Lorriedrywers wag ure by padblokkade
Lorriedrywers wag ure by padblokkade

Lorriedrywers wag ure by padblokkade

Vragmotorbestuurders en ander reisigers daag volgens die polisie by padblokkades op sonder dat hul dokumente in orde is.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die rede waarom lorriedrywers gister vir ure lank by die padblokkade noord van Okahandja moes wag om deur te beweeg nadat vragmotors kilometers ver opgehoop het, word gedeeltelik voor hul eie deur gelê.

Adj.komm. Kauna Shikwambi, nasionale polisiewoordvoerder, het bevestig net een digitale koorsskandeerder was by die padblokkade in gebruik. Sy het egter daarop gewys dat die lang gewag dikwels ook die lorriedrywers en motoriste se eie skuld is.

“Hulle daag op met elektroniese weergawes van die nodige dokumentasie op selfone, terwyl hulle gedrukte weergawes moet toon.

“Soms het hulle nie die ondersteunende dokumentasie wat nodig is nie, of hul permitte is nie onderteken nie,” het sy gister by navraag verduidelik.

“Hulle moet voorbereid opdaag en die regte dokumente hê.”

Vragverkeer het vir etlike kilometers aan weerskante van die padblokkade noord van Okahandja opgehoop. Sommige vragmotorbestuurders het van 06:00 af tot 14:00 gewag om te kon deurbeweeg.

In die lang ry was onder meer 5 vragmotors wat met altesaam 700 speenkalwers na Karan Beef se voerkraal in Suid-Afrika onderweg was.

Mnr. Timo Giersth van Cattle Runners sê ’n ses of agt ure lange oponthoud soos daardie kan tot vrektes lei.

“Die beeste is normaal sowat 24 uur op die lorries voordat ons hulle in Suid-Afrika aflaai. As hulle 30 uur op die lorries is, kan vrektes begin voorkom,” het hy gesê.

Tussen 08:00 en sowat 14:00 het die ry vragmotors so lank geword dat dit verby die Hochfeld-afdraaipad gestrek het, het Giersth oor die lang ry lorries in die rigting van Otjiwarongo gesê.

Jet-x Couriers was met medikasie onderweg na die kus, en is Woensdagaand aangesê om by die westelike padblokkade buite Okahandja te oornag.

Volgens Shikwambi moet vervoermaatskappye kennis neem dat die mediese personeel wat die gesondheidskanderings doen, net tot 22:00 aan diens is.

“As ’n vervoerder later as dit by die padblokkade aankom, moet hy aftrek en daar oornag.”

Die mediese personeel se skofte begin 08:00 bedags.

Kommer is gister op verskeie platforms in die sosiale media uitgespreek oor die impak wat die nasionale staat van inperking op vragvertragings gaan hê. Vragmotors gaan deur veel meer padblokkades beweeg waar soortgelyke vertragings soos gister kan voorkom. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!