Lughawe-tender in hooggeregshof
Lughawe-tender in hooggeregshof

Lughawe-tender in hooggeregshof

President en ander appelleer teen Chinese maatskappy oor multimiljard-tender.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Regspraktisyns het Vrydag hul argumente aan hoofregter Peter Shivute en appèlregters Sylvester Mainga en Dave Smuts in die hooggeregshof in Windhoek voorgelê.

Dít in 'n appèl wat deur pres. Hage Geingob en twee ander partye teen die Chinese maatskappy Anhui Foreign Economic Construction Group Corporation (Anhui) aanhangig gemaak is. Die saak gaan oor die kontroversiële multimiljard-dollar lughawe-opgraderingstender wat aan Anhui toegeken is. Die regters het hul uitspraak voorbehou en dit is nog nie bekend wanneer die uitspraak gelewer sal word nie.

Geingob en die ministers van finansies en van werke en vervoer het teen 'n hoërhof-uitspraak wat in September 2016 gelewer is, geappelleer. Dié uitspraak van regter Shafimana Ueitele het die minister van werke en vervoer se opdrag om die tenderproses vir die opgradering van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako te staak, ter syde gestel en ongeldig verklaar.

Ueitele het bevind die minister van werke en vervoer het nie in ooreenstemming met die Lughawensmaatskappywet opgetree nie, en ook nie sy diskresie uitgeoefen toe hy in opdrag van die president dié reusetender gekanselleer het nie.

Anhui het op 27 Junie 2014 'n tender vir die opgradering en uitbreiding van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako ingedien wat later aan hulle toegeken is.

Gedurende Desember 2015 en vroeg in Januarie 2016 het verskeie Namibiese koerante berig oor die beweerde verontagsaming van statutêre voor­skrifte deur die Lughawensmaatskappy (NAC), oor die prokureur-­generaal nie goedkeuring vir die projek verleen het nie, oor beweerde omkopery en korrupsie aan die kant van Anhui is en oor mededingende tenders glo ­geïgnoreer is.

Na aanleiding van hierdie bewerings oor ongerymdhede in die toekenning van die tender aan Anhui, het Geingob bekend gemaak dat die toekenning van die tender van US$477 miljoen (ongeveer N$6,2 miljard), gekanselleer sal word.

Die minister van werke en vervoer het daarna die NAC in Desember 2015 opdrag gegee om die tenderproses vir die opgradering en uitbreiding van die lughawe te kanselleer, sodat die tenderproses van nuuts af kan begin.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!