Laai su00f3 al jou Facebook-data af
Laai su00f3 al jou Facebook-data af

Laai só al jou Facebook-data af

Die privaatheidskandaal wat Facebook getref het, het onthul ­hoeveel private inligting die maatskappy van sy gebruikers het.
Dis geen geheim dat Facebook baie van jou weet nie. Maar tot onlangs het mense hulle betreklik min gesteur aan watter inligting die wêreld se grootste sosiale netwerk oor hulle insamel

Die maatskappy gaan egter die afgelope week gebuk onder 'n privaatheidskandaal nadat meer as 50 miljoen gebruikers se inligting skynbaar deur 'n derdeparty-app aan 'n omstrede konsultasiemaatskappy verkoop is. Nou is verskeie van Face­book se sowat 2 miljard gebruikers bekommerd oor hoe veilig hul data op die platform werklik is.

Gelukkig maak die platform dit betreklik maklik vir enigeen om 'n rugsteunkopie van al sy of haar Facebook-data af te laai.

Hierdie argief mag jou dalk herinner aan watter ongemaklike tiener jy 'n dekade gelede was en hoe onvleiend jou eerste selfies gelyk het.

Maar dit lê ook 'n magdom ander data bloot wat jy dalk nie eens besef het Facebook oor jou insamel nie, byvoorbeeld al die oproepe wat jy al ooit met jou Android-toestel gemaak het sowel as 'n chronologiese lys van elke liewe keer wat jy die platform besoek het.



Hoe kry ek my Face­book-data in die hande?

Om die weergawe van al jou Facebook-data af te laai, is gelukkig baie maklik. Eerstens moet jy ingeteken wees op jou Facebook-rekening.

Gaan na die klein onderstebo driehoek in die boonste hoek, kliek op “Settings”.

Daar sal jy 'n opsie onderaan die skerm sien: “Download a copy of your Facebook data.”

Dit neem jou na 'n nuwe blad waar jy kan klik op “Start my Archive”. Jy gaan jou Facebook-wagwoord moet intik om jou identiteit te bevestig.

Dit neem 'n rukkie om al jou inligting bymekaar te kry. Sodra jou argief gereed is, stuur Facebook 'n skakel na jou e-pos-adres wat met jou Face­book-rekening geassosieer word.

Sodra jy die e-pos ontvang, moet jy jou argief spoedig aflaai aangesien die skakel daarheen ná 'n tydjie verval.

Jou argief word verpak in 'n .zip-lêer wat met programmatuur soos 7zip ontsluit kan word. Wees gewaarsku: Die lêer kan 'n paar honderd mega­grepe groot wees, afhangende van hoe lank jy al 'n Facebook-gebruiker is, en hoeveel inhoud jy gereeld daarop gelaai het.



Watter data sal ek vind?

Sodra jy toegang tot die lêer kry, sal jy sien jou inligting word volgens verskeie kategorieë gesorteer soos boodskappe, foto's en video's. 'n Lêer genaamd “index.htm” maak 'n webblad oop waar al jou profielbesonderhede kortliks opgesom word, insluitend die datum waarop jy jou Facebook-profiel geskep het, 'n geskiedenis van al jou vorige ver­houdinge, werknemers en opvoeding.

Facebook hou ook gedetailleerd boek van jou tydlyn: Jy kan teruggaan en elke liewe inskrywing sien wat jy al ooit op die platform gemaak het. Insluitend dié wat jy gemaak het in die goeie ou dae toe dit skynbaar hoogmode was om jou vriende bloot te laat weet jy lê op die bank en ­Arrested ­Development kyk.

Al jou foto's en video's word ook afgelaai, sowel as die metadata wat Face­book daaroor stoor, soos die toestel waarmee dit opgelaai is sowel as wanneer en waar dit geneem is.

Daar is ook 'n lêer wat verklap hoe Facebook jou gelaatstrekke bepaal vir sy gesigsherkenningstegnologie. Die platform hou boek van jou gesig in verskillende foto's om 'n algoritme te ontwikkel waarmee hy jou op nuwe foto's herken.

Natuurlik hou Facebook ook boek van al die mense met wie jy al ooit op die platform vriende geraak het (en die datum waarop julle vriende geword het). Daar is ook 'n lys van diegene wat jy intussen verwyder het, maar nie diegene wat jóú van hul vriendelys verwyder het nie.

Die platform hou ook in 'n chronologiese lys boek van al die geleenthede wat jy bygewoon het – van daai eerste braai by 'n vriend se huis tot jou niggie se troue in Baberton.

Die lêer genaamd “Ads” bevat besonderhede oor watter advertensies jy al op gekliek het, sowel as onderwerpe wat Facebook vermoed jy interessant vind. Daar is ook 'n lys van al die apps waarby jy met jou Facebook-besonderhede aangemeld het.

En net ingeval jy vergeet het van die goeie ou dae toe ons mekaar ge-poke het... Facebook het ook inligting daaroor.

As jy voel die tyd is reg en jy het genoeg gehad van Facebook se insameling van jou data, kan jy altyd jou profiel tydelik deaktiveer, of heel­temal uitwis.



Hoe deativeer of wis ek my Face­book-profiel uit?

Dit is betreklik maklik om jou Facebook-profiel te deaktiveer. Die stap maak jou basies onsigbaar op die platform, wat beteken mense sal byvoorbeeld nie na jou kan soek nie. Maar sekere inligting bly steeds sigbaar, soos jou naam op jou Facebookvriende se lys van kontakte sowel as in enige regstreekse boodskappe wat jy gestuur het.

Jy kan jou rekening tydelik deaktiveer onder “Settings”, “General Account Settings” en dan “Manage Account”. Dit is egter nie 'n permanente oplossing om al jou data van die platform te verwyder nie. Sodra jy weer aansluit, sal al jou data weer verskyn.



Is jy egter vies genoeg vir ­Facebook om jou rekening ­permanent uit te wis?

Daar is interessant genoeg geen “delete”-knoppie iewers op Facebook nie. Dit lê versteek onder sy “Help”-blad en kan hier bereik word.

Sodra jy gereed is, klik op “Delete my account”.

Neem kennis: Jou rekening gaan nie oombliklik uitgevee word nie; dit neem 'n paar dae waartydens jy steeds toegang tot jou profiel kan verkry, maar dit sal gemerk wees “vir uitwissing”.

Ná 'n paar dae sal jou aanmeldbesonderhede nie meer werk nie, en sal jy 'n nuwe profiel moet skep. Daar is geen manier om jou ou data van jou ou profiel te herwin nie.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!