Kyk, 'ons het ons eie Angela Merkel'

Estelle de Bruyn
Theresa May, nuwe Britse premier, gaan ’n staatsdepartement skep om Brittanje se onttrekking aan die Europese Unie (EU) te hanteer.
Sy het gesê die departement sal gelei word deur iemand wat ten gunste van die onttrekking, bekend as Brexit, is.
Ondanks druk van ander EU-lede dat die onttrekking so gou moontlik aan die gang moet kom, het May gesê sy sal haar nie laat aanjaag nie. Dit is onwaarskynlik dat sy haar voor volgende jaar sal beroep op art. 50 van die EU se grondwet wat ’n onttrekking aan die EU in werking stel.
“Ek dink die gevoel in die kabinet was dat ons nou ons eie Angela Merkel het,” het Jeremy Hunt, minister van gesondheid in Cameron se span, Woensdag ná die laaste vergadering van sy span gesê.
“Ons het ’n besonder taai, vasbeslote en beginselvaste persoon om die onderhandelings (oor Brexit) te lei,” het Hunt gesê.
Merkel, Duitse bondskanselier, sal May se belangrikste bondgenoot op die vasteland wees terwyl die Brexit-onderhandelings ontvou.
Albei vroue is bekend om hul fermheid, pragmatisme en dissipline.
May het voor die referendum daarvoor baklei dat Brittanje in die EU bly, maar nou sê sy “Brexit beteken Brexit” en sy is vasbeslote om die vertrek te laat slaag.
May het dadelik ’n nuwe kabinet begin saamstel. Dit is ’n ingewikkelde politieke balanseertoertjie waarin sy almal in haar party moet probeer tegemoetkom.
“Natuurlik sal Theresa seker wil maak dat sy die sienings van die verskillende dele van die party in ag neem,” sê Chris Grayling, die minister wat May se veldtog om die leier te word gelei het.
George Osborne, die Britse minister van finansies, het gisteraand uit dié pos bedank en is deur Philip Hammond vervang.
David Davis, wat vir Brexit voorbrand gemaak het, kry die ministerspos wat die EU-onttrekking moet hanteer.
Boris Johnson, ’n Brexit-leier en omstrede voormalige burgemeester van Londen, is as minister van buitelandse sake aangewys.
May sal dalk meer teëspoed in haar eie Konserwatiewe Party op die lyf loop as van die beleërde Arbeidersparty. Maande van stille ontevredenheid met Jeremy Corbyn, dié party se leier, het tot uitbarsting gekom toe die meeste van sy partylede hom verkwalik het omdat hy volgens hulle te min gedoen het om Britte te oorreed om in die EU te bly.


KONINKLIKE VERSOEK
May is Woensdagaand na die Buckingham-paleis, waar koningin Elizabeth II haar amptelik gevra het om die premier te word.
Sy is daarna by 10 Downing Street verwelkom.
Nadat sy haar nuwe kantoor gewys is, sal een van haar eerste take wees om “die brief oor die laaste opsie” te skryf. Dié brief bevat opdragte aan die bevelvoerders van die Trident-missielduikbote oor wat om te doen as Brittanje deur ’n kernaanval getref word.
Sir Nicholas Houghton, hoof van die verdedigingstaf, sal haar inlig oor watter skade ’n Trident-missiel kan aanrig. Sy sal dan alleen gelaat word om vier identiese briewe per hand te skryf.
Die briewe – wat waarskynlik bevele soos “veg terug” en “aanvaar die VSA se bevele” sal bevat – sal in twee kluise in die beheerkamer van elk van die vier duikbote gesit word.
Die briewe word vernietig wanneer ’n premier die pos verlaat, dus weet net die betrokke leier wat daarin staan.
Wat is volgende vir David Cameron?
Aanbieder van Top Gear, om ’n sokkerspeler te word of dalk die president van die VSA?
Toe David Cameron Woensdagmiddag sy afskeidsrede in die Britse Laerhuis gelewer het, is sy siel behoorlik uitgetrek.
Danny Kinahan, ’n Ulster Union­ist-LP, het Woensdag goedig met die uittredende premier geskerts tydens Cameron se laaste vraag-en-antwoordsessie in die parlement.
Cameron het hom bedank vir “fassinerende voorstelle vir toekomstige werk”, maar “die meeste hiervan klink moeiliker as hierdie een, so ek sal liewer nie”.
Cameron het die parlement met ’n klomp afskeidsgrappies vermaak.
“Ek het vanoggend met kollegas en ander mense vergader. Benewens ’n vergadering met haar koninklike hoogheid, is my dagboek vir die res van die dag opmerklik leeg,” het hy in ’n stampvol, laggende laerhuis gesê.
Hy het om 16:00 sy amptelike bedanking by Buckingham-paleis gaan indien.
Cameron het sy laaste optrede as premier gebruik om met sy regering se prestasies te spog, soos een van die vinnigste groeisyfers in die Westerse wêreld, die verkleining van die begrotingstekort, die skep van 2,5 miljoen werkgeleenthede en die wettiging van gay-huwelike.
Ondanks die ernstige omstandighede, was die laerhuis in ’n ligsinnige luim en Cameron het Jeremy Corbyn, beleërde opposisieleier van die Arbeiders, geterg.
“Ek begin sy deursettingsvermoë bewonder. Hy herinner my aan die swart ridder in Monty Python se Holy Grail. Hy is al soveel keer geskop, maar hy sê: ‘Hou aan, dis net ’n vleiswond!’ “Ek bewonder dit,” het Cameron gesê.
In Holy Grail word die swart ridder se arms afgekap, maar hy gee nie op nie en sê: “Dis net ’n vleiswond.”
Twitter was daarna propvol grappies oor Corbyn, ook ’n Duitse spotprent wat Cameron as die eintlike noodlottig beseerde ridder uitbeeld. Corbyn het terug geterg en gesê daar is ’n gerug dat Cameron aan Strictly Come Dancing gaan deelneem nadat ’n deelnemer die trekpas gekry het.
“Kan hy bevestig of dit waar is,” het Corbyn geterg.
Larry, die 10 Downing Street-kat, was ook onder bespreking.
“Die gerug is dat ek nie lief is vir ­Larry nie, maar ek is. Ek kan Larry nie saam met my vat nie. Hy behoort aan die huis en die personeel is net so lief vir hom as wat ek is,” het Cameron gesê.
’n Foto van hom met Larry op sy skoot is later onder Cameron se naam getwiet. Die opskrif daarby was “Bewyse”.
Cameron het gesê daar moet gedink word aan die las wat politici se families dra.
Hy het sy vrou, Sam, en sy kinders, Nancy (12), Arthur (9) en Florence (5), geloof. Hulle het in die openbare galery gesit. Netwerk24/Reuters/The Telegraph/AP/Daily Mail

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!