Land se topswemmer puik in Verenigde State

Xander Skinner swem vinniger as ooit tevore en het vir 'n Amerikaanse nasionale studentebyeenkoms gekwalifiseer.
Die 20-jarige Namibiese swemmer Xander Skinner, in die kleure van sy Amerikaanse universiteit McKendree in Illinois, het by die 2019 Great Lakes Valley Conference (GLVC) kampioenskap vroeër vandeesmaand in Crawfordsville, Indiana, die een uitstaande vertoning op die ander gelewer.

Skinner het die meeste van sy individuele en aflosresiese gewen. Boonop het hy in elke item sy persoonlike beste verbeter en ook verskeie byeenkoms- en swembadrekords oortref.

Reeds in die uitdunne op die eerste dag het Skinner sy beste tyd in die 50 jaart vryslag (20.24 sekondes) tot 19.95 verbeter. In die finaal het hy die goue medalje ingepalm met 'n verdere verbetering van 19.85 – wat die bestaande byeenkomsrekord (20.04 vanaf 2016) asook die swembad­rekord (19.87) in die slag laat bly het.

In die mans 4x50 jaart vryslagaflos het Skinner sy deel in die vinnigste tyd (19.48 s) voltooi. Die McKendree manspan het die item in 1:19.33 gewen en het in die proses die vorige GLVC- asook die swembadrekord verbeter wat verlede jaar opgestel was.

In die uitdunne van die 200 jaart vryslag het Skinner opnuut eerste aan die muur geraak in 1:36.66. In die finaal was hy nóg vinniger (1:36.34), maar het die goud net-net aan sy spanmaat Luca Simonetti (1:36.08) afgestaan.

In die 400 jaart wisselslagaflos het die McKendree-span op indrukwekkende wyse 8.83 sekondes vinniger as die bestaande GLVC- en swembad­rekords (3:14.25) geswem. Hul tyd van 3:14.05 het hul nietemin tweede geplaas agter Missouri Sci & Tech se wenspan (3:13.43).

Die McKendree-span, ondanks hul vierde keuringsposisie, het die 4x200 jaart vryslagaflos in 6:41.69 gewen. Skinner, wat die span se laaste been geswem het, was weer die vinnigste individu (1:35.47).

Op die laaste kompetisiedag, in die uitdun van die 100 jaart vryslag, het Skinner byna 'n sekonde vinniger geswem as die tyd waarmee hy ingeskryf was (44.50). Sy vertoning van 43.53 was die vinnigste van die oggend en ook beter as die GLVC- en swembadrekord (43.67 van 2017).

Sy triomf in die finaal het hom die goue medalje en nuwe rekordtye van 43.15 besorg.

Dié skittertyd was ook genoeg vir 'n A-kwalifikasie vir die Amerikaanse studentesportvereniging (NCAA) se nasionale kampioenskap vir universiteite in afdeling 2. Onderskeid word getref tussen tersiêre instellings wat groter en meer hulpbronne in hul sportdepartemente het (afdeling 1), terwyl dié in afdeling 2 weer meer gegoed as in afdeling 3 is.

Die byeenkoms is op 'n ewe hoë noot afgesluit toe McKendree se span die 4x100 jaart vryslagaflos gewen het. Hul tyd van 2:54.72 het opnuut die 2017 GLVC- en swembadrekord (2:56.67) laat tuimel. Weereens was Skinner se been van die aflos (42.38) die algehele vinnigste.

Skinner, 'n oudleerder van Windhoek Affies, se Namibiese klub Dolphins is baie trots op sy prestasie. Dolphins se afrigter, Janis Stergiadis, sê: “Xander se uitstekende uitslae by die GLVC-kampioenskap maak ons baie trots. Hy is 'n inspirasie vir al ons jong swemmers en dien as bewys dat harde werk en toewyding vrugte afwerp.

“Ons is almal baie opgewonde om te sien hoe hy in Maart by die NCAA-kampioenskap vaar en ons wens vir Xander alle voorspoed toe.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!