Lorriedrywers smag na hul huwelike

Vandat die coronavirus op Namibiese bodem beland het, kon talle vragmotorbestuurders kwalik ’n voet tuis neersit weens óf lang uitmergelende ure op die pad óf tyd in kwarantyn.
Jemima Beukes
Jemima Beukes – Die huidige Covid-19-regulasies maak dit moeilik vir Namibiese vragmotorbestuurders om enigsins hul gesinne te sien.

Dit is omdat hulle dikwels ná afloop van hul kwarantyntydperk weer die langpad moet aandurf.

Hul huwelike en gesinne is dus onder druk, omdat hul werk hulle weghou van die huweliksbed wat tot depressie en verwerpingskwessies by sommige vroue en kinders gelei het.

Ná die uitbreking van die coronavirus het Namibië aggressiewe beperkings ingestel, insluitend ’n reisverbod.

Dit gaan gepaard met ’n verpligte twee week lange kwarantyn vir noodsaaklike dienste, soos oorgrensvragmotorbestuurders.

Vragmotorbestuurders het die land se lewenslyn geword, omdat hulle op ’n daaglikse grondslag kos en mediese voorrade vervoer.

Die optrede waaraan hulle deur die owerhede en by grensposte onderwerp word, is egter minder as dié van helde.

’n Ondersoek deur Namibian Sun het vasgestel Covid-19 plaas ’n geweldige las op die gesinne van oorgrensvragmotorbestuurders – sodanig dat eens liefdevolle huise bedreig word of in die dieptes van depressie gedompel word.

WAAR IS PAPPA?

’n Vrou van ’n vragmotorbestuurder het op voorwaarde van anonimiteit in trane vertel hoe haar man hul huis verlaat het om te gaan werk, kwalik ’n maand nadat hul seun gebore is.

“My kinders is mistroostig. Ek is ook siek weens die ekstra druk op my. Ons het ’n drie maande oue baba, en vanweë my geestestoestand kan ek nie my baba borsvoed nie. My vyfjarige kan nie verstaan hoekom pappa nie huis toe kan kom nie,” het sy snikkend vertel.

Sy is een van talle vroue wat huishoudings bymekaar moet hou wat dreig om uitmekaar te val vanweë die emosionele druk.

Nog ’n vrou van ’n vragmotorbestuurder wou weet hoekom hul mans in kwarantyn moet bly, terwyl laaipersoneel toegelaat word om huis toe te gaan.

Sy het laas in Maart vanjaar haar man gesien en word deur haar kinders daarvan beskuldig dat sy hul pa van hulle weghou.

TOENEMENDE STIGMA

Mnr. Alexander Bauleth, ’n vragmotorbestuurder, sê hulle keer terug uit Botswana met geloofwaardige toetsuitslae, maar word verbied om huis toe te gaan.

Volgens hom kry hulle nie oortuigende verduidelikings oor hoekom hulle nie huis toe mag gaan nie.

Hy sê baie van sy kollegas is depressief en oorweeg dit om die tuig neer te lê.

Hy beskuldig boonop die polisie van onprofessionele gedrag teenoor lorriedrywers.

REËLS IS REËLS

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het benadruk volgens die bestaande reëls moet elkeen wat terugkeer na Namibië twee weke in kwarantyn deurbring.

Boonop sê hy dit is nie raadsaam om vragmotorbestuurders toe te laat om tuis te kwarantyn nie.

Volgens hom is van dié mense se omstandighede nie gunstig daarvoor nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!