Lag of huil jy?
Ons is baie lief vir beplanning en roetine. Ons hou daarvan as dinge volgens plan verloop, maar die realiteit is ons appelwaentjie word gereeld omgegooi.
Ek het onlangs weer besef elke mens hanteer verskillende situasies anders. Met die onlangse registrasie vir die verkiesings het ek my vergaap aan die mensdom met sy geite en giere. Die rye was reeds van vroeg af lank, maar almal het gedink hoe later dit word, hoe korter sal die rye wees.
Dit was ongelukkig níé die geval níé. Ek daag vol bravade net na 17:00 by ons registrasiepunt op en besef met die intrapslag, hier het ek my Moses teëgekom. Daar is meer mense as waaraan ek gewoond is. Ek ontdek gou daar is twee rye. Jy staan in een ellelange ry om die papiertjie in te vul en dan beweeg jy na die tweede ry vir die foto en kaartjie.
Ek skat die mense so en dink ek behoort darem op die laatste 20:00 in my warm bed te klim.
Grootste fout van my lewe.
Die rye beweeg so vyf tree elke halfuur. Dit raak kouer en donker en ek weet sommer hier kom moeilikheid. Ek het heeldag ge-somer, so met my dun truitjie en oop skoentjies en ek vermoed hierdie gaan nog ’n lang aand raak.
Ek besluit om eerder op die mense rondom my te fokus, want dit laat die tyd hopelik vinniger verbygaan. ’n Mens kry verskillende tipe persoonlikheid wat stres en ongemak op hul eie manier verwerk. ‘n Entjie agter my staan Klaende Klara. Ek het nog nooit iemand teëgekom wat so kan kla nie. Sy kla oor die koue, oor die donker, oor die lang stanery, oor hoe moeg sy is en hoe moeg sy môreoggend gaan wees. Sy kla oor haar seer enkels, haar kopseer, haar linkerboud wat lam gestaan is, hoe lus sy vir koffie is en dan begin sy weer met die lysie: koue, donker, rye, moegheid, seer enkels en so gaan dit aan. Ek besluit sy gaan vir my ’n kopseer gee en spits my aandag op die mense voor my.
Hier tref ek die tweede tipe persoonlikheid aan: Mededeelsame Marie. Marie het besluit sy gaan alles van haarself en haar gesin met die res deel. Sy is vrygewig met feite en hopeloos te veel persoonlike inligting. Sy praat oor die hond wat alewig spuitpoep het, dat sy ’n paar dae terug haar kind by die skool vergeet het, hoe sy en haar man gereeld oor die televisie se afstandbeheerder baklei, die puisie wat sy agter haar oor het, hoe ongemaklik haar onderklere is en soveel meer. Ek ken haar nou beter as wat ek my eie ma ken.
’n Entjie vorentoe is Trippelende Tinus. Dié kan nie stil staan nie. Eers is hy op die een voet, dan die ander. Dan staan hy op sy tone, dan is hy op sy hurke. Dan krap hy sy kop, dan strek hy eers en begin hy weer van voor af. Hy wieg soos ’n skippie heen en weer, en ek besef ek moet vir iemand anders kyk, want dié man gaan my seesiek maak.
Jy kry die mense wat net staan en staar, die mense wat kla, die mense wat bietjie aggressief raak en die wat onvanpaste grappies maak. Ek val natuurlik in die laaste groepie, want dit is of giggel of huil, en as ek nou begin huil stop ek nie.
Toe ons skuins voor 01:00 die tent binnegaan, nadat ek basies verkluim het, neem ek my sitplekkie in by die dame wat die kaarte doen. Sy neem my foto en maak gereed vir die druk van die kaartjie. Toe besluit die masjien hy wil eers skoongemaak word. Ek huil amper in my hande, want ek kon my ongeluk nie glo nie. Vier pogings en 45 minute later hou ek die waardevolle kaartjie tussen my vingers vas. Ek lyk soos iemand wat ten minste drie jaar laas geslaap het en kyk oral behalwe reguit vir die kamera, maar ek het my registrasiekaartjie. En stem gaan ek stem.
Soos ek uitloop begin iemand “Jerusalema” speel en al is almal moeg, koud en honger, is die gees steeds hoog. Ek besef weer jy kan nie altyd kies wat gebeur nie, maar jy kan kies hoe jy daarop reageer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie