Landbou stimuleer landelike groei
Staat, privaat sektor moet vennote wees
Dr. Kobus Laubscher - Die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) publiseer jaarliks ’n baie gesaghebbende verslag oor die stand van voedsel en landbou en die 2017-verslag, wat onlangs verskyn het, hou belangrike lesse in.
Hierdie jaar se tema, “Leveraging Food Systems for inclusive Rural Transformation”, beklemtoon die verskuiwings wat nodig is om landelike gebiede só te transformeer dat dit doeltreffend kan bydra tot ekonomiese groei en ontwikkeling, pleks van net ’n vangnet te wees vir verarmde, honger mense.
In terme van globale voedselsekuriteit is ons tans 13 jaar weg van 2030, die jaar waarin 17 verbeeldingryke en kreatiewe volhoubare ontwikkelingsdoelwitte verwesenlik moet wees. Ongelukkig toon die jongste ontledings dat die wêreld gly wat hongerverligting betref, want tans is 815 miljoen mense kronies honger.
In Suid-Afrika heers groot kommer oor verslegtende voedselsekerheid, want daar is aanduidinge van toenemende huishoudelike voedselonsekerheid as gevolg van stygende werkloosheid en die indiensnemingspotensiaal van veral opgeleide jongmense.
Veranderde verbruik by stedelinge met groeiende besteebare inkomste skep ’n vraag na landbouprodukte met die oorsprong in landelike gebiede.
Minder stapelvoedsel word verbruik, met ’n groeiende vraag na proteïene soos vis en vleis. Stapelvoedsel bereik verbruikers dus via hoenders, bokke, skape en beeste. So word daar voorspel dat die vraag na mielies sal afhang van die vraag na die produkte wat daarmee geproduseer word – vleis, vesel, melk en eiers om net ’n paar te noem. Die vraag na witmielies sal stadiger styg, want dit hang af van die vraag na stapelvoedsel.
Vanjaar se witmielie-oes gee juis pryskopsere as gevolg van ’n surplus. Die aangewese is dus om grane via proteïene by die mark te kry.
WAARDEKETTINGS
Waardetoevoeging in die platteland word voorgestel as die aangewese skakel om in die veranderde voorkeure van stedelike verbruikers te voorsien.
Sterk kommersiële waardekettings kan egter so domineer dat die kleiner produsent/verwerker markte nie kan binnedring nie. Dit kan tot gevolg hê dat belangrike strukturele veranderings om die kleinskaalse produsent/verwerker te koppel met die verbruiker in stede wat kan betaal, net nie op dreef kom nie.
Byvoorbeeld, ’n klein verwerker op Otavi, wat in staat is om klein hoeveelhede te koop van omliggende opkomende produsente, sukkel om die mas op te kom teen die groot verwerkers. Laasgenoemde is in staat om op grond van volumes van ander gebiede, produkte baie mededingend in alle winkels op Otavi en nabygeleë dorpe beskikbaar te maak. Hierdie produkte is elders verwerk sonder dat die plaaslike/plattelandse verwerker ’n geleentheid het om op Otavi sake te doen.
Die rimpeleffek is betekenisvol in die vorm van plaaslike werkgeleenthede en marktoegang vir kleinboere. Daarsonder is Otavi, en daar is baie sulke voorbeelde in die land, armer. Ondersteuning is dus nodig, maar dit moet sodanig in balans wees dat die kommersiële been ook staanplek het. Beide is broodnodig en hierin faal die staat as primêre inisieerder.
In te veel gevalle word die kommersiële of korporatiewe onderneming voorgestel as die vyand van opkomende boere omdat die groottes marktoegang na bewering blokkeer. Sodoende vind die staat regverdiging vir die ontwikkeling van parallelle markte, maar waar die een te swaar moet steun op die staat vir deurlopende steun.
Die president van die Namibiese Landbou-unie, mnr. Ryno van der Merwe, het onlangs hierteen gewaarsku toe hy na die geval van die Landboubemarkings- en handelsagentskap (Amta) verwys het.
Vennootskappe tussen die staat en die privaat sektor is die aangewese vennootskap, veral as die staat se kwynende begroting gehefboom kan word deur so ’n vennootskap. Bekende agribesighede bedryf sulke vlagskipvennootskappe vir opkomende boere binne ’n geïntegreerde waardeketting.
Andersyds is daar groeiende bewyse van gevalle waar die staat met die verskaffing van openbare dienste soos paaie, voorligting, fasiliteite en aanvanklike kapitaal vir vestiging, die bal aan die rol gesit het.
Verskeie telergenootskappe het ingespring en byvoorbeeld opkomende wolboere met kennis bemagtig. Die gevolg is ’n enorme toename in inkomste wat in die landelike gebiede bestee word – dís ontwikkeling.
Landboubesighede wil en kan as fasiliteerders van geld aan byvoorbeeld opkomende beesboere, dié boere bemagtig deur middel van verbeterde genetika en behoorlike bemarking van sulke diere.
Deelnemende opkomende boere kan sodoende op ’n volhoubare pad geplaas word. Sonder sulke inisiatiewe is die meeste hulp van die staat aan opkomende boere eerder ’n skop in die maag en landbou word ontneem van die sektor se ontwikkelingsrol.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie