Lamprecht vir Loftus-stryd nader geroep

Die Blou Bulle en die Namibiese XV het beide rotasie in hul spelersgroepe vir môre se ­kragmeting ingespan.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Soos elke besoekende span aan Loftus Versfeld-stadion kan die Windhoek Draught Welwitschias hulle maar regmaak vir 'n fisieke stryd môre teen die Vodacom Blou Bulle (afskoptyd 12:45).

Beide spanne het op die openingsnaweek van die SuperSport-uitdaagreeks 'n bloedneus gekry. Die Namibiërs het 'n tuiswedstryd teen die Goue Leeus verloor (23-40), terwyl die Bulle in Mbombela met 21-29 onsuksesvol teen die kompetisie se verdedigende kampioen, die iSG Pumas, was.

Afrigter Phil Davies het veral voorlangs 'n paar veranderinge aangebring – volgens hom grootliks toe te skryf aan die program waarvolgens elke speler se fiksheid en wedstrydtyd bestuur word in die aanloop tot die Wêreldbeker in September vanjaar.

'n Kniebesering aan die slot Mahepisa Tjeriko laas naweek het hom buite rekening gehou, maar open die deur vir die eerste insluiting van Trustco United se grote Jandré Lamprecht.

Lamprecht kwalifiseer nie om Namibië op toetsvlak te verteenwoordig nie, maar in die provinsiale kompetisie staan niks in die pad van sy insluiting nie. Indien op sy knoppie gedruk word, kan sy fisieke teenwoordigheid van 1.98 m en 120 kg handig te pas kom.

United se afrigter Robbie Dickson sê: “Ek en Phil het al lank en baie oor Jandré gepraat en ek het geweet sy kans is nie ver nie. Dit is belangrik vir 'n speler om gemaklik te wees om op so 'n hoë vlak te gaan speel, veral ná 'n (knie-)besering wat hom meer as 'n jaar uit die spel gehou het. Jandré het gewys hy is reg en kan 'n verskil maak by die Welwitschias.”

Onder die losvoorspelers het Rohan Kitshoff laas naweek 'n verskyning van die reserwebank af gemaak, wat boonop deur tien minute in die koelkas verkort is. Kitshoff kry die naweek ruskans, terwyl Thomasau Forbes en Christo van der Merwe nader geroep is om moontlik hul eerste wedstrydtyd in die provinsiale reeks te kry.

Met Namibië wat tradisioneel sy hande vol het om in die vaste vyf sy stem dik te maak teen Suid-Afrika se sterk professionele unies, bly die gebrek aan diepte in die voorry ietwat onrusbarend. Teen gister was die nuus dat die Welwitschias net met drie stutte na Loftus sou reis, weens die onbeskikbaarheid van Desiderius Sethie (beseer) en Jason Benade (persoonlike redes).

Boonop is die haker Obert Nortjé ook nog nie wedstrydgereed nie en behou die onervare groentjie Gerhard Thirion van United sy plek.

Die 22-tal vir die wedstryd sal ook sonder Chrysander Botha wees, wat laas naweek ook in die tweede helfte teen die Leeus opgestuur was en wat volgens Davies geroteer word. 'n Mens kan raai dat Cliven Loubser ná 'n stewige vertoning in die 15-trui sal bly en dat Mahco Prinsloo dalk 'n plek op die reserwebank kan kry.

In die SuperSport-reeks word 'n “rollende” plaasvervangerbank gebruik en kan spelers wat afgehaal is, later weer teruggebring word. Elke span word tot 12 vervangings in die 80 minute beperk.

Soos die onlangse tellings aandui, sal die Namibiese amateurspan opnuut onder groot druk wees. Laas jaar het die Blou Bulle op Loftus met 73-20 gewen, ná die vorige jaar se wegholtelling van 92-7. Selfs in Windhoek het die Bulle die laaste twee jare met redelike gemak gewen (47-31 laas jaar en 50-25 in 2017).

Davies sê: “Ons het dié week aandag gegee aan ons dissipline, asook ons tegniek in duikvatte en mededinging vir die bal op die grond.

“Die Bulle is 'n sterk span en ons weet dit sal 'n lewendige en vloeiende 80 minute wees. 'n Deel van ons uitdaging is om in hul helfte te kom en om ons balbesit te behou en druk te plaas totdat ons drieë aanteken.

“Ons spelers speel deeltyds rugby, maar ding teen voltydse professionele spelers mee. Die manne doen geweldige moeite en hulle raak stelselmatig beter. Ons bring die naweek 'n paar nuwe manne in om wedstrydtyd te kry, maar ons streef om deurlopend al hoe beter te speel.”

Die Windhoek Draught Welwitschias se wedstrydgroep wat gister bekend gemaak is:

Stutte: André Rademeyer, Calla Freygang, AJ de Klerk.

Hakers: Niël van Vuuren, Gerhard Thirion.

Stutte: Ruan Ludick, Max Katjijeko, Jandré Lamprecht.

Losvoorspelers: Prince !Gaoseb, Christo van der Merwe, Thomasau Forbes, Leneve Damens (onderkaptein), Adriaan Booysen.

Skrumskakels: JC Winkler, Eugene Jantjies.

Losskakels: PW Steenkamp, Cliven Loubser.

Senters, vleuels en heelagters: Chris Arries, Darryl de la Harpe (kaptein), Janry du Toit, PJ Walters, Oderich Mouton, Mahco Prinsloo.



PAPIER BEGIN VIR BULLE

Die Springbok Embrose Papier kry môre 'n seldsame opdrafkans vir die Blou Bulle.

Die 22-jarige skrumskakel het verlede jaar drie keer in die ­kompetisie gespeel, voordat hy later in die seisoen sy Springbok-debuut gemaak het.

Hy vervang André Warner, wat opgeroep is om in die Bulle se Super­rugby-groep teen die Waratahs diens te doen.

Afrigter Nollis Marais moes boonop vir Cornal Hendricks (een van die driedrukkers), Rosko Specman en Dylan Sage aan Superrugby afstaan uit sy span wat laas naweek teen die Pumas verloor het.

In sy nuwe agterlyn begin Earll Dowrie op heelagter, terwyl Duncan Matthews van die 15-trui na vleuel verskuif en JT Jackson van losskakel na senter.

Cameron Hufke maak sy senior provinsiale debuut as vleuel en Theo Boshoff begin in die 10-trui. Buitesenter Erich Cronje is die enigste agterspeler wat sy nommer behou.

Voorlangs maak Nic de Jager sy eerste verskyning op flank, terwyl Roelof Smit ook weer fiks is om op die reserwebank ingesluit te word.

Veranderinge is die normale gang van sake, het Marais gesê. “Ons moet altyd bereid wees om spelers aan Superrugby-verpligtinge af te staan. Ander kere kry ons spelers terug van die Superrugby-groep en moet dan weer daarby aanpas. Ek is seker Embrose sal sy tyd op die veld geniet.

“Die Namibiese span is goed afgerig en sal 'n taai opponent wees, maar ons moet seker maak dat ons op die wenpad kom – reeds hierdie naweek.”

Die Blou Bulle (15-1): Earll Douwrie, Duncan Matthews, Erich Cronje, JT Jackson, Cameron Hufke, Fiela Boshoff, Embrose Papier, Muller Uys, Nic de Jager, Ruan Steenkamp (kapt), Aston Fortuin, Marius Verwey, Mornay Smith, Werner Fourie, Nqoba Mxoli. Reserwes: Joe van Zyl, Madot Mabokela, Ruan Nortje, Roelof Smit, Theo Maree, Vaughan Isaacs, Diego Appollis.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!