Leeus gereed vir Waratahs se lugaanval
Leeus gereed vir Waratahs se lugaanval

Leeus gereed vir Waratahs se lugaanval

Superrugby
Christo Buchner - Die Leeus smeer hulle vet vir ’n lugaanval Saterdag op Ellispark in die halfeindronde van die Superrugby-reeks teen die Waratahs.

Die “mortiere” gaan reën op die Leeukuil met die besoekers uit Sydney wat hoë skoppe as ’n aanvalswapen gaan gebruik.

Warren Whiteley, die Leeus se kaptein, voorsien dat die agterste driehoek van sy span Saterdagmiddag die oë baie in die lug gaan hê om die “bomme” wat uit die lug gaan val, te moet bemeester.

“Takties speel die Waratahs baie slim,” sê Whiteley.

“Hulle gaan baie meer skop as meeste spanne teen wie ons te staan gekom het. Veral met Israel Folau daar en ook (Taqele) Naiyaravoro gaan hulle die botoon wil voer met lugaanvalle,” reken die Leeus se kaptein.

“Ons weet daardie hoë skoppe gaan veral van hul skrumskakel (Nick Phipps) kom. Hulle het ook die vermoë om van hoek tot kant oor die veld te speel en hulle kan koelkop bly wanneer dit nodig is,” sê hy.

Whiteley sê die Ligbloues daar uit Australië is ook baie direk met hul sterk hardlopers voorlangs en hulle is stewig by die afbreekpunte.

“Die tempo waarteen ons sal moet speel, sal aansienlik hoër moet wees as wat die geval teen die Jaguares was. Teen hulle was ons met tye traag en die intensiteit sal beslis hoër moet wees teen die Waratahs,” sê Whiteley.

Volgens hom het die Aussies, wat Sondagaand in Johannesburg aangekom het, hul kompas doellyn toe goed ingestel.

“Ons moet keer dat hulle genoeg ruimte het om in aan te val. Teen hulle moet ons sake voorlangs oorheers en hul balbesit beperk.

“Hulle gaan in volle vaart hier opdaag en veral as ’n ou soos Kurtley (Beale) die bal in spasie kry, gaan hy baie gevaarlik wees,” vertel Whiteley.

Die ’Tahs se voorspeler-afrigter, Simon Cron, voel die hakers sal veel akkurater met hul ingooiwerk by die lynstane moet wees as wat die geval in die terugvegsege oor die Highlanders was.

“In Franco Mostert het die Leeus ’n slot wat 18 meer lynstane gewen het as enigeen anders in die reeks en hy sal ons laat boet as ons nie ons eie springers nie akkuraat is nie,” het Cron aan die Sydney Morning Herald gesê.

Die Waratahs-afrigter, Daryl Gibson, speel juis met die idee om die eerste keuse as haker, Damien Fitzpatrick, met Tolu Latu te vervang. Latu het as plaasvervanger groot indruk gemaak in die tweede helfte teen die Highlanders.

Die Waratahs kon nog nooit ’n uitspeelstryd in Suid-Afrika wen nie en het boonop hul laaste drie kragmetings met die Leeus verloor. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!