Lam internet laat Hardap ly
Lam internet laat Hardap ly

Lam internet laat Hardap ly

Besighede het by tye tot stilstand gekom wanneer beta­lings nie gemaak kon word nie as die internet afgaan of baie stadig is.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Telecom Namibia sê hulle ondersoek tans waarom inwoners in die Hardap-skema veral tydens die afgelope feesseisoen glo soveel internetonderbrekings gehad het dat dit by tye besighede tot stilstand gedwing het.

Telecom se woordvoerder, mnr. Oiva Angula, het gister aan Republikein bevestig dat hulle terugvoering sal verskaf sodra hul ingenieurs kan vasstel wat die probleem veroorsaak.

Inwoners uit die omgewing sê outomatiese banktellers het ook nie gewerk nie, dat hulle nie enige besigheid oor die internet kon doen nie en ook nie werknemers se lone of hul eie rekeninge kon betaal nie.

Me. Risa Voges van Voges Boerdery sê ten spyte daarvan dat sy hul internetpakket 'n paar keer reeds opgradeer het en verskeie kere hul internetprobleme aangemeld het, is daar die afgelope agt maande min vorder­ing gemaak om hul internetdiens te verbeter.

“Die internet is juis nou weer af,” het sy gister aan Republikein gesê.

“Sedert 23 Desember sukkel ons met die internet wat gereeld afgaan. Die situasie het oor Kerstyd en die Nuwejaar verder versleg – soveel so dat mense nie hul bankkaarte by betaalpunte kon gebruik nie en ons ook nie plaaswerkers se lone kon betaal nie.”

Sy sê tot outomatiese tellermasjiene was af – juis tydens van die besigste tye vir besighede.

“Ons het jaar-op-jaar probleme met die internet hier. Die plaaslike tegnikusse help as 'n mens kla, ten spyte daarvan dat hulle oor 'n groot gebied werk. Tot dusver is die probleem egter nie opgelos nie.”

Sy sê sy het die situasie reeds by die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie van Namibië (Cran) aangemeld en met verskeie mense by Telecom gepraat.

“Iemand by Telecom het vir my gesê as ek nie tevrede is nie, moet ek van 'n ander diens gebruik maak. Die probleem is, hulle het die monopolie en al die ander diensverskaffers is afhank­lik van hul infrastruktuur.”

Mnr. Louw Nolte van Nolte Boerdery sê elke keer wat hy oor die internet kla, word daar vir hom gesê sy pakket is te klein. Hy het dit verlede jaar vergroot, maar volgens hom het dit nie vir meer betroubare internet gesorg nie.

“Werknemers van Telecom het al vir my gesê hul netwerk is oorlaai en Telecom verkoop dienste wat hulle nie kan lewer nie. Gevolglik betaal ons vir iets wat ons nie kry nie. Hulle kan ook nie antwoorde verskaf oor hoe lank dit gaan neem om die probleem op te los nie,” sê hy.

Hy sê Telecom se tak op Mariental sê hulle is bewus van die probleem.

“Dit veroorsaak dat ek nie my rekeninge kan betaal nie. Gevolglik is ek agterstallig en haal dit vir my net meer onkoste op die hals,” het hy gesê.

Bastion Farmyard se Salome Schoeman sê die swak internetdiens lei tot 'n verlies aan kliënte vir haar omdat sy nie enige aanlynbesprekings van oorsese gaste kan ontvang nie.

“Baie internasionale gaste maak hul besprekings aanlyn en betaal ook via die internet. Hulle verstaan nie dat die internet hier so swak is nie. Hulle glo 'n mens nie, want hulle ken dit nie.

“Verder kan ek ook geen internet­oorbetalings doen nie,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!