Landbou se pyn ook verbruiker s'n
Vida Booysen
Droogte en gebrekkige staatsteun vir die kommersiële landbousektor tref nou die armste verbruikers se beursie.
Voeg daarby die onsekerheid oor Donald Trump se handelsbeleid en die impak op landbou-uitvoer, asook groeiende onsekerheid oor staatsbeleid en die gevaarligte begin flikker vir voedselsekerheid, waarsku 'n aantal landbou-ekonome.
“Dit bly 'n raaisel dat die regering nie verstaan dat ondersteuning aan kommersiële boere lei tot groter landbouproduksie en laer voedselpryse, wat die hele ekonomie en veral arm mense bevoordeel nie,” sê prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom aan die Universiteit van die Vrystaat.
Dit volg op die pleidooi van Agri SA dat die regering moet ingryp met “daadwerklike finansiële hulp” aan droogtegeteisterde produsente en sy kommer uitgespreek het oor die humanitêre impak van die droogte op boere en hul werkers, asook hul vermoë om te oorleef.
Willemse wys op die daling in plantvoornemens in Suid-Afrika vir vanjaar wat tot 'n kleiner somergraanoes sal lei.
“Dus duur die invoer van graan en oliesade voort en dit beteken ook duurder pryse wat weer wyer uitkring in die ekonomie.”
Die landbousektor is die sleutel tot die langtermynontwikkeling van die Suid-Afrikaanse ekonomie, sê Hamlet Hlomendlini, Agri SA se senior ekonoom.
Hy wys daarop dat die ekonomie met slegs 0,2% in die derde kwartaal gegroei het en landbou se bydrae weens die droogte vir die sewende opeenvolgende kwartaal gedaal het.
“Die impak van die droogte op die landbousektor rem die hele ekonomie terug, gegewe die skakeling wat landbou met ander sektore het.”
Dis nie net boere wat produksieverliese ly nie, maar ook alle rolspelers wat sake doen met hulle en uiteindelik ook die verbruiker self, waarsku Hlomendlini.
“Landbou-uitvoer het aanmerklik afgeneem, voedselinflasie spring aanhoudend bokant die teikenband en voedselpryse hou net aan styg – gevolglik groei die ekonomie traag en is daar groter druk op die staatskas.”
Hiermee stem dr. Kobus Laubscher, onafhanklike landbou-ekonoom van Bloemfontein, saam.
“Die slegte nuus is dat inflasiedruk kan toeneem, veral in die laer inkomstegroepe waar die afhanklikheid van veral stapelvoedsel soos mieliemeel en brood skerp stygings getoon het vanaf reeds hoë prysvlakke.”
Hy wys op die Nasionale Landbou-bemarkingsraad (NLBR) se jongste verslag oor voedselpryse wat aandui dat die armste deel van die Suid-Afrikaanse bevolking in Oktober vanjaar 55,6% van hul besteebare inkomste aan voedsel bestee het, terwyl dit 'n jaar gelede 49,6% was.
“Die armste deel van die bevolking het geen vooruitsig op 'n keuse van kos vir Kersfees nie. Hulle sal moet eet wat hulle kan bekostig en dit is redelik om te verwag dat huishoudelike voedselonsekerheid gaan toeneem.”
Indien dit wel voldoende reën hierdie somer, behoort voedselpryse af te plat, maar dit kan dalk eers teen die tweede of derde kwartaal van volgende jaar gebeur, sê Hlomendlini.
“Dit sal heelwat verligting vir die verbruiker bring, maar die ekonomie is steeds weerloos teen internasionale skokke soos stygende oliepryse en moontlike beleidsveranderings onder die Trump-administrasie in die VSA.”
Hlomendlini waarsku dat die inkomende administrasie heel waarskynlik 'n handelsbeleid sal bevorder wat meer beskermend teenoor die VSA is en minder gunstig vir ontluikende markte.
“Dit is byvoorbeeld onseker wat sal gebeur indien Trump, soos vereis, die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) onder hersiening neem.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie