Lugvaartbedryf meen Puma het hom ingeloop
Lugvaartbedryf meen Puma het hom ingeloop

Lugvaartbedryf meen Puma het hom ingeloop

Prysverlaging van ruolie nie aan verbruiker oorgedra nie
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Vliegtuigoperateurs en -eienaars het meer as 18 maande gelede reeds pleidooie aan Puma Energy gerig om die vliegtuigbrandstofprys vir sowel Jet-A1 en Avgas te verlaag by alle lughawens waar die maatskappy brandstof voorsien.
Die lugvaartbedryf het voorgestel dat die brandstofprys min of meer dieselfde as dié van ander verskaffers van vliegtuigbrandstof se pryse en ook die prys van Brent-ruolie moes wees.
Voorts is voorgestel dat die bedryf maandeliks op die hoogte van internasionale markte en verwagte prysverwikkelinge gehou moet word.
Puma Energy het nie aan een van die versoeke voldoen nie.
Dit blyk uit ’n voorlegging wat lede van die Namibiese lugvaartbedryf in Januarie 2015 aan Puma Energy gedoen het.
Die bedryf wys onder meer daarop dat Southern Energy Company op daardie tydstip Jet-A1 vliegtuigbrandstof teen N$10,78 per liter op Katima Mulilo se Mpatcha-lughawe­ verkoop het, teenoor die N$13,85 per liter wat Puma Energy op Eros-lughawe gevra het, ’n prysverskil van N$3,07 per liter.
Op Walvisbaai was die koste N$4,70 per liter goedkoper vir Jet-A1 –brandstof en N$2,75 per liter goedkoper vir Avgas as waarteen Puma Energy op Eros-lughawe dit verhandel het.
Verteenwoordigers van die lugvaartbedryf het tydens verlede jaar se vergadering ook daarop gewys dat die enigste verlaging wat deur Puma Energy aangekondig is, op 13 Oktober 2014 was toe ’n verlaging van N$1,00 aan verbruikers toegestaan is. In Oktober het die prys van Brent-ruolie op US$90,57 per vat gestaan en die Namibiese dollar het teen 11,1 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel.
Teen Januarie 2015 was die prys van Brent-ruolie af na US$51,06 per vat en die Namibiese dollar het teen 11,71 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel. In die voorafgaande 12 weke het die olieprys met 41 persent gedaal.

vergelykende studie
In die vergadering met Puma Energy is daarop gewys dat Brent-ruolie se prys tussen Julie 2014 en Januarie 2015 met meer as 50 persent gedaal het, terwyl die prys wat Southern Energy Company vir Jet-A1 gevra het, in dieselfde tyd met 25 persent afgeneem het.
Volgens die aanbieding is die prys van Jet-A1 brandstof op Eros-­lughawe en die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, die duurste in die land en dit kos N$2,60 per liter meer as op Tsumeb, N$3,07 meer as op Katima Mulilo en N$4,70 per liter meer as op Walvisbaai.
’n Vergelykende studie tussen die prysverskille by die verskillende lughawens tussen Julie 2014 en Januarie 2015 gee ’n aanduiding van hoe min of geen prysverlagings vanweë die dalende prys van Brent-ruolie aan plaaslike verbruikers toegestaan is. Op Eros-lughawe het ’n liter Jet-A1 brandstof in Julie 2014 N$13,85 gekos en in Januarie 2015 presies dieselfde. Dit was ook die geval op Ondangwa-lughawe waar die prys in sowel Julie 2014 en Januarie 2015 N$14,70 was.
Op Walvisbaai het die prys van N$12,40 in Julie 2014 tot N$9,15 in Januarie 2015 gedaal; op Luderitz van N$13,83 tot N$11,61; op Tsumeb van N$13,46 tot N$11,25; op Oranjemund van N$14,17 tot N$10,78 en op Swakopmund van N$12,56 tot N$9,38.
Die pryse wat plaaslike vliegtuigoperateurs en -eienaars­ vir Jet-A1 in Januarie verlede jaar op Eros-, Hosea Kutako en Ondangwa-lughawe betaal het, is aansienlik meer as wat dit op Kaapstad- en die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg of by Lanseria naby Pretoria is.
Voorbeelde word ook genoem van ’n kliënt op Eros-lughawe wat gemiddeld 45 000 liter Jet-A1 per maand gebruik. Indien hy op Tsumeb ge­stasioneer was, sou hy maandeliks N$117 550 aan Jet-A1-koste bespaar het. Was hy op Swakopmund gestasio­neer, sou sy maandelikse besparing N$201 150 beloop het.
Indien ’n vliegtuig wat op Eros ge­stasioneer is en ’n brandstoftenkkapasiteit van 1 400 liter het, Walvisbaai toe vlieg om daar brandstof aan boord te neem, sou selfs met die heen- en terugvlug se koste en brandstofverbruik, ’n besparing van N$1 732 teweeg gebring word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!