Liefde en groete uit Yankee-land
Kristien Kruger
Ek het vandag begin om my koffer te pak. Ek het natuurlik my weggepakte winterklere uit die spaarkamer se kas gaan haal en versigtig gekies wat gaan en wat bly. Ugh, winterklere vat soveel spasie. Ek beplan om hierdie keer minder klere saam te vat, maar ek jok net vir myself. Ek het genoeg ervaring om te weet die kofferskaal by die lughawe is my gewoonlik met so 0.09 kg genadig.
Met die terugkomslag was my koffer te swaar. Ná ek hom by die huis maklik 24 keer oorgepak, geweeg, uitgehaal en weer geweeg het om seker te maak ek bly binne die voorgeskrewe gewig. Dit is nie so maklik om 6 maande se besittings in ’n 23 kg koffer te pak nie - veral met die hoeveelheid aanlyn inkopies wat ek gedoen het.
Hier in Afrika is dit oukei as jy sowat 1 kilogrampie oor die gewigsbeperking is, maar toe ek daar op Washington se lughawe staan en my sak weeg 0,05 kg te swaar, sê die vroutjie agter die toonbank, “Please take something out of your suitcase”. Ek dog sy maak ’n grap, maar die volgende paar oomblikke van stilte het ek besef dis geen grap nie.
Net daar, met sowat 50 mense agter my, haal ek my koffer van die skaal en zip hom oop – te haastig om te besef my onderklere is sigbaar vir die skare. My verloofde was ook oor die limiet en het die kleinste, maar swaarste, twee goedjies uit sy koffer gehaal en dit eenvoudig in sy rugsak gedruk. Ek aan die ander kant het tussen die stres en haas al my kennis van gewig vergeet en ek besluit om my twee grootste baadjies uit te haal. Hoewel my koffer daarna ver onder die limiet was, was my hande die res van die somer-trippie vol.
Nee wat, hierdie keer sal ek slimmer pak en seker maak ek is onder die limiet. My groter bekommernis is die Covid-19-toetse. Dit is vreemd hoe die wêreld moes aanpas by hierdie nuwe “vyand”. Indien ons negatief toets, mag ons toets nie ouer as 72 uur wees as ons in Amerika land nie, maar ons kry ons toetse in 48 uur en dan vlieg ons 36 ure - maak dit sin? Nee, dit doen nie.
Ons hoop is maar dat wanneer ons in transito in Frankfurt is ons ’n kitstoets kan doen. Maar wat as jy dan daar positief toets? Jy is seker op die eerste vliegtuig terug huis toe. Dit is alles heeltemal te onseker en doen my reeds hoë stresvlakke nie goed nie. So vir nou stres ek eerder oor die pakkery. Dit is darem een ding wat ek wel kan beheer.
Buiten die beplanning, pak en Covid-stres, groei ons opgewondenheid. Ek en my verloofde weer eens op ’n avontuur. ’n Breuk van die vervelige bekende, die breindood roetine en die alledaagse bekommernisse.
Dit sal ons tweede keer in Houston, Texas, wees waar my verloofde vir ses maande professionele rugby speel en ek van daar af steeds die werk kan doen waarvoor ek lief is. Houston se bevolking is meer as almal in Namibië. Washington, Los Angeles en Seattle is op die reisagenda en as die tyd dit toelaat sal ons dalk ’n RV huur en vir drie dae na die Grand Canyon gaan.
Ons sien uit na die ongelooflike opwinding van ’n Amerikaanse voetbalwedstryd, die groot bakkies wat nêrens anders as in Texas te siene is nie. ’n Starbucks om elke hoek en draai en die moeitelose effektiwiteit van wel, alles. Afrikatyd word nie gemis nie.
Dinge soos deurry-apteke, deurry-OTM’s, selfbetaaldienste by inkopiesentrums en aanlyn inkopies wat tot by jou voordeur gebring word, maak alles net makliker. Jy gooi tot jou eie brandstof in, betaal met jou kaart by die pomp en ry - so maklik soos dit.
Nog iets wat jy eers ten volle sal verstaan as jy al daar was, is dat Amerika werklik die kitskoskapitaal van die wêreld is. ’n McDonalds, Wendy’s, Steak ’n Shake, Taco Bell, KFC, Whata Burger, Burger King, Domino’s, Cick-Fill-a, Popeyes en Papa John’s is alles binne ’n 3 km radius van ons huis af.
Dit is moontlik elke jong mens se begeerte - die wêreld sien saam die persoon vir wie jy lief is. Voor jou lewe en die samelewing begin om jou te beperk of kinders die lewe effens kompliseer. Voor jy gevestig is en begin droom van eendag.
Dalk ’n cliché, maar vir ons tweetjies kan grootmenslewe eers wag. Ons het nog baie tyd daarvoor.
Natuurlik is alles nie altyd lekker nie. Om ons families agter te laat, is die ergste. Jy word verwyder van alles wat jy ken en almal vir wie jy lief is. Jy mis verjaardae, die geboorte van broerskinders en die kosbare oomblikke van tannie-wees. Jy mis uit op tyd wat saam met ouers, broers, susters en vriende gespandeer kon word. Herinneringe hier in Namibië staan nie stil terwyl jy weg is nie, dit gaan aan sonder jou en dit raak nooit makliker nie.
Tot ons julle weer sien - liefde en groete uit Yankee-land!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie