner van Tsumeb wat as 'n spesialis in sakeverbetering by Dundee Precious Metals werk.

Johannes het bo verwagting goed gevaar by die Statebond-kompetisie vir kragoptel wat laas naweek op Potchefstroom aangebied is. Een goue medalje en twee bronsmedaljes (insluitend vir die algehele derde posisie in sy kategorie) is waarmee hy na die noorde van Namibië teruggekeer het.

Mans en vroue van onder meer Kanada, Nieu-Seeland, Trinidad en Tobago, Engeland, Suid-Afrika (twee spanne), Wallis, Indië, Namibië, Skotland, Noord-Ierland en Sri Lanka het aan die tweejaarlikse byeenkoms deelgeneem.

“Dit was die eerste keer dat Namibië daar was en ook by die Internasionale Kragoptelfederasie geaffilieer is,” sê Johannes.

Kragoptel bestaan uit drie items en elke deelnemer se totale word bymekaar getel vir bankstoot (bench press), dooiegewigoptel en hurk (squat).

Johannes het in die meestersklas (40-49 jaar) vir mans met 'n liggaamsgewig van hoogstens 105 kilogram deelgeneem. Sy goue medalje is in die bankstoot ingepalm toe hy op 160 kg geslaag het. “My persoonlike beste is 180 kg, maar jy weet mos 'n mens vries soms as jy op die groot oomblik in die kollig is.”

In die dooiegewigoptel het hy op 255 kg geslaag en daarna 'n ambisieuse poging op 280 kg aangewend om 'n silwermedaljeposisie te probeer losslaan, maar kon dit nie regkry nie.

Hy het 'n bronsmedalje met die hurk ingepalm (190 kg), terwyl sy gesamentlike totaal van 605 kg hom ook die algehele brons besorg het.

“My persoonlike beste totaal vir die drie items is 665 kg.

“Die kompetisie was baie intimiderend, maar ook inspirend; die streng tegniese reëls was vir my nuut; die tipe gewigte en ander apparaat wat gebruik is, het ek nog nooit tevore gesien of vasgehou nie,” vertel hy.

“Daar was een tegniese beoordelaar van Japan wat besonder streng was. Hoewel ek met meer as 50 persent van my pogings gefaal het, het ek my opponente steeds van agter af ingehaal. Ek het foute gemaak, maar nou het ek die ondervinding.”

By die Statebond-kompetisie op Potchefstroom was enige gebruik van steroïde verbode en deelnemers is nie net tydens die kompetisie getoets nie, maar kan ook enige medaljes verbeur indien hulle buite die kompetisieseisoen met 'n positiewe uitslag betrap word.

Sommige lande se beste kragoptellers beoefen die sport al vir dekades op 'n voltydse grondslag, of is eienaars van gimnasiums.



BEGINDAE

Johannes sê hy beoefen kragoptel nou maar vir sowat drie jaar en oefen soggens en saans in 'n gimnasium op Tsumeb.

“Ek het die sport begin omdat ek met artritis gesukkel het en toe gelees het dat spieroefeninge help om die ongemak teen te werk. Ek het toe met gewigte begin oefen en eendag het ek per ongeluk aan 'n kompetisie deelgeneem.

“Van daai dag af het ek gesien my syfers lyk heel belowend en daar het ek besluit om die ding meer ernstig op te vat. Ek was nog altyd 'n aktiewe mens, maar kragoptel het ek maar eers onlangs begin aanleer. Soos gesê, was dit aanvanklik om gesondheidsredes, maar deesdae is dit die ambisie van kompetisies wat my aandryf.”

Oor artritis sê hy dat die gewigoefeninge in sy geval beslis 'n merkbare positiewe uitwerking gehad het. “Ek sukkel nie meer met gewrigspyne nie.”

Volgens hom is daar baie talent vir kragoptel in Namibië en behoort mense met die vermoë die groter moontlikhede in die sport raak te sien. Johannes oefen steeds in 'n gimnasium op sy tuisdorp, maar sal moontlik gebruik maak van 'n aanbod deur 'n Noord-Ierse kragopteller vir wie hy op Potchefstroom ontmoet het, wat gewillig is om aanlyn met sy afrigting behulpsaam te wees.

In die Statebond-kompetisie is sy oë geopen oor hoe ernstig ander lande die sport opneem.

“Ons drie Namibiërs het 'n bietjie soos weeskinders gelyk. Al die ernstige lande stuur gewoonlik twee atlete in elke kategorie en 'n land soos Indië se regering betaal die koste vir nog twee bykomende beamptes per atleet – hetsy dit 'n afrigter, fisioterapeut, voedingskundige of 'n spandokter is.”

Die ander twee Namibiërs op Potchefstoom was Sebastian Menn en Joshua Bell, wat beide in die strawwe 93 kg ope klas meegeding het.

Enigiemand in Namibië wat belang stel om kragoptel met 'n mate van erns te takel, sal bereid moet wees om die koste van sy sport self te dra. “Jou klerasie kan jou in die begin omtrent N$8 000 uit die sak jaag en voedselaanvullings kan nog N$2 000 per maand wees. Dan moet jy ook jou vlieg- en verblyfkoste vir kompetisies in ag neem,” maan Johannes.

Minstens twee of drie kompetisies per jaar sal nodig wees om jou skerp vir kompetisies te hou, “sodat jou senuwees nie oorneem en jou vertoning in die wiele ry nie”.

Johannes is nietemin vuur en vlam dat daar baie talent vir die sport in Namibië is en dat volgende jaar se wêreldkampioenskap vir meer landgenote 'n doelwit behoort te wees.

“Dit is die mees aansienryke byeenkoms in die sport en daar is 30 000 toeskouers en 'n atmosfeer wat vir niks skrik nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!