Laaste plons in hoofstad vir 2021
Vrydag en Saterdag sal 130 swemmers vir 42 dissiplines aantree en meer as 118 keer in die water duik.
Tielman van Lill
Die Namibië Swemfederasie (Nasfed) bied Vrydag en Saterdag sy laaste nasionale Bank Windhoek-langbadgala (50 meter) vir die jaar in Windhoek aan.
Eenhonderd-en-dertig swemmers tussen die ouderdomme van sewe en 37 jaar sal die naweek aan Nasfed se kompetisie by die Olympia-swembad deelneem.
Swemmers van Aqua-swemklub, Dolphins, Marlins en die Phoenix-swemakademie sal vir oulaas die water laat spat voor die feesseisoen amptelik sy verskyning maak.
Die swemmers sal vir 42 dissiplines aantree en meer as 118 keer in die water duik. ‘n Rekord of twee is nie vir die naweek uitgesluit nie.
Me. Nicky McNamara, uitvoerende Nasfed-komiteelid, het gesê: “Ons swemmers is opgewonde oor die laaste gala. Hulle staar die uitdaging in die gesig om gedurende die feesseisoen fiks te bly vir die volgende Bank Windhoek-langbadkompetisie wat eers weer op 28 en 29 Januarie 2022 aangebied word.
"Gelukkig is die Pupkewitz Jetty-mylkompetisie in Swakopmund op 27 Desember nog in die vooruitsig waar 'n hele paar van ons mededingende swemmers gaan meeding. Dit sal hulle beslis motiveer om aan te hou oefen om ‘n goeie peil te handhaaf wanneer die 2022-seisoen aanbreek.
“’n Mens weet nooit of daar ’n rekord die naweek gaan spat nie. Meeste rekords word by nasionale kampioenskappe en internasionale byeenkomste gebreek wanneer ons swemmers se natuurlike kompeterende persoonlikhede na vore tree.”
Intussen is twee van die land se beste kortbadswemmers besig om vir deelname in Abu Dhabi voor te berei.
“Ons is opgewonde om te sien hoe Ronan Wantenaar en Xander Skinner, twee van ons senior swemmers, aanstaande maand by die 15de Fina-kortbadwêreldkampioenskap in Abu Dhabi gaan vaar. Natuurlik sal ons bankvas agter ons twee manne staan en hulle aanspoor!
“Nasfed is geweldig trots op hulle om vir dié elite-byeenkoms in die Verenigde Arabiese Emirate te kon kwalifiseer waar die wêreld se room gaan meeding,” het McNamara gesê.
Die Wêreldkortbadkampioenskap duur vanaf 16 tot 21 Desember. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie